Local news

Mossie-verhaal bring hoop by herinneringsdiens

Die Irene Konsentrasiekamp-begraafplaas bly een van die mees ontroerende monumente van die Tweede Vryheidsoorlog. In ‘n herinneringsdiens is daar op Erfenisdag beklemtoon dat dit nie net ‘n plek van rou is nie, maar ook van identiteit, herinnering en verantwoordelikheid.

Op Erfenisdag, 24 September, het ’n besondere herinneringsdiens plaasgevind by die Irene Konsentrasiekamp-begraafplaas waar die name onder meer van duisende vroue en kinders wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog gely en gesterf het, in stilte op herinneringslyste en grafstene voortleef.

Die diens is gelei deur Sakkie du Plooy, ’n bekende erfenisaktivis en kampvegter vir die bewaring van geskiedenis.

Die dag se boodskap het sentreer rondom ’n diep betekenisvolle beeld: twee mossies op ‘n muntstuk.

In sy herinneringsdiensrede het Du Plooy die verhaal vertel van Annette Marais, ’n vrou wat in die Bethulie-konsentrasiekamp aangehou is.

Daar, in ’n kamp waar 1 734 vroue en kinders binne net 13 maande gesterf het, het sy een aand tot God gebid om vertroosting.

Sy het haar Bybel oopgemaak by ’n vers oor God se voorsienigheid waar die beeld van mossies gebruik word: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is baie meer werd as die mossies.”

Du Plooy het vertel hoe, terwyl sy hierdie woorde voorgelees het, ’n mossie op haar skouer kom sit het.

Sophia en Grandi Theunissen
Ciana en Brahm Perold

Die mossie het hierna ’n simbool van hoop geword vir die vroue van die konsentrasiekampe.

Du Plooy het verduidelik hoe hierdie gebeurtenis selfs ’n nalatenskap in die nasionale geskiedenis gelaat het nadat die verhaal aan leiers soos Jan Smuts oorvertel is.

In 1923 is twee mossies op die kwartpennie gegraveer, later op die halwe sent en uiteindelik die eensent-muntstuk.

As deel van Du Plooy se boodskap het elke besoeker by die diens ’n eensent muntstuk ontvang.

“Die Here het vir ons ’n boodskap gestuur deur die mossies,” glo Du Plooy. “Nie net in Bethulie nie, maar ook hier in Irene en Pretoria moet ons onthou: elke lewe is kosbaar.”

Die diens het verder gefokus op die belangrike, maar dikwels vergete, rol van vroue in die konsentrasiekampe.

Louise Griessel, Jessie Verster en Gerhard Griessel
Suelenne Heyns, Ranzo Darjee, Justin Dilly en André Jacobs

Du Plooy het hul opoffering en geestelike krag beklemtoon.

“Hierdie vroue was nie slagoffers nie,” het hy gesê. “Hulle was bakens van hoop, geloof en volharding.”

Die mossie-verhaal is tydens ’n kort toneelstuk deur Micheal Schickerling, Amanda Snyman en Johan Swanepoel uitgebeeld.

Die Rietvallei-Voortrekkerskorps het ’n spesiale bydrae gelewer tot die formaliteite van die diens. In ’n plegtige vlagplasingsdiens het hulle eer betoon aan die gevalle vroue en kinders, terwyl een van die korpslede ’n aangrypende gedig van Jan F. E. Celliers voorgelees het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button