Tien dae van rillerpaaie vir Pretoria-motorfietsryers op pad na Madrid
Die twee dokters het uiteindelik die weste van Afrika bereik, met ’n geswoeg en gesweet.
Expedition H2O, die epiese motorfiets-liefdadigheidsekspedisie van Pretoria na Madrid, het Nigerië en ander Wes-Afrika- lande veilig bereik.
Die span is nou in Ghana nadat hulle dit deur Benin en die verraderlike modderige en bergagtige terrein in Kameroen en Oos-Nigerië gemaak het.
Net meer as sewe weke gelede, op 16 September, het twee ou vriende van die Sonop Koshuis, Moot-inwoner dr. Jean Cooper en dr. De Witt Oosthuizen, ’n motorfietsreis van 16 000km vanaf Pretoria, langs die Weskus van Afrika, na Madrid aangepak.
Cooper is ’n wêreldbekende organisasie-sielkundige, wat die hoof Mense -en Kultuurbeampte by die Fintech-maatskappy Direct Transact is, terwyl Oosthuizen ’n bekroonde noodgeneeskundige dokter van Wangaratta in die Australiese agterveld (Outback) is.
Die duo deurkruis sowat 20 Afrika-lande, deur modderige riviere, sand en hitte, oor berge en langs lang stukke oop pad, ten bate van die Direct Transact Foundation se waterverligtingsinisiatiewe vir benadeelde gemeenskappe in die landelike Vrystaat.

Hul doelwit is om R3.2-miljoen, oftewel R200 vir elke kilometer wat hulle ry, in te samel.
Dit sal hul koste dek en ’n verdere 100 tenks installeer – genoeg om water aan 4 800 mense te voorsien.
Cooper vertel dat op dag 31 en 32 op die reis van Kameroen se hoofstad Yaounde na Foumdan in Kameroen, het vir hom gevoel soos toe hulle in Luanda en Brazzaville en Matadi en elke ander groterige dorp, op die pad probeer bly het.
“Die pad bly ’n nagmerrie. Ek dink een van die grootste risiko’s op ’n toer soos hierdie is om in die stadsverkeer ’n ongeluk te maak. ’n Splitsekonde van konsentrasie verloor, en dis verby,” vertel Cooper.
Die motorfietse se onderhoud het al die vorige 30 dae ook aandag geverg, maar was skielik ’n prioriteit.
Bande moes geruil word en die twee motorfietsryers is deur ene Didier in Yaounde gehelp en kon boonop ’n hamburger te ete kry.
“Ons het hierdie ruspose, en bietjie gerief, nodig gehad. Ons is produkte van ons wêrelde, en die wêreld waaruit ons kom is nie naastenby so hard soos dié een nie,” meen Cooper.
Die volgende oggend, op pad na Foumdan, het beide besef hulle is binnekort op die modderpad oor die Nigeriese grens.

Maar eers moes hulle van Foumdan na Mayo-Darli op dag 33 kom.
Hulle was nie verniet lugtig vir die modder op die paaie nie. Oosthuizen moes ’n rooinat Cooper en sy fiets uit ’n modderpoel help.
Later gly hy weer en sy enkel buig verkeerde kant toe, ’n besering wat lastig sou raak, maar hy kom gou reg.
Dit neem die twee die hele dag om die 100km te voltooi, want hulle ry in tweede rat, heen en weer oor die modderpad om die slaggate te vermy.
“Elke val maak mens moeër, dan konsentreer mens nie ordentlik nie, dan val mens weer,” vertel Cooper.
Die volgende dag op het die teerpad uit Gembu, al langs die Malimba Plato, vir die twee ryers soos die N1 gevoel in vergelyking met waardeur hulle die vorige paar dae is.
Elke nou en dan is hulle deur ’n klein dorpie, wat maar soos baie van die dorpies lyk waardeur hulle al is: zoemponies wat toet-toet, bokke, stalletjies langs die pad, wemelende mense wat wuif en roep en vele padblokkades totdat hulle die woorde hoor: “Welcome to Nigeria! Where are you from? With this bike?”
Die aand kon hulle by ’n motel na Springbokrugby oor RSG luister met die Bokke wat net-net teen Engeland wen.
Maar in Nigerië van Mayo-Darli na Gembu kom die ware uitdagings.

Cooper verduidelik daar is nie ’n pad van Mayo-Darli na Gembu nie. Net ’n sloot, berg op en af, wat só uitgekalwe is van erosie dat die skeure op plekke meters diep is.
In ’n stadium stop Oosthuizen voor hom en skree: “Stop tjomma! Stop!”
Een vlugtige kyk na die afgrond, een glips van die wiele in die modder, en die reis is verby, besef Cooper.
Net toe kom Panyo, ’n Barmhartige Samaritaan, verby. Met De Witt en Panyo se hulp stu hy voort en hulle kry oorgeslaap in ’n hut.
Die volgende dag neem ’n twee-ure lange rit hulle vyf ure, maar uiteindelik is hulle in Gembu.
Voor hulle vertrek het Cooper en Oosthuizen uitgespel hoe hulle elke drie dae sou rus maar op dag 37 van Bali na Makurdi was dit weer ’n langverlore droom.
Dit was die agtste dag in ’n ry wat hulle op die modderpaaie was.
“Die pad is ’n sif van al die slaggate. Dan skielik weer mooi. Dan weer sleg,” vertel Cooper.
Buite Akurdi het David en Benedict van die motorfietsklub vir hulle met twee groot BMW-fietse ingewag.
Hulle neem die twee Suid-Afrikaanse ryers na nóg ’n motorfietsman se hotel in die dorp vir rus en versterkings.
Op dag 38 en 39 het hulle meer energie.
“Ons laaglê-dag in Makurdi het wondere gedoen. Ons motorfietse en sakke en klere was behóórlik gewas. My truspieeltjie wat in die berge afgebreek het, is reggemaak,” vertel Cooper dankbaar.
Na verskeie padblokkades en ondersoeke kom hulle in Abuja aan waar voetgangers, diep slaggate, vragmotors, tuk-tuks en zoemponies hulle weg moeilik maak.
Maar uiteindelik die verligting: Hulle is halfpad na Madrid! Nou net vir Dag 40 se pad van Abuja na Kabba maar beide was moeg.
“Die trip vat meer uit mens uit as wat mens besef,” meen Cooper in Kabba.
In die volgende dorp, op dag 41, Akure, sou hulle ’n plan moes maak om ’n draadjie te bind met insulasie-kleefband want Oosthuizen se fiets se gevorderde remstelsel het nie meer gewerk nie. ’n Jong motorfietsryer kon handjie bysit.

Nou het Abeokuta gewink en daarna Benin. Die twee motorfietsryers het nou 10 000km afgelê.
Op 1 November het Cooper laat weet in Abeokuta het die plaaslike motorfietsklub hulle ontvang.
Die stres om skielik en onwaarskynlike glanspersoonlikhede op hul Afrika-reis te wees, het hulle ook hier oorval.
“Ons wou net rus ná ’n lang dag se oorweldigende verkeer en hitte. Maar ons poseer alweer vir foto’s. Al wil ons mooi saamspeel, raak ons glimlagte al meer aangeplak,” verduidelik hy.
Die afgelope paar weke het hulle ontelbare modderige riviere oorgesteek, insluitend die Kongorivier met hul fietse fyn gebalanseer op uitgekerfde kano’s en vlotte, en selfs in ’n dorpshoof se opstal op die grens van Kameroen en Nigerië naby die Dongarivier gebly.
“Ek sou sê die vyf grootste hoogtepunte van die reis tot dusver was om gorillas op die pad in die Kongo teë te kom, die vriendelikheid en gasvryheid van mense langs die pad, ongelooflike goeie teerpaaie, die Kongorivier en die kruising van die ewenaar,” sê Cooper.
Tot dusver het die reis deur suidelike Botswana, noordelike Namibië, Angola, DRK, Kongo, Gaboen en Kameroen, Nigerië en Benin gegaan.
Ná Benin is hulle na Togo en Ghana, (waar hulle tans is), en hierna is dit die Ivoorkus, Guinee, Senegal, Mauritanië, Wes-Sahara, Marokko en uiteindelik Gibraltar en Spanje.
– Om by te dra, skenk deur Back-a-Buddy (tik ExpeditionH2O in).
– Kliek hier vir videomateriaal oor die oorgang oor riviere van die twee motorfietsryers: https://www.facebook.com/reel/1033017461079156
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
