Moot-kunstenaars ‘boogie’ om Villeria-kinderhuis te help
Tuin Schoeman en Bacchus Nel tree saam met ander kunstenaars by die Bosboogie-musiekfees op om Afrikaans se 100ste bestaansjaar te vier en fondse in te samel vir die President Kruger-kinderhuis.
Twee geliefde sangers van die Moot tel onder ’n groep musikante wat hul talente na die verhoog gaan bring om ’n ware fees van musiek, hoop en gemeenskapsliefde aan te bied.
Die Bos Boogie-musiekfees, wat op 26 en 27 September by Roodeplaat gehou word, is ter viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal én as fondsinsameling vir die President Kruger-kinderhuis in Villieria.
Die fees bring ’n stewige lys plaaslike Pretoria-kunstenaars byeen, insluitend bekende name soos Bacchus Nel, Saarkie, Mari Bosman, Lisa, Toonhoog, Snor, Ampie, Martin Botha, en Baas de Beer.

Dit is veral Tuin Schoeman en Nel van die Moot wat uitstaan vir hul diep persoonlike betrokkenheid by die projek.
Tuin vertel van haar deernis met tieners, en veral oor haar eie moeilike pad uit verslawing, haar rehabilitasie-ervaring, en ’n lewensverandering wat haar weer op ’n nuwe pad geplaas het.
“Ek was lank ’n kind sonder veel van ’n uitsig op die lewe,” sê sy. “My lewe was ’n gemors. Ek het nie die Here geken nie. Toe moes ek eers letterlik in die gat val wat ek self by die rehabilitasiesentrum gegrou het, voor ek kon verander. Daar het ek die Here ontmoet.”
Haar musiek het intussen verander van lirieke vol pyn en seer na liedjies vol inspirasie en hoop.
“Ek skryf nou vanuit my verlede se ervarings ook. Dis rou en eerlik, maar ek hoop mense kan hulself daarin sien, en weer hoop kry. Musiek het my lewe verander en ek glo dit kan ander s’n ook verander.”
Vir haar is hierdie optrede ’n manier om iets terug te gee aan die gemeenskap en spesifiek aan kinders wat deur trauma en swaarkry gaan.
“As ons nie na ons jeug kyk nie, wat gaan van ons wêreld word? Dis my roeping om by kinders betrokke te wil wees. Ek gaan na skole, lewer my getuienis, en hoop dit maak ’n verskil.”
Haar duet saam met Ampie, “Konfetti sonder kleur”, word op 24 Oktober amptelik vrygestel. “Mense se reaksie is al klaar positief. Dis ’n rou, emosionele liedjie.”
Vir Schoeman is dit ook ’n terugkeer na haar wortels.
“Ek het grootgeword in Pretoria-Noord en later Moot toe getrek,” sê sy.
“Die Moot is ’n unieke plek. Die mense is warm en gesellig, en die kultuur is iets besonders. As jy inspirasie soek, is die Moot een van die beste plekke om groot te word. Hier help mense mekaar nog. ”
Die ervare sanger Bacchus Nel is ook opgewonde om deel te wees van die Bos Boogie.
“Ek tree op saam met ’n lekker band,” sê hy. “Mens het 45 minute op die verhoog, so ’n ou doen maar wat jy dink gaan werk vir ’n feesgehoor. Mense is daar om ’n goeie tyd te hê en met hierdie konsert ook om ons taal te vier.”
Hy deel dat hy uitsluitlik sy eie liedjies gaan sing.
“Elke optrede is uniek, veral as jy saam met ’n orkes speel. Dit gee altyd nuwe lewe aan die musiek.”
Hy voeg by: “Soos ek verstaan, gaan al die wins van die fees na die kinderhuis toe, so elke liedjie van my is vir hulle.”
Alex Botha, woordvoerder van die President Kruger-kinderhuis, is dankbaar vir die inisiatief.
“Ons kinders is almal lief vir musiek,” sê sy. “Daar is maar altyd ’n boem-boks iewers in die kinderhuis wat musiek maak. Musiek is terapeuties vir hulle.”
Sy sê die kinderhuis, wat in Junie vanjaar hul 86ste bestaansjaar gevier het, sorg tans daagliks vir 63 kwesbare kinders, met minimale ondersteuning van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
“Ons is opgewonde om juis met hierdie projek saam met die Moot-gemeenskap en die organiseerders hande te vat,” sê Botha.
“Dis vir ons lekker dat die Saterdag se program deel is van die viering vanjaar van Afrikaans as amptelike taal. Ons kinders is baie lief vir Afrikaans, en ek dink dis wonderlik dat dié dag juis daarvoor ook ingespan word. Soveel goeie dinge en projekte bymekaar!”
Botha voeg by dat die kinderhuis gereeld staatmaak op die ondersteuning van die gemeenskap.
“Die organiseerders het ons verras met die aanbod om die Bos Boogie se wins aan ons te skenk en ons is so bly daaroor, want daar is altyd ’n gaatjie om vol te maak. Volgehoue gemeenskapsbetrokkenheid het nog altyd ’n verskil gemaak.”
Organiseerder Jan-Hendrik van Staden sê: “Ons wou iets doen wat nie net kultuur en taal vier nie, maar ook ’n regte verskil maak in mense se lewens en wat is beter as om kinders in nood te help?”
Vir navrae oor die Bos Boogiefees, skakel 082 886 4526.
President Kruger-kinderhuis se wenslys tans is: toiletware, skoolskoene, skooltassies en geldelike donasies. Meer inligting by bemarker@pkkhuis.co.za of Alex Botha 012 332 1366.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
