Local news

Vroue-unie leier se gemeenskapswerk laat groot nalatenskap

Wyle Georgie Louw, stigterslid van VLU De Wildt, was ’n ywerige leier, gemeenskapsbouer en ware ystervrou. Haar nalatenskap van diens, liefde en deursettingsvermoë leef voort.

Op 10 September het ’n gewilde leier onder vrouegemeenskapsleiers van De Wildt in Pretoria Noord gesterf.

Die lewe van Johanna Georgina Elizabeth ‘Georgie’ Louw (née Venter) is ’n verhaal van diens, ywer en toewyding aan haar gemeenskap.

Die impak van haar lewenstaak en roeping sal nog lank bly voortleef.

By haar roudiens op 20 September op die familieplaas Wildebeesthoek het ds. Dewald Roux haar lewe op treffende wyse beskryf. Sy was iemand wat haar stempel afgedruk het – een van die sterkste vrouestemme in plaaslike landbouverenigings en verbruikersake.

Haar leierskap in die Vroue Landbou-unie (VLU) is legendaries. In 1967 het sy gehelp om die De Wildt-tak te stig waarna sy 32 jaar op die bestuur gedien het, waarvan 17 jaar as voorsitter was.

Lilian Bierman, huidige VLU-woordvoerder van die De Wildt-tak, het Louw se invloed só saamgevat: “Georgie was nie net ’n leier nie. Sy was ’n inspirasie. Sy het vroue bemagtig lank voordat dit ’n modewoord geword het. Sy het ons geleer om ons plek vol te staan, nie deur te praat nie, maar deur te dóén. Haar voorbeeld het ons rigting gegee, haar ywer het ons aangevuur, en haar geloof het ons gesamentlike toekoms versterk.”

Louw se lewe het begin op Wildebeesthoek, waar haar ouers, Koos en Dorie Venter, ’n blomboerdery op die plaas Flora Dora gevestig het.

Tydens haar skooldae op Laerskool Vissershoek en later by Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, het sy reeds haar veelsydigheid en vasberadenheid gewys.

Sy voltooi later haar verpleegstersdiploma aan die Andrew McColm-hospitaal in Pretoria, terwyl haar toekomstige eggenoot, Trevor, Bourekenkunde aan Tukkies studeer. Die paartjie trou op 11 Januarie 1958.

Hulle neem in die sestigerjare die blomplaas oor en drie kinders word gebore: Llewellyn in 1960, Thea in 1961, en Jakkie in 1965.

Bierman vertel haar lewe was ook propvol kleur en avontuur met reiservarings regoor die wêreld.

“Wat Georgie uitstaande gemaak het, is nie net haar titels en poste nie maar die onbaatsugtige wyse waarop sy haar tyd, kennis en hande gebruik het om ’n verskil te maak. Haar betrokkenheid by die Verbruikersraad, SA Nasionale Verbruikersunie, Voortrekkers, Kankervereniging, Hou SA Skoon, en Nood- en Rampbestuur, was almal met een lewensdoel: om te bou, te help en te dien.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button