EntertainmentLocal news

Martin Botha gesels met Rekord oor ‘Letsels’

Blues-musikant vertel van sy Afrikaanse Blues album - die eerste een ooit - Letsels.

“Letsels – die album is donker, ja,” erken Blues-musikant Martin Botha ruiterlik, “omdat dit die potensiële en daaglikse stuikelblokke in die oë staar en ontbloot.”

Letsels is die eerste volledige Blues album in Afrikaans. Botha, wat al in Blues-kringe landwyd erkenning geniet as ’n musikant wat sy musiek in beide Afrikaans en Engels met mening aanpak, het met Rekord gesels oor die bekendstelling van die album.

Waarom ’n Blues album in Afrikaans? “Blues het my gekies en is die kleefband wat my DNS aan die gang hou,” knipoog hy. “Ek kon nie aan ’n beter manier dink om my liefde vir Blues uit te beeld en tot lewe te bring in my moedertaal nie.

“Dit gee my die geleentheid om mense nader aan die styl te bring en die mure van stereotipiese Afrikaans af te breek. Blues se wortels is in slawerny waar mense swaar gekry het en ongelukkig was en musiek was hul enigste uitkoms, met die gedagte van hoop vir môre,” vertel hy.

“Letsels was presies dit vir my, dit was my bietjie hoop en ’n album waarin ek myself ontbloot het. Die album is rou en die pen het dieptes van my lewe neergelê.”

As mens na die album luister, maak lirieke soos “ek skuil agter my verslete gewete” hulself tuis in jou kop.

Luister hier: 

 

Daar is niks opgesmuk of vals omtrent die liedjies nie. Van die titels sluit in “Aasvoëls”, “Einde van jou”, “Kringe om jou lewe”, “Middernag skadu” en “Hou vas”.

Dan is daar ook “21 April”, ’n song wat Botha geskryf het deur sy vrou, Vickey, se dagboekinskrywing in musiek te omskep. Luister self hoe hy sing: “staan ek voor ’n ou geroeste deur, verdwaal in my eie donker seer”. Maar die boodskap is eintlik een van hoop.

“Net Martin” is die naam waaronder Botha sy Afrikaanse solo-projek aangepak het. Hy speel steeds saam met ander orkeslede in die band Blackwater wat al twee Engelse albums, Leaving the station en Blues Chemistry die lig laat sien het. Laasgenoemde album het verlede jaar met ’n Afri-Indie toekenning weggestap.

En Letsels? Hy lag en sê die album was vanjaar ingeskryf in die Blues-kategorie, maar is beskryf as “nie bluesy genoeg nie”.

Ek wil amper saamstem – sy album laat my op ’n manier dink aan Jan Blohm alhoewel dit nie van pop-tromme afhanklik is nie. Miskien kan dit volgende jaar in die Alternatiewe Rock-kategorie met die louere wegstap? Dalk kan ons lesers ’n stuiwer in die armbeurs werp nadat hulle dit geluister het.

Maar waarom Blues? Martin se Blues is ’n emosionele reis, en nie net geskryf vir die genot van lekkerluister nie. Dis ook hoekom rou emosie so dikwels die basis van liedjies vorm (luister maar na al die groot name – soos Gary Moore). Ja, dis nie vir almal nie. Maar die wat die Blues ontdek, vind hulself daarin – gaan luister na Letsels. Jy sal dalk nie weer dieselfde voel nie.

Gaan loer ook na www.blackwatersa.com.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button