Local news

Tukkies wys hoe om ‘n plan te maak met kosherwinning

Kosherwinning van oorskiet- en afvalkos moet op 'n nuwe en verbeeldingryke manier aangespreek word, meen die voedselsekuriteitskenners.

Meer as ’n 100 gaste is by ’n lang tafel voor die Ou Landboudepartementgebou op Tukkies se kampus verras met ’n keurige aanbieding van ’n maaltyd van bruikbare oorskietkos wat op ’n nuwe manier ingespan is.

Dr. Nadine Marx-Pienaar, hoof van die Departement van Verbruikerstudies en Voedselwetenskappe, sê die tema vir die funksie is gekies om op die heraanwending van oorskietkos uit restaurante, kettingwinkels en markte te fokus.

Drie lektore van die Departement Verbruikerstudies en Voedselwetenskappe het ’n ogie gehou oor die werksaamhede van die studente, soos die opstel van die rooi tapytmuur tydens die funksie wat vir hul eksamenaflegging gehou is. In die foto staan Adele Pretorius, Nadine Marx-Pienaar en Hennie Fischer.

Op die spyskaart was geregte en souse soos geroosterde en gerookte varkwange, beenmurgpesto en bloubessiesorbet. En op die rakke was roomyse gemaak van oorskietwyn, ’n gepoeierde gesondheidsdrankiemengsel van vrugte en groente, en rolletjies vrugtelekkergoed.

Die aand het ook as die studente se eksamen gedien.

Ouers, geliefdes en vriende van die studente het die funksie aan die Universiteit van Pretoria bygewoon. Keagen Eastmure, Warren en Claire Toward was daar.

“Ons wou wys hoe daar saamgewerk kan word om Suid-Afrika se bruikbare oorskiet- en afvalkos ’n tweede lewe te gee. Daar is wel verbeeldingryke oplossings om te wys indien ons hieraan werk, hoef niemand in ons land honger te ly nie,” sê Marx-Pienaar.

Die geleentheidspreker was die stigter en uitvoerende hoofbestuurder van die voedsel-herwinningsmaatskappy, SA Harvest, Alan Browde.

Hy het daarop gewys dat die gedagte om ’n voedselreddings- en verspreidingsmaatskappy te begin, ontstaan het uit ’n gesprek met Nelson Mandela.

“Hy het my gevra om uit my gesin en familie se oorvloed iets terug te gee aan Suid-Afrika. ’n Paar jaar daarna kon ek SA Harvest in die lewe roep en die trokke se wiele het in Oktober 2019 begin rol,” vertel Browde.

In die eerste 48 maande van hul bestaan het die voedselorganisasie meer as 49 miljoen maaltye aan meer as 200 organisasies verskaf.

Browde sê dat honger en voedselsekuriteit een van Suid-Afrika se groote maatskaplike krisisse is.

“Twintig miljoen mense is tans op die spektrum van voedselkwesbaarheid en gaan slaap honger. Ouers wat nie hul kinders kan kos gee nie, ervaar ’n diepe trauma. Sowat 27% van alle Suid-Afrikaanse kinders se groei is nie optimaal nie as gevolg van verhongering en ’n gebrek aan voedsame kos,” wys Browde uit.

Agter die potte in die departementele kombuis het Shreya Beekam gesorg dat van die oorskietkos wat voorsien is om die aand se maaltye mee voor te berei, geurig en gesond op gaste se borde beland.
Studente van die Departement Verbruikerstudies en Voedselwetenskappe het oorskietvrugte en groente ingespan om ’n nuwe produk, Boost, te formuleer. Met die gedroogde poeier-aanvulling kan ’n gesondheidsdrankie aangemaak word. Agter: Charmone Roberts, Elizmari Kellerman en Kelvin Mkhize. Voor: Thando Dlamini.
Bianca Boshoff, een van die studente wat op die aand ook kelner gespeel het as deel van haar jaareindeksamen.
Tweelingsusters, Lebogang en Tebogo Ndala, is twee oud-studente wat die eksamenfunksie van studente bygewoon het.

Daarenteen gaan daar elke jaar 10 miljoen ton kos in Suid-Afrika verlore.

Die kos word as afvalkos beskou en word nie herbruik nie, al is daar weinig daarmee fout.

“As jy werk teen 333g per voedsame maaltyd, beteken dit dat ons 30 biljoen maaltye ’n jaar hierdeur verloor. Uit die oorskiet- en afvalkos alleen kan ons ver kom om Suid-Afrika se honger aan te spreek,” sê Browde.

Hy glo verder dat enige kosherwinning nie net as blote liefdadigheid moet deurgaan nie, maar dat sulke kosverspreiding ook waardigheid aan mense en gemeenskappe moet herstel.

Om dit reg te kry, wys Browde daarop dat daar ’n kopskuif sal moet wees – beide by die regering en diegene in die voedselbedryf – om stelsels te verander waarin kos en voedsel ter sprake is.

“Nuwe denke en voorstelle rondom kos se verspreiding, die kanale van oorskiet- en afvalkos sowel as hoe kan ons ’n langtermyn-oplossing vir sistemiese uitdagings vind, is nodig,” wys Browde uit.

“Ons kan drie dinge in ons guns laat tel. Die voedingsmodelle wat ons reeds het, tegnologie-platforms en bestaande veiligheidsprosedures. Gekombineer met nuwe denke rondom oorskiet- en afvalkos en voedselredding kan ons die ongeregtighede rondom honger in Suid-Afrika oplos,” meen Browde.

Lees: Tshwane hit by fuel contamination crisis

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button