Klein Eben pronk spoggerig in nommer vier-trui as nuwe lid van Monument-trop
Die Voortrekkermonument se plaastrop is onlangs uitgebrei met 'n nuwe aankomeling wat terstond 'n naam gekoppel aan die Bokke gekry het.
Die Voortrekkermonument het laas maand ’n splinternuwe babadwergbokkie verwelkom.
Dié kleinding is na die rugbyheld Eben Etzebeth vernoem, ná die Springbokke se ikoniese wen teen Nieu-Seeland op 28 Oktober.

Mediabeampte Anneke Langner voel hierdie vernoeming is veral gepas, nadat Eben se eggenoot Anlia aangekondig het dat daar ’n klein Etzebeth op pad is.
Anlia het die nuus bekendgemaak na die Bokke se oorwinning in die Rugby Wêreldbekertoernooi met ’n foto van haar op Instagram waar sy haar swangerskap wys met ’n swangerwees Emoji daarby.
Sy het haar dankbaarheid so uitgespreek: “Seëninge op seëninge, Dankie Here!”
“Die Voortrekkermonument ondersteun die Springbokke met trots en daarom het ons besluit dat klein Eben sy eie nommer 4-truitjie moet kry,” sê plaasbestuurder Michael Barnard.

Die boorling van Fochville, waar hy by sy oupa Henk Coetzer op Kaalplaas meer van boerdery geleer het, is trots om die nuwe aankomeling in sy eerste twee maande as nuwe plaasbestuurder te kan verwelkom.
“Dit is kostelik om die bokkie in sy Springboktrui te sien rondhardloop en speel,” sê Barnard.
Klein Eben is nou twee maande oud en sy ma heet Snoekie.
Agter die vaderskap word nog ietwat van ’n vraagteken geplaas met die twee ramme, Rammetjie en die ander een, Uit-Nek, as voorlopers in die vaderskapresies.
Die Monument se Pionierswerf het ’n spogplaas met boerperde, Shetland-ponies, varke, dwergbokkies, Dorper-skape, en verskeie pluimvee soos ganse en makoue waarvoor Barnard verantwoordelikheid neem.
Besoekers het toegang tot die plaasgedeelte en kan sien hoe hulle versorg word en die diere voer.
Barnard het tydens die onlangse Opedag op Erfenisdag in September talle besoekers oor die plaas-afdeling ingelig en veral kinders het geleer hoe om op die boerperde ’n entjie te ry.
“Ek hou daarvan om die kinders meer van diere te leer en dis maklik. Hulle hou veral daarvan as ons hulle leer op maniere wat hulle kan onthou soos dat ’n varksog binne drie maande, drie weke en drie dae kleintjies kan kry. Ons wil toeganklike inligting kan deel,” verduidelik Barnard.
Sy gunsteling is egter ook die boerperde, aangesien hy ’n puik ruiter is en die perde “elkeen ’n pragtige persoonlikheid het”.
Die perde is Koning, Pat, Jasper, Kaviaar en Hannibal en is vir die terrein geskenk deur Mooikrans Opleiding Instituut, geleë tussen Amersfoort en Morgenzon in Mpumalanga.
Hulle word ook aangewend vir sekuriteitsdoeleindes op die terrein en vir heerlike ritte vir die publiek.
.Al die perde is gebruik in Mooikrans se opleiding van studente in perdondersteunde terapie en hulle is ook baie ure met kinders met spesiale behoeftes in die arena toevertrou. Hulle is dus deeglik geskool om met mense, en veral met kinders, te werk.
“Dit is absoluut noodsaaklik om perde by die monument te hê, nie net omdat hulle ’n geliefde deel is van die monument se geskiedenis nie, maar omdat perde ’n onmiskenbare rol gespeel het in ons geskiedenis, regdeur die Groot Trek tot nou,” sê Barnard.
– Kliek hier om Anlia Etzebeth se inskrywing te sien: https://www.instagram.com/p/Cy90k59ouGT/?utm_source=ig_embed&ig_rid=9bc9347e-d4bc-4fbe-9cd0-b58228dfc6d2
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
