Flater-selfoonvideo word innige familiefilm
Ses jaar gelede het ’n eenvoudige selfoonvideo van Marelize Horn se fietsflater landwyd bekend geraak. Die regisseur Zandré Coetzer het die familiedinamiek daarrondom in ‘n film vasgevang.
Ses jaar gelede het ’n eenvoudige selfoonvideo van ’n jong meisie wat teen ’n rugbypaal vasry soos ’n veldbrand deur die land versprei.
Die onvergeetlike uitroep van frustrasie van haar ma het nie net die internet oorrompel nie, maar het ook harte verower en ’n enkele sin het nou ’n film, My F*k, Marelize!, geword waarvan die premiére op 28 Augustus in Pretoria-oos gehou is.
Maar hoekom het hierdie eenvoudige flatervideo so ’n reuse-impak gemaak?
Die Horn-familie is geen Hollywood-sterre nie; hulle is ’n doodgewone familie met alledaagse probleme, bekende vrese en innige gesinsbande.
Tog het hul saamgeweefde lewensverhale ’n kosbare aspek van families vasgevang: die krag van humor en die eerlikheid om selfs die moeilikste situasies te hanteer.
Die jong meisie in die video, Marelize Horn, is nie net ’n ongeluksvoël as ’n fietsryer nie, maar ’n simbool van die alledaagse stryd om te leer, om te misluk en dan weer op te staan.
Die regisseur wat die Horns van Windhoek se lewensverhale na die groot skerm geneem het, is 1, ’n oudleerling van Laerskool Akasia en Hoërskool Overkruin.
Sy het tyd saam met die Horn-familie deurgebring om hul dinamika te verstaan en die visie vir die film te vorm.
Sy sê: “Dis ’n storie oor familie. Hierdie is ’n fliek vir enigiemand wat weet hoe familie-dinamiek werk. Die storie is in sy wese eintlik so klein, maar dit tref so diep. Dis ’n storie oor die lewe.”
Coetzer het die projek benader as ’n viering van die lewe en familiekultuur, met ’n fokus op hoe mense in Namibië en Suid-Afrika uitdagings met humor en ’n glimlag aanpak.
Aan die hart van die verhaal is Marelize Horn, ’n jong meisie wat nie net leer fietsry nie, maar ook leer om haar plek in die wêreld te vind.
Sy wil ’n au pair in Amsterdam word, ’n droom wat sy wil bereik ondanks haar onhandigheid en familiekrisisse.
Veral hierdie krisisse maak die film ’n rou, opregte blik op ’n gesin wat leer om te oorleef, om te lag, en om aan te hou al is dit soms met ’n tong-in-die-kies ingesteldheid.
Die regisseur het nie net ’n film gemaak nie, maar ook van die werklike wêreld van die Horns as agtergrond geneem deur die video se oorspronklike rugbyveld in te sluit.
Sulke werklikhede gee die film ’n besonderse egtheid wat ’n mens diep raak.
Dit is ’n storie wat vir almal herkenbaar is, want soos Coetzer sê, “Die konsep is gebore uit ’n ma se eerlike reaksie oor haar kind se fout. Die video het mense laat besef ons maak almal foute, en dis waarrondom die film draai”.
Zandélle Meyer, wat Marelize speel, het die karakter se vertolking met ’n vars en eerlike benadering benader.
Sy fokus op Marelize se lompheid en haar vermoë om altyd weer op te staan nádat sy geval het soos na ’n gly-voorval op die skool se trappe of iets laat val het soos ’n skinkbord met braaibroodjies.
Meyer vertel: “Ek het ook bietjie van myself in die karakter probeer vind”.
Hierdie eerlike vertolking is ’n erkenning vir haar vermoë om die hart van die verhaal uit te beeld.

Die res van die gesin word met diepte en warmte vertolk.
Je-ani Swiegelaar as die ma, Heidi Horn, bring ’n deernisvolle blik op familiekrisisse met ’n kragtoervertolking, veral in ’n toespraak aan die einde wat menige ma-in-krisis by weerklank sal vind.
Neels Clasen speel die vader, Tiaan Horn, met ’n heerlike bry en met ’n nostalgiese aanslag, veral met sy liefde vir ’n motorfiets genaamd ‘Wilde Ding’ wat hy moet opgee.
Dan is daar die ousus, Wilmari, vertolk deur Nichola Viviers, wat as ’n ondersteunende suster met ’n skootrekenaar probeer help om haar jonger sussie se toekoms te beskerm deur vir haar ’n beterbrugjaarberoep uit te soek as om op skepe te gaan werk. Iets wat nie in Marelize se geval sal werk nie oor haar geneigdheid om met haar kop in die wolke te loop.

Die film bied ook ’n blik op die Namibiese gemeenskap, met tonele soos ’n vrolike Duitse kultuurfees wat die storie konteks en kleur gee. Selfs die blou fiets, ’n oënskynlike klein detail, word ’n karakter op sigself en ’n simbool van volharding.
Hierdie film is ’n vars briesie in ’n filmwêreld vol AI-aangedrewe animasie en virtuele karakters met draaiboeke vol perfekte superhelde. Dit wys opreg hoe ’n eenvoudige oomblik ’n hele land kan laat saamlag en saam huil.
Die film het reeds erkenning ontvang by vanjaar se gesaghebbende Silwerskermfees, waar dit as gehoorgunsteling aangewys is en verskeie toekennings gewen het.

Swiegelaar is bekroon as beste aktrise, terwyl Meyer as beste byspeler erken is.
Wat hierdie storie so besonders maak, is die eerlikheid en die herkenbaarheid daarvan.
Uiteindelik is dit nie net ’n verhaal oor ’n meisie wat leer fietsry nie. Dis ’n storie oor mense wat mekaar probeer verstaan, wat vir mekaar omgee, en wat in die middel van chaos en struikelblokke, steeds saam kan lag.
Die film, vervaardig deur Nagvlug Films en Nostalgia Productions van Suid-Afrika, en Joe Vision Productions van Namibië, word versprei deur Indigenous Film Distribution. Vanaf 29 Augustus draai dit in bioskope in Suid-Afrika en Namibië.
– Kry hier ’n voorsmakie:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


