Taalraad beklemtoon Afrikaans se krag en moontlikhede
In Pretoria-Oos het die Afrikaanse Taalraad se program, Afrikaans Amptelik 100, die taal se verlede, hede en toekoms gevier. Met inspirasie van Giep van Zyl en musiek deur Lucia Poggenpoel, plus ’n dinamiese paneel, het sprekers en gehoor saam besin oor Afrikaans se krag, uitdagings en drome vir die pad vorentoe.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het ’n program ter viering van Afrikaans se 100-jarige status as ’n amptelike landstaal op 27 Augustus in Pretoria-oos sowel as vieringe rondom Vrouemaand, gesamentelik aangebied.
’n Aantal vroue het met sang, paneelbesprekings en gehoordeelname dit gou duidelik gemaak jy kan in Afrikaans leef, lag, debatteer, sake doen en toekomsdrome droom.
Onder die bekwame leiding van Merlyn van der Rheede, die Raad se noordelike projekbestuurder, was die oggend ’n mengsel van musiek, stories en uitdagende vrae oor die pad vorentoe vir Afrikaans.
Van der Rheede het die bespreking ingelei deur die Taalraad se rol en funksies uiteen te sit.
“Vir ons was dit ’n voorreg om Afrikaans 100 se veldtog met Vrouemaand te sinkroniseer,” sê sy. “Die Afrikaanse Taalraad bevorder die volle diversiteit van Afrikaans in ’n meertalige konteks. Afrikaans van almal, vir almal.”
Daarmee is die stemming van die dag vasgelê: Afrikaans is nie net ’n taal van die verlede en van erfenis nie, maar ook een van vrouestemme, gemeenskap en toekomsdrome.

Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans Amptelik 100, het die program se eerste inhoudsdeel hanteer.
Sy uitdaging aan die gehoor was soos volg: “Ons sal weer moet kyk na wat deurgaan as standaard-Afrikaans, waarna daar deesdae ook verwys word as algemene Afrikaans”.
Hy het verder die gehoor herinner aan die geboortewieg van Afrikaans: “Die geboorteplek van Afrikaans is die Bo-Kaap, en ons kon vanjaar met Afrikaans 100 se projekte ’n muurskildery daar laat aanbring om dit te gedenk”.
Volgens hom sluit die gedenkjaar af op 25 Oktober in die Paarl met ’n groot markdag.
“Ons hoop ons kon vanjaar die gedagte plant dat dit nie net goed genoeg is om Afrikaans te praat om die taal lewendig te hou nie, maar dat skeppende werk ondersteun moet word soos die veldtog se publikasie van Ronel van Oort se boek, Kwaailappies.”
Hierdie boek gee volgens Van Zyl vir kinders ’n omvattende, maar maklik leesbare geskiedenis van Afrikaans se taalontwikkeling. Die taal se lang geskiedenis word sorgvuldig nagevolg en met deeglike navorsing ondersteun.
Vir ligter oomblikke het Crescendo-kunstenaar, Lucia Poggenpoel, die gehoor met haar musiek vermaak. Sy is die stem agter My Crescendo, die temalied vir die ATKV-Crescendo se 50ste bestaansjaar.
Daarna het ’n uiteenlopende paneel die verhoog betree: sakevrou Ronel Jooste, omroeper en stemkunstenaar Sue Pyler-Slabbert, Atterbury Trust-trustee Zahn Hulme, en akademikus Annelise de Vries.

Jooste het praktiese raad gegee oor hoe om Afrikaans in die sakewêreld te gebruik.
“As jy in jou moedertaal praat, kan jy jou beter uitdruk, want jy voel jy behoort. Daarom moet sakelui gebruik maak van tegnologie om in Afrikaans tydens onderhandelinge te praat, en daarna getolk te word sodat sakevennote kan verstaan.”
Haar pleidooi was duidelik: moenie te maklik Engels as die enigste saketaal aanvaar nie.
Pyler-Slabbert het die gehoor laat lag én dink met verhale uit haar kleintyd en haar lewe as stemkunstenaar:
“Ek werk al my hele lewe in Afrikaans. Dis my stukkie gereedskap. Ek glo in Afrikaans om ons ook op nuwe maniere te bemagtig om geld te maak soos met podsendinge of selfs TikTok. Jy kan nou geld maak uit jou kar met ’n koppie koffie in die hand met ’n Afrikaanse TikTok-insetsel!”
Na die paneelbespreking het lede van die gehoor hul beurt gekry met vrae en opmerkings. Die interaktiewe segment, “My droom vir Afrikaans” het deelnemers geleentheid gegee om kortliks hul wens vir die taal se toekoms te deel.

Nasionale adjunkkoördineerder vir Afrikaans 100, René Arendse, het die gesprek gelei en onderstreep hoe belangrik dit is dat gewone Afrikaanssprekendes hulle stem laat hoor om hul drome vir hulself en die taal te verwesenlik.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
