Veelsydige Sarina sê haar gesin kom nou eerste
Sarina Bosman, bekende radio-omroeper, skuif ná 13 jaar by Pretoria FM na GROOTFM 90.5 om meer tyd saam met haar gesin te spandeer.
Met ’n stem wat aan warm heuning herinner en ’n teenwoordigheid wat veel groter is as haar petite gestalte, het Sarina Bosman oor meer as die afgelope dekade ’n geliefde stem in menige huishouding geword.
Ná 13 jaar by Pretoria FM, het sy onlangs die sprong gemaak na GROOTFM 90.5 om weer as omroeper meer tyd vir haar haar gesin in ’n besige program te kan vind.
“Ek was omtrent 11 jaar oud toe ek besluit het ek wil ’n radio-omroeper word,” vertel Bosman met haar kenmerkende warm stem wat luisteraars dadelik op hul gemak laat voel. “Ek het op skool alles gedoen om my gawes en talente te skaaf, enigiets wat my gemaklik gemaak het om voor mense te praat.”
Hierdie passie het uiteindelik gelei tot ’n BA-graad met ’n fokus op joernalistiek aan die Universiteit van Pretoria, hoewel sy nooit kon voorsien dat die nuuskant van radio haar toegangsroete sou wees nie.
“Ek het nooit rêrig gedink ek sal in nuus beland nie,” lag sy. “Maar toe is ek vir drie jaar lank nuusredakteur van begin 2016 tot einde 2018.”
Haar stem, lieflik en lig, kon egter ook oortuigend ernstig klink wanneer dit moet, iets wat van haar ’n veelsydige omroeper asook nuusleser maak.
Tussen 2018 en 2025 het sy as programbestuurder by Pretoria FM gedien, en dikwels ook as mede-aanbieder van die ontbytprogram.
“Ek hou daarvan om ’n afgeronde verskeidenheid aan luisteraars te bied,” sê sy. “Ek wil hê mense moet iets kry wat hul dag makliker en ligter maak.”
Dis nie net inhoud wat vir haar saak maak nie. Vir Bosman was die vloei van ’n program nog altyd belangrik.
“Radio is dinamies. Jy kan dit koppel aan ander platforms. Ek het vinnig agtergekom mense geniet dit as jy byvoorbeeld ’n TikTok of visuele podcast doen om jou radiopersoonlikheid of program aan te vul. Dis hoekom ek nou ook graag met multimedia werk.”
Tog was dit nie net loopbaanhoogtepunte wat haar laat besin het oor haar tyd as programbestuurder nie.
“Ek het in 2012 voltyds begin en toe ek opkyk, was dit al amper 13 jaar,” sê sy. “My seuns, Philip is nou drie en Gustav een, en ek wil meer betrokke by hulle wees.”
Haar nuwe program, Mid-oggend saam met Sarina, is ’n gemaklike geselskuier wat luisteraars van 09:00 tot 12:00 vergesel.
“Dis soos om saam met iemand tee te drink. Ons praat oor belangrike kwessies, maar gesels ook sommer net lekker.”
Bosman se persoonlikheid is sonnig, haar humorsin skerp, en haar energie aansteeklik. Sy vertel met ’n glimlag hoe sy saam met Philip in ’n stootwaentjie en Gustav in ’n baba-harnas aan haar lyf gedraf het toe hulle kleiner was.
“Ek oefen gereeld saam met my man, Carel. Hy sê ek is meer ontspanne ná ’n drafsessie. Sterk longe help veral baie wanneer jy ure agter die mikrofoon moet sit,” skerts sy.

Die tweetjies het mekaar op 3 Augustus 2019 ontmoet tydens die SPAR Women’s Challenge.
“Ek het eenkant gaan rus en hy het oorgestap en begin gesels. Die res is geskiedenis,” vertel sy.
Vandag geniet hulle laatnaggeselsies en ontbyt-uitstappies, en draf gereeld saam.
“Ek het altyd vir ’n gesin gebid,” sê sy sag. “En ek glo nie daar’s ’n aardse waarde wat jy kan plaas op gesinstyd nie.”
Hul vakansies is rustig en kindervriendelik by ‘’n plek waar kinders kan speel en ons saam onder die sterrehemel kan lê’.
Oor haar jare by Pretoria FM sê sy met nostalgie: “Ek het 13 seisoene se onvergeetlike herinneringe en ’n stewige leerkurwe agter die rug”.
Sy onthou van verkeerde knopPies wat sy per ongeluk gedruk het, snaakse insidente op lug, en tye van kreatiewe groei.
Vandag voel sy vasberade om steeds ’n sukses van haar loopbaan te maak, maar is ook dankbaar.
“Ek weet eerlikwaar nie wat ek sou doen as die Here my nie ’n stem en persoonlikheid gegee het nie. Ek is gebore vir radio, maar ek is ook gebore om ’n ma, ’n vrou, en ’n mens met balans te wees.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
