Local news

Teater bring hulde aan kunstenaars met gestremdhede

Vir meer as 20 jaar help die Pierneefteater kunstenaars met gestremdhede om ook hul kreatiewe stemme te laat hoor.

Pierneefteater se 20e Ten Spyte Van-week is vanjaar ingekleur met optredes deur Sahara, ’n blinde sangeres en digter, sowel as inwoners van Yana, ’n tuiste vir mense met skisofrenie, se vrolike verskeidenheidskonsert.

Teaterbestuurder Jopie Koen sê die idee met die week is om ’n geleentheid te bied aan mense wat bo gestremdhede van een of ander aard uitstyg en hul vaardighede en talente met gehore wil deel.

“Vir my staan elke mens, asook hierdie kunstenaars, uit as ’n individu op sy eie manier. Dit was twee ongelooflik spesiale dae,” merk Koen op.

Die week dien ook as bewusmaking en fondsinsameling vir die deelnemers.

Al die inkomste uit die kaartjieverkope vir opvoerings gaan aan deelnemende instansies en groepe.

Richard Macorni, ’n inwoner van Paul Jungnickel Tehuis vir volwasse gestremde persone.

Dis egter nie ál bonus vir die kunstenaars nie.

“Die kunstenaars merk dikwels op hulle kyk op konsertdae anders na hul eie struikelblokke en dat hul oë oopgaan vir vele aspekte van hul eie lewens wanneer hulle tussen andere met gestremdhede is,” sê Koen.

Die aanbieding van die week word die afgelope 20 jaar reeds moontlik gemaak deur Cordis Trust, ’n liefdadigheidstrust wat sedert 2000 bestaan.

Die stigter van die trust, Fanie Marais, het ’n behoefte gevoel om liefdadigheidswerk te ondersteun en spesifieke kultuur, opvoedkundige en godsdienstige aksies te bevorder, hoofsaaklik in Pretoria.

Koen vertel sy het bekende teaterpaartjie en beskermhere Petru en Carel Trichardt se werk voortgesit omdat hierdie spreuk deel van haar lewensuitgangspunt is: “Ek is net een mens en kan nie die hele wêreld verander nie, maar ek kan die hele wêreld vir een mens verander”.

“As elkeen dit in gedagte hou, kan die wêreld ’n beter plek wees,” glo Koen.

Blinde musikant bekend as Jody-Ann, en Gert Cloete (met ’n gehoorprobleem) het tydens die Ten Spyte Van-fees in die Pierneefteater opgetree.

Deelnemers deur die jare sluit in skole vir kinders met spesiale behoeftes soos die Transoranje-skool vir dowe leerlinge, Unicaskool vir kinders met outisme, Prinshofskool vir blinde en swaksiende leerlinge en Eduplex vir dowe en horende leerlinge.

Skole vir kinders met leerprobleme soos Tiqwaskool, Transvaliaskool, Marthie de Bruinsentrum asook Paul Jungnickel Tehuis vir volwasse gestremde persone, het ook al deelgeneem.

Van die individue se optredes wat vir Koen oor die jare uitgestaan het, is Nadia Engelbrecht wat ataksies serebraal gestrem is (onvermoë om spierbewings te beheer as gevolg van ’n senusiekte) en Richard Macorni.

Macorni is ’n inwoner van Paul Jungnickel wat sy bene verloor het maar reeds ’n solo CD uitgegee het met die hulp van wyle Christa Steyn se Studio of Note en Cordis Trust.

Twee ander blinde sangers het vanjaar ook opgetree: HW Helberg en Jody-Ann.

Gert Cloete het musiek gemaak ten spyte van ’n gehoorprobleem en Jazz the Vocalist het gesing. Laasgenoemde is ’n jazzsanger met serebrale gestremdheid.

Daar was ook uitstallings van die Mond- en Voetskildersvereniging se lede, soos die skilderye van Themba Oliphant, asook ’n aanbieding van die National Council of and for Persons with Disabilities.

Vir Koen was een van die mooiste oomblikke toe die gehoor spontaan die ou liedjie “Lappop” se refrein saam met ’n kunstenaar gesing het.

“Dit was té dierbaar dat almal die woorde van die Afrikaanse liedjie uit die sestigerjare ken,” sê Koen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button