Ikoniese Afrikaanse liedjie nou spil van musiekblyspel
“Ons het gedink kom ons bring ons eie musiekgunstelinge verhoog toe,” sê Renier Keyser.

Dit het een oproep van ’n gesaghebbende artistieke direkteur, vertroue van ’n vervaardigerspan in hul vaardighede en ’n half-voltooide draaiboek geneem om Afrikaans weer op die planke van die Opera-teater se verhoog in die Staatsteater te kry.
En so is ook die waarde van ’n romantiese geskenk beklemtoon in ’n stryd om iemand se hart te wen.
Lisa se Klavier is die eerste Afrikaanse blyspel in ’n geruime tyd wat by die Staatsteater nog vir ’n paar vertonings te siene is.

Die première is op 4 November aangebied.
Die tema is een van die oudstes in die vermaakwêreld: Gaan ware liefde seëvier?
Aubrey W. Sekhabi, die artistieke direkteur van die Staatsteater, sê die teater wil alle Suid-Afrikaanse kunstenaars ’n geleentheid gun om die wêreld met hul talente te verryk.
“Ons verteenwoordig graag al die gemeenskappe in Suid-Afrika,” verduidelik Sekhabi.
Hy wys uit dat veral met al die infrastruktuurvernuwing in die teater na Covid-19, is dit belangrik vir die bestuur om voete terug na die stad en die teater te lok.
“Ons wil ’n teater hê wat opwindend en verwelkomend is. Dit word gewys in ons nuwe hipermoderne klankstelsel, ligte- en kameratoerusting. Ons poog voortdurend om ons aanbieding te verbeter,” sê Sekhabi.
Hy het vier maande gelede tydens ’n telefoonoproep opdrag aan Add-Life Productions gegee om die splinternuwe Afrikaanse produksie op die planke te kry.

Die produksiemaatskappy het reeds die Sneeuwitjie en Aspoestertjie produksies in die teater aangebied.
“Hierdie maatskappy werk reeds lank hand aan hand met ons om hulle kennis en vernuf terug te ploeg in die Staatsteater se ontwikkelingsprojekte. Hulle het ’n houding van professionalisme en ’n hart om saam te bou aan teater in Pretoria. Ons deel hulle geesdrif om die kunste in al sy verskeidenheid te sien groei,” wys Sekhabi uit.
Vir musiekblyspelvervaardigers, Renier en Lise-Marie Keyser van Add Life Productions, was Sekhabi se oproep welkom.
Die gedugte Keyserspan, vervaardigers van produksies soos Houtkruis en Liefling, was opgewonde oor Sekhabi se oproep.
Gelukkig, soos enige goeie draaiboekskrywer, het Renier ’n halfvoltooide teks in sy linkerkantste onderste laai gehad wat net afgerond moes word.
Hulle meen Afrikaanse musiek, veral verwerkings van nostalgiese liedjies, beleef tans ’n oplewing en het die stoute skoene aangetrek om die produksie bykans oornag gestalte te gee.
“Ons het gedink kom ons bring ons eie musiekgunstelinge verhoog toe,” sê Renier.
Die storielyn van Lisa se Klavier word ingekleur deur Afrikaanse treffers, oud en nuut soos die nostalgiese treffers van Koos Kombuis, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen en Amanda Strydom.


Nuwe liedjieskrywers word verteenwoordig deur Spoegwolf, Tasché, Dewald Wasserfall, en Elandré.
Die musikante staan onder leiding van maestro Johan Kelber met ’n wye verskeidenheid van vernuftige verwerkings met strelende kontrabas- en tjellospel sowel as verbeeldingryke perkussiewerk.
Tyd was knap om die produksie bymekaar te sit, maar Renier kon die teks en storielyn van Lisa se Klavier in ’n kort tydjie afrond en die Staatsteater het die produksie op hul speelprogram vir die eerste twee naweke in November geplaas.
Die volgende hekkie om oor te spring was om toestemming te kry by liedjieskrywer Koos Kombuis vir die ikoniese lied, “Lisa se klavier” as titel.
“Hy was so ontvanklik daarvoor en ons is so dankbaar,” vertel Renier.
Die blyspel speel tydens Covid-19 se grendeltyd in ’n kroeg af waar die erg morele kroegman, met gravitas gespeel deur Neels Clasen, nie die drankverbod wil verbreek nie tot die spyt van die kroegorkes.
Hy noem die epidemie ’n “ongenooide gas” en verwys tong-vierkantig-in-die-kies na die ou liedjie “My Corona”.
Die hele blyspel is deurspek met sulke grappige kruisverwysings na musiek en het die gehoor telkens vermaak.
Die De Kuierkamerorkes het ’n sanger verloor en verskeie oudisies word gehou om ’n nuwe sanger te plaas.
Uiteindelik aanvaar hulle Lisa, ’n pianis wat op skei staan en dalk haar klavier moet afstaan in die geding.
Sy ontmoet in die kroeg ’n ou vlam, die leiersanger van die De Kuierkamerorkes, Wolf Zimmermann, gespeel deur Altus Theart met so ’n rebelse rocker-aanslag.

Hierdie liefdesvuur word aangeblaas deur ’n liefdesdriehoek.
Die kelnerin, Dezi, gespeel deur Liza Nel, het self haar oog op die aantreklike sanger. Sy verstaan vinnig ou liefde roes nie. Wanneer dit by sing en dans kom, vang die sjarmante Nel die oog met haar helder stem, flankeerdansies en astrante houding.
Die rolverdeling is sorgsaam gedoen met die beeldskone Marlee van der Merwe as Lisa. Met haar jazz aanslag en klassieke pianistalente, gee sy sjarmant lewe aan haar rol as loskopdolla met boheemse klere.
Een van die sterre van die verhoog is die kitaarspeler van die orkes Saarkie, Adele Fouché. Afrikaanse musiek se snikwarm rockchick se kitaarspel neem jou op ’n wilde wipwaentjierit met vertolkings van liedjies soos “Mustang Sally” wat uitstaan. Haar blondekop kopswaaie laat musiek se bekende kopstamper Karen Zoid soos ’n tiener op ’n garagepartytjie lyk.
Die hoogtepunte van die musiekvertolking is die harmonisering tussen Van der Merwe en Theart tydens die liefdesliedjies.
Soortgelyk aan die film A Star is Born, kom hulle telkens teenoor mekaar te staan as ou lieflinge met bagasie maar passievolle harte.
As gesinsvermaak is die blyspel puik ontvlugting van eksamenstres hier teen die einde van die jaar. Hopelik sal Afrikaanse feeste ook hiervoor plek op hul programme maak.
Spring gerus om die Operateater vol te kry en hierdie Afrikaanse musiekblyspel te geniet.
Datums en tye van vertonings:
Vrydag, 10 November – 19:00
Saterdag, 11 November – 11:00
Saterdag, 11 November – 15:00
Sondag, 12 November – 11:00
Sondag, 12 November – 15:00
Kaartjies kan by www.webtickets.co.za aangekoop word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
