EntertainmentLocal news

Resensie: Die Uitvaart – ’n Ondersoek na dood, rou en menswaardigheid

Carla van der Spuy se nie-fiksie boek, Die Uitvaart, ondersoek die raaisels rondom die dood met joernalistieke deeglikheid en empatie. Deur kundiges, persoonlike ervarings en praktiese lyste bied sy ’n unieke, toeganklike blik wat sowel antwoorde as troos oor die raaisels van afsterwe gee.

Carla van der Spuy se nie-fiksie boek, Die Uitvaart, uitgegee deur Protea Boekhuis, is ’n indrukwekkende en veelvlakkige ondersoek na die raaisels en realiteite rondom die dood.

Van der Spuy, ’n ervare joernalis, het die onderwerp oor twee jaar lank met deeglike ondersoekwerk, onderhoude en eie persoonlike ervaring nagevors.

Die resultaat is ’n boek wat nie slegs feite aan die lig bring nie, maar ook die leser dwing om eerlik oor die dood en sy vele fasette te dink.

Reeds in die inleiding skryf Van der Spuy vanuit haar eie belewenis van verlies. Sy deel haar ervaring van die afsterwe van haar ma en jongste broer, en haar eerlike erkenning dat sy nie een van hulle na hul dood wou besigtig nie, plaas die leser in ’n gemaklike ruimte met haar uitgangspunte.

Hierdie persoonlike invalshoek stel die toon vir die res van die boek: ’n kombinasie van ondersoekende joernalistiek en diep menslike besinning.

Van der Spuy vra die vrae wat baie van ons in stilte dra, maar selde durf verwoord.

Een van die sterkste aspekte van die boek is die wye spektrum van kundiges wat sy betrek het.

Veral die gesprekke met die forensiese patoloog dr. Leon Wagner bied insig in die tegniese en mediese werklikhede van die dood.

Wagner, wat reeds meer as 10 000 outopsies gedoen het, beantwoord vrae soos hoe lank dit neem vir ’n liggaam om koud te word en hoe doodsertifikate ingevul behoort te word.

Tog is dit nie koue, kliniese antwoorde nie: Wagner beklemtoon die noodsaak van waardigheid. Hy sê: “Ons het ’n humorsin, maar ons kan nie ’n sin vir galgehumor hê nie. Daar moet respek vir die dood wees.”

Carla van der Spuy se boek, Die Uitvaart, is by die Boekeplek en Kuierstoep in Pretoria-oos op 23 Augustus bekendgestel.

Hierdie balans tussen humor, realiteit en respek is kenmerkend van die hele boek.

Van der Spuy bied ook inligting aan wat die gewone leser waarskynlik nog nooit oor gedink het nie: opgrawings, die verskil tussen manlike en vroulike skelette, en die mees algemene mediese toestande wat tydens outopsies gevind word, soos longontsteking.

Hierdie feite maak die boek nie net boeiend nie, maar dra by tot die breër begrip van die dood as biologiese en sosiale verskynsel.

Die vraag oor begrafnis teenoor verassing word breedvoerig ondersoek. Van der Spuy vra pertinent of verassing nie dalk ’n manier is om die dood vinniger af te handel en minder sigbaar te maak nie.

Sy betrek die menings van begrafnisondernemers, waaronder ’n bekende uit Bloemfontein wat meen dat die besoek aan ’n graf sielkundig meer voordelig kan wees as om ’n nis in ’n gedenkmuur te besoek.

Sy skryf ook oor die stygende koste van begrafnisse in Suid-Afrika en gee ’n helder uiteensetting van die finansiële implikasies.

’n Ongewoon interessante hoofstuk handel oor die pionierswerk van Sonja Smith-Janse van Rensburg, ’n Pretoria-begrafnisondernemer. Sy het nuwe praktyke bekendgestel soos groen begrafnisse, aandbegrafnisse en selfs lewende begrafnisse.

Bekende begrafnisondernemer van Centurion, Sonja Smith-Janse van Rensburg, het haar hofstryd rondom die regte van babas onder 26 weke om begrawe te word, uiteengesit by die bespreking oor Carla van der Spuy se boek, Die Uitvaart.

Nog meer betekenisvol is haar bydrae tot die regstryd om babas wat voor 26 weke gebore word, met waardigheid te laat begrawe. Voorheen is hierdie babas as mediese afval behandel, maar danksy haar werk het ouers nou die reg om sulke babas te begrawe.

Van der Spuy se weergawe van hierdie gesprekke rondom die hofstryd is nie net informatief nie, maar ook ontroerend en vol empatie.

Die boek gee ook ’n blik op die werk van begrafniskundiges (morticians) en die vreemde versoeke wat hulle soms ontvang met die voorbereiding van ’n lyk vir besigtiging.

Hierdie gedeeltes ontbloot die stigma en mites rondom die begrafnisbedryf, maar ook die kreatiwiteit en menslikheid wat in die beroep opgesluit lê.

Van der Spuy bring die belewenis van die begrafnisondernemer na vore, en sy beskryf selfs die bestaan van professionele roubeklaers wat in Pretoria vir ’n begrafnis gehuur kan word.

Daar is ook aandag aan kultuurverskynsels soos bendebegrafnisse en die gebruike wat daarmee gepaardgaan, byvoorbeeld die afvuur van geweerskote by die graf. Selfs eenvoudige gewoontes soos die plaas van briewe in ’n kis word bespreek, met die praktiese beperking dat dit voor die begrafnis moet gebeur omdat kiste nie meer tydens die diens oopgemaak word nie.

’n Aangrypende hoofstuk fokus op stilgeboortes en die projekte wat rondom hierdie verliese bestaan. Van der Spuy se hantering van hierdie tema is deernisvol en uiters sensitief. Sy vertel van swangerskapverlies-fotografie en die maak van uitrustings uit trourokke vir doodgebore babas.

Hierdie gedeeltes illustreer haar vermoë om joernalistieke objektiwiteit met menslike medelye te balanseer.

Die boek sluit ook geestelike perspektiewe in. Dominees en teoloë kry die kans om hul beskouings te deel, onder andere ds. Francois Esterhuizen van Centurion wat sterk gekant is teen die gebruik van clichés by begrafnisse. Hy pleit vir eerlikheid en die reg van elke familie om hul eie rouproses te vorm.

Dr Hermann Liebenberg het sy kundigheid rondom die dood tydens die bespreking oor Carla van der Spuy se boek, Die Uitvaart, by die Boekeplek en Kuierstoep in Pretoria-oos op 23 Augustus gedeel. Hier is hy saam met die skrywer.

Dr. Herman Liebenberg, een van Suid-Afrika se min sielkundige traumatoloë oor mediese nood, dra by oor die rol van sielkundiges en doodsbegeleiers by ’n sterfbed.

Hierdie stemme maak die boek besonder ryk, omdat dit beide die praktiese en spirituele dimensies van die dood aanspreek.

Van der Spuy het die nut van haar werk ook prakties gemaak deur ’n lys saam te stel van 42 dokumente wat elke mens behoort te hê om sy of haar boedel te vereenvoudig. Dit is ’n onskatbare hulpbron wat die boek nie net reflektief maak nie, maar ook bruikbaar.

Hoewel Die Uitvaart duidelik geanker is in die Suid-Afrikaanse konteks, skakel dit ook met internasionale gesprekke oor die dood.

Van der Spuy verwys dikwels na Elisabeth Kübler-Ross se klassieke On Death and Dying, wat die wêreld bekendgestel het aan die vyf stadiums van rou. Hierdie intertekstuele gesprek plaas Die Uitvaart binne ’n groter tradisie, maar gee dit terselfdertyd ’n unieke Afrikaanse stem.

Daar is natuurlik ander Afrikaanse boeke wat oor die dood handel soos Wreed en mooi is die dood, Outopsie en Riette Rust se treffende werke oor rou en selfdood. Van der Spuy se boek word onderskei hiervan deur die breedte van haar ondersoek en die balans tussen feite en emosie.

Sy is joernalis én medemens, en dit is juis hierdie kombinasie wat die boek so toeganklik en waardevol maak.

In keurige, helder Afrikaans bied sy haar bevindings met respek en empatie, maar ook met die ondersoekende ingesteldheid van iemand wat antwoorde soek.

Die dood in Die Uitvaart word nie geromantiseer of verswyg nie, maar oopgevlek en met waardigheid hanteer. Dit is ’n boek wat jou laat dink, wat vrae opwek wat jy dalk lank probeer ignoreer het, en wat jou herinner dat die dood, net soos die lewe, deel van ons menswees is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button