High SchoolLocal news

Pretoria-hoërskole blink uit by ATKV-Debateindstryd

Die ATKV-Debat Finaal van 2025 sal beslis onthou word as die jaar waarin Pretoria se redenaars die debatverhoog oorheers het.

Die ATKV-Debat Finaal 2025 het dié jaar in ’n trotse oorwinning vir Pretoria geëindig, met twee van die stad se spogskole wat hul staal in die landswye kompetisie gewys het.

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria en Afrikaanse Hoër Seunskool het albei uitmuntend gevaar en bewys dat die hoofstad steeds ’n vesting van sterk debatteerders is.

Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria het die senior afdeling (debatteerders in grade 10, 11 en 12) oorheers met ’n indrukwekkende eerste plek.

Die span van SE du Toit en Andru van Zyl het nie net die topprys ingepalm nie, maar ook individuele eerbewyse ontvang: SE du Toit is as die beste senior debatteerder van die dag aangewys, terwyl Andru van Zyl as beste taalgebruiker bekroon is.

Die span is afgerig deur Gustav von Bratt, wie se ervaring en toewyding duidelik vrugte afgewerp het.

Von Bratt sê dit is vir hom as afrigter belangrik dat die debatteerders hul onderwerp goed ken.

Vanjaar was die onderwerp in hierdie kategorie: Is die afskaling van gedrukte media geregverdig?

“Ons leerders moes standpunt inneem en sê dit is wel geregverdig en het hul goed en oortuigend van hul taak gekwyt. Die span het die onderwerp vaardig met humor en kennis hanteer. Hulle was veral goed om die ander span en opponente se argumente te antisipeer.”

Nie ver agter nie, het die skool se ander inskrywing, Christiaan Burger en Wihan Koster, die naaswennerposisie behaal, onder leiding van afrigter Hanno Wasserman.

Met twee spanne op die podium het die skool se spanne duidelik hul oorheersing in die senior debatveld bevestig.

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het op hul beurt sterk vertoon in beide die junior en senior afdelings.

In die junior kategorie, wat leerders vanaf graad 8 en graad 9 insluit, het die span van Janita Labuschagne, Sandre van Heerden en Ilnah van Wyk die derde plek behaal. Die span is afgerig deur Anri Steyn en Katrijn Roefs.

In die senior afdeling het Ingrid van Loggerenberg en Sandy Prinsloo ook ’n derde plek ingeneem, met Casper Willemse as afrigter.

Hierdie meisieskool-spanne het hiermee bewys dat hulle ’n krag is om mee rekening te hou, en dat debatvaardighede diep gewortel is in die skool se kultuur.

In die junior kategorie het Hoërskool Witteberg van Betlehem koning gekraai en die eerste plek ingeneem. Die span het bestaan uit Leonelle van Niekerk, Heilene Meintjes en Gerhard Nel, onder leiding van hul afrigter France-Elize van Niekerk. Gerhard Nel is ook aangewys as die beste taalgebruiker in die junior afdeling.

Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch het die naaswennerstitel ingepalm met spanlede Ella Jonker, Mia Pecoraro en Emma Nel. Pecoraro is verder ook aangewys as die beste junior debatteerder van die dag, onder leiding van afrigter Santjie van Vuuren.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button