Local news

Vyfsterwenner vir SterStatus-werklikheids TV-program

Vanjaar se SterStatus TV-programwenner glo die kompetisie het vele nuwe deure vir haar oopgemaak: Die van TV-aanbieder, model en sakevrou.

Die wenner van die SterStatus TV-talentprogram, Montana se Nidette Nortjé, glo sy was bestem om op hierdie program te beland sodat sy dit as platform kan gebruik om haar drome te verwesenlik.

Maar die pryse wat sy gewen het, soos masjiene om ’n skoonheidsalon te open, het vir die voormalige assistent in die motorbedryf ook ’n geleentheid geopen om haar dalk in die toekoms as sakevrou te onderskei.

Dit is ’n taak waarin sy haar reeds met haar musiekbesprekingsagentskap goed van gekwyt het.

Van kleintyd droom die oudleerling van Hoërskool Montana van ’n lewe in die vermaaklikheidswêreld.

Sterstatus het tydens 13 episodes aan elke moontlike aspek daarvan blootstelling aan deelnemers gegee, maar ook ’n uitdaging aan die deelnemers gestel.

“Ek het ingeskryf omdat die verskillende uitdagings my ’n geleentheid sou gee om te kan kies waar in die vermaaklikheidswêreld ek myself kan sien,” sê sy.

Sy het haar nie verniet in drama op skool uitgeleef en ook dramaklasse geneem nie.

Haar voorgevoel om deel te neem was in die kol. Volgende jaar sal sy as die wenner van vanjaar se program die aanbieder van SterStatus 2024 wees.

“En dit was my droom – om ’n TV-aanbieder te wees.”

Sy lag vir haarself oor die ander dissiplines in die vermaakwêreld waarin sy nie so gekonfyt is nie.

Haar gedagtes gaan na optredes tydens skoolrevues. Sy lag heerlik met ’n stewige skeutjie selfspot daaroor.

“Alhoewel ek ’n passie vir sing het, is dit nou een ding wat ek nie op die verhoog sal kan doen nie.”

Haar senuwees het ernstig gepla toe sy die uitdaging moes voltooi om ’n radio-omroeper te wees.

Haar opdrag was om op die lug aan te kondig die paashaas is oorlede.

“Daar was mos ’n kinkel in die kabel met elke uitdaging, maar wat ’n vreemde opdrag! Ek het ongelukkig ’n oomblik van breinvoosheid gehad, maar kon darem weer my balans terugkry en die kamma-afsterwe ewe doodluiters aankondig,” lag sy.

Nidette Nortjé en Pieter Strydom.

Die speelveld is eintlik gelyk met sulke kompetisies, glo sy. Indien jy iets het wat jou kan onderskei, moet jy dit kan inspan.

“Almal wil wen. Ek het besluit om die tydjie te geniet. Ek wou iets gehad het om vorentoe te onthou. Die Here het my ook die krag en genade gegee om die moeiliker oomblikke op stel deur te sien,” sê sy nadenkend.

Haar seuntjie Luan (3) se pittigheid dra haar ook dikwels.

“Hy leer ons nou allerhande snaakse idiome en is natuurlik mal oor sy juffrou en sy ouma,” verduidelik die prettige ma.

Een van die afdelings waarin deelnemers ook moes kompeteer, was om in ’n groep ’n welsynsprojek aan te pak. Sy voel haar groep het daarin geslaag om van hul projek vir die welsynsorganisasie Matla A Bana ’n sukses te maak.

“Ek glo aan vrouebemagtiging en dat vroue mekaar moet ondersteun,” meen Nortjé.

Ondersteuning is ’n woord wat die saghartige en liefdevolle vrou dikwels gebruik, veral as sy na die liefde in haar lewe, sanger Pieter Strydom, langs haar kyk.

“Hy ondersteun my droom. My hegte gesin is ook my valnet. My broer Burger glo in my, my pa Burger ook alhoewel hy ook soos ek gedink het ek moet liewers nie sing nie, en in my ma Estelle se oë kan ek niks verkeerd doen nie,” grap Nortjé.

Nog iets wat die lank en slanke blondine nou onder die knie moet kry, is om vir fotosessies te poseer en haar goed van haar taak as fotografiese model te kwyt aangesien sy nou ambassadeur is vir die klerehandelsmerk, Lee Cooper.

Wanneer sy wil ontspan, maak sy tyd vir saamwees met familie, gaan sy op visvanguitstappies, speel sy met haar twee Pekinese honde of drentel sy graag op vlooimarkte.

Sy sien kans vir al die nuwe horisonne in haar lewe.

“Ek glo mens moet selfgeldend met selfvertroue kan optree sonder dat jou ego ’n rol speel. Bly altyd jouself.”

– Kliek hier om die volledige onlangse seisoen van SterStatus te sien: https://sterstatus.co.za/

Lees: Food safety inspections address the over R16m lost to Tshwane’s illegal spaza shops

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button