Verteller kry self rillings oor sy geheimsinnige verhale
'n Bobaas storieverteller vleg stories oor Pretoria se geskiedenis, misdaad en spoke soomloos en vermaaklik saam, maar dit is geen geskiedenisklas-op-wiele nie.
Vir Pretoria joernalis en akteur, Jaco Hough-Coetzee, was dit nog altyd maklik om stories te vertel.
Veral as daar ’n kinkel in die kabel is.
Hierdie vaardigheid is sedert sy laerskooljare geslyp, meen die verbeeldingryke Hough-Coetzee.
“Ek kon my verluister aan volwassenes se vertellings tydens kuiers aan huis,” antwoord hy.
Hy onthou ook die spookstories van Langenhoven waaraan sy oupa hom blootgestel het.
“Ek onthou hoe ek daarna, en tot vandag toe nog, hoendervleis kry as mense hul ervarings van die geesteswêreld – of sogenaamde spoke – met my deel,” verduidelik Hough-Coetzee.
Hy het onlangs met sy spook- en misdaadstories as gids opgetree op ’n Pretoria Spookbus-uitstappie waartydens daar gestop is by plekke soos die imposante Erasmushuis in Erasmuskloof.
Elke genre van storievertelling het sy eie styl volgens Hough-Coetzee.
Hy is veral aangegryp deur die verhaal van tannie Magdaleen wat ’n permanente inwoner van die Victoria Hotel in die middestad van Pretoria was. Die hotelspook, Elfie, het blykbaar gereeld aan haar verskyn.
“Tot die nag toe die soldaatspook van die Pretoria-stasie wat oorkant die hotel is, ’n vuurwapen op haar gerig het,” sê Hough-Coetzee geheimsinnig.
Hy laat verdere besonderhede, soos ’n dramatiese storieverteller nou maar eenmaal doen, vir eers daar.
Hy het al die navorsing vir die vertellings gedoen en die teks vir die Storie-op-wiele busrit geskryf. Die stories is gebaseer op ware verhale.
Eric Bolsmann se boek Ghosts of Pretoria was die een publikasie waaruit hy gewerk het om sy verhale af te rond en die toer te beplan.
Die toer het ook besoeke aan geskiedkundige plekke soos Kerkplein ingesluit, waar hy die gordyn op die stad se geskiedenis oopgeskuif het.
“Die geskiedenis van Pretoria word subtiel ingeweef sodat die gaste inligting kry sonder die gevoel dat dit ’n geskiedenisklas is.”
Nog ’n bonus is ’n blik op Pretoria se bekendste misdaadstories. Hy probeer egter doelbewus om nie net ter wille van effek skokkend te wees nie.

Een van hierdie stories is die feitelike verhaal rondom van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff.
Die Teater-op-wiele ry dan ook gewoonlik vanaf Kerkplein tot Malherbestraat, Capital Park, waar die paar gewoon het.
Kerkplein is die plek waar die 16-jarige Joan Booysen in Januarie 1990 ontvoer is. Haar latere ontsnapping het ’n einde gebring aan een van Suid-Afrika se mees dramatiese en skokkendste misdaadverhale oor hoe Van Rooyen en sy saambly-vrou, Haarhoff, tussen 1988 en 1990 sewe minderjarige meisies gewetenloos ontvoer het.
Mense wat die afgelope naweek saam op die Spookbus gaan ry het, het sy vertellings terdee geniet.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
