Reünie van eerste matriekklas van HTS John Vorster ‘n viering van goue oomblikke
Herinneringe aan Voortrekkerkampe, 'n streng skoolhoof en dae op die krieketveld was aan die orde van die dag toe lede van die eerste matriekklas van Hoër Tegniese Skool John Vorster bymekaar gekom het.
Toe die Hoër Tegniese Skool John Vorster amptelik sy deure vir die eerste keer in die Moot in 1962 geopen het, het ’n groep senuweeagtige leerders in die rye as standerd sessies ingeval onder die streng blik van die skoolhoof Chris Moll.
Elf van die leerders wat in 1966 daar gematrikuleer het, het onlangs bymekaar gekom aan huis van die organiseerder, Johan van de Wetering, in die Moot nadat hulle talle jare kontak behou het.
Daarvandaan het hulle te voet na hul alma mater net om die draai gestap.
Die huidige skoolhoof, Antoinette Dowd en sekretaresse Luna Roberts, het die oud-skoliere vriendelik by die skool ontvang.
Die alumni is aan die leerders voorgestel, waarna hulle op ’n toer deur die ou skoolgeboue en -terrein gestap het.
Van de Wetering sê dit was ’n wonderlike voorreg om op die terrein te kon rondstap.
“En om ou herinneringe met mekaar te kon deel!” sê hy.

Talle van die oud-leerders het veral teruggedink aan Moll, die streng skoolhoof.
Van De Wetering onthou hoe Moll altyd na die skool as “My Skool, my Personeel” verwys het en direk verantwoordlikheid vir die leerders se vordering en die skool se groei geneem het.
“Die onderwys was en is steeds van hoogstaande gehalte. Van ons oud-leerders se seuns en nou ook kleinseuns, is ook na ons alma mater gestuur,” sê Van de Wetering.
Louw Penning het tydens sy toer in Suid-Afrika vanaf sy nuwe tuiste in Nieu-Seeland tyd gemaak om saam die geleentheid te kom vier.
“Die skool en personeel het bygedra om my voete na my nering in die lewe, die van ingenieur, te rig,” sê Penning.
Hy meen dat veral die skoolhoof het hom gemotiveer om sukses te behaal.
Vir Ken Becker is dit veral die skoolkadette se oefeninge en die sport wat goeie herinneringe meebring.
“Ek sou ook mettertyd die Noord-Transvaal Raadtal se span haal en dit was te danke aan die puik afrigting,” bevestig Becker.
Die Raadtal is die outydse benaming vir ’n span wat provinsiale kleure gekry het in die sestigerjare.
Klaas Coetzee herinner hom weer aan die deelname van die groep dansers wat in 1964 by die eerste Suid-Afrikaanse Spele verskeie vorms en figure op die veld in kleur en met beweging moes uitgespel het.
“Dit was omtrent ’n werk vir die onderwyser wat dit moes uitwerk en vir ons wat weke daaraan geoefen het!” lag Coetzee.
Die Voortrekkers en hul kampe by die reservoir is ’n aangename herinnering vir Willie Vos.
“Ons het saam in die berg hier by die skool geslaap en snags patrollies gedoen,” onthou Vos.
Hy voel ook dat sy loopbaan as wetenskaplike in ’n tegniese veld by Pelindaba ook by die skool beslag gekry het.
“Al die onderwysers op my pad by die skool het hiertoe bygedra en ook dat ek later as lektor weer hierdie kennis sou kon oordra. Die streng dissipline wat toegepas is, het ons geleer om self ook gedissiplineerd te lewe,” sê Vos.
Anton Claassens se pad sou nie in ’n tegniese rigting loop nie. Hy het hom teologies bekwaam en sendingwerk in Afrika gedoen.
Hy skryf egter hierdie toewyding en vasberadenheid wat hy vir sy loopbaan moes aan die dag lê, toe aan sy skoolopleiding.
“Ek het op HTS John Vorster geleer as jy iets wil hê, moet jy daarvoor baklei,” sê Claassens.
Wonderboompoort-GPF spring in om park vry van misdaad te kry
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

