Boere wys staal in nuwe gevegsreeks
Die rooi en blou spanne van Moer ’n Boer se tweede seisoen wys hul staal in die veghok en op die plaas. Van kalwers vashou, stropers bestuur tot houe deel, wys dié boere dat ware krag, deursettingsvermoë en boerebravado hand aan hand loop.
Jy kan boer, maar kan jy jou man staan?
Dis presies wat die tweede seisoen van die TV-reeks Moer ’n Boer op kykNET toets.
Een van die boere wat vanjaar sy beeskraal en sitrusbome vir die veghok verruil, is JP Roeskuif de Clercq van Boschkop, Pretoria.
Dié fris rooikop is ’n boer wat meer gewoond is aan kalwers vashou as houe uitdeel, maar nou moet hy sy staal wys teenoor ander boere wat net so taai is.
Hy sê met ’n breë glimlag: “Ek dink 99% van die boere het ingeskryf om te kyk of hulle so sterk of so goed is as wat hulle dink.”
Wanneer hy nie met sy lemmetjiebome eksperimenteer nie, is hy besig om kalwers op te tel en vas te hou dat hulle gedip kan word.

Dis harde werk, ja, maar blykbaar ook volgens hom goeie oefening vir die veghok.
“Boerdery gee jou ’n tipe fiksheid wat jy nie elke dag agterkom jy opbou nie. As jy kalwers moet vasdruk of swaar sakke dra, kry jy dalk hier en daar ’n paar blou kolle, maar jy kry ook krag. Jy is nie elke dag in die gym nie, maar die plaas gee jou daai rou krag,” vertel hy.
Almal wonder natuurlik: Wat gaan deur ’n boer se kop net voor hy vir die eerste keer in ’n veghok klim?
“My grootste vrees is om te verloor,” erken De Clercq eerlik. “Jy wil nie hê jou vriende en ander mense moet kyk hoe jy baklei en dan word jou gat geskop nie. Aan die einde van die dag moet jy jou kop regkry. Dis net twee mense, en een gaan verloor. Jy maak vrede: jy gaan wen of verloor, so jy maak maar die beste daarvan.”
Oor lojaliteit en ondersteuning lag die nugtere en plat-op-die-aarde man lekker.
“My vrou was aanvanklik nie baie opgewonde oor die storie nie. Ná ’n ruk het sy saamgespeel en my begin ondersteun. Sy gee my nou eintlik die meeste moeilikheid en sê ek oefen nie genoeg nie! Maar sy staan agter my.”

En sy vriende? Hulle is natuurlik daar vir die skouspel.
“Party sien uit dat ek iemand slaan; ander sien uit dat ek dalk geslaan word. Maar hul lojale ondersteuning is in plek en dis altyd positief.”
Hy onthou nog sy eerste toetsgeveg vir die TV-reeks.
“Die uitdunne was vinnig en rof. Toe ek gekies word daarna, het ek besef hierdie ouens sien iets in my. Dit was ’n trotse oomblik.”
Watter insig het hy intussen gekry? Hy sê droogweg: “Klein mannetjies kan ook hard slaan.”
Op die vraag watter boodskap hy vir ander boere het wat dalk ook buite hulle gemaksone wil tree, sê hy: “Om aan die reeks deel te neem asook om die kuns om in ’n hok te veg te kan baasraak, is nie vir sissies nie. Jy word afgekraak en afgebreek, maar dan weer opgebou. Jy moet emosioneel reg wees en hard oefen. Aan die einde van die dag is dit baie lekker.”
Wat van die toekoms? Wink die boksring eerder as die krale en boorde?
Hy glimlag breed: “Ek gaan nie weer ring toe nie. Ek gaan aan met my lewe as ’n boer en kyk wat die volgende uitdaging bring.”
Organiseerder van die program en reeks, Janneman van den Berg, sê die nuwe seisoen se avonture oortref die vorige.
“Ons was ongelooflik opgewonde om die Moer ’n Boer-reeks na kykNET te bring vir ’n splinternuwe seisoen,” sê hy. “Seisoen 1 het die harte van kykers oor die hele land verower, en hierdie jaar beloof om selfs groter, rowwer en ryker aan stories te wees. Dis nie net gevegte in die hok nie. Dis ’n viering van karakter, gemeenskap en Suid-Afrikaanse trots.”
Hy voeg by: “In ’n tyd waar mense voel dinge val uitmekaar, wys die reeks vir ons weer wat dit beteken om vas te byt, op te daag en mekaar aan te moedig, selfs al is dit in ’n kryt.”
Dis beslis drama en boere-bravade.
Die reeks het begin met 80 boere van regoor die land wat aan uitklopuitdagings deelgeneem het.
Net 28 is gekies om ingewy te word in die gemengde vegkuns-afdelings wat nodig is.
Hulle word verdeel in rooi en blou spanne, elk met ’n kaptein wat hulle meer touwys sal maak in die onderskeie vegkunste in die kryt en omsien na hul fiksheid.
In verdere episodes ontmoet kykers die boere op hul plase, sien jy hoe hul boerderye lyk, en leer die mense agter die boere ken.
Dis nie net vuiste en houe nie: die boere wys ook hul staal in skietkompetisies, braaikompetisies en selfs ’n mediakonferensie.
Episode 6 bring hul boeresport-prestasies na die kykers: toutrek, spoegkompetisies en damme bou.
Dan natuurlik ook, eersdaags, die groot finale gevegte tussen die boere by die Heartfelt Arena in Pretoria op 20 September met Radio Raps as aankondiger.

Hieroor voel De Clercq hy en sy medeboere sal dan bewys dat die plaas en die veghok eintlik dieselfde les deel: jy moet fiks wees, jy moet houe op jou ken kan vat en opstaan, en jy moet jou mense trots maak en altyd weer kan voortgaan.
“Dis maar soos op die plaas,” sê hy, “want aan die einde van die dag gaan die boerdery altyd weer moet voortgaan. Die bokskryt was net ’n ekstra avontuur vir my.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
