Local news

Bejaardes wag steeds tevergeefs vir hul brille

Inwoners van ’n Moot-ouetehuis wag al maande vir brille ná oogtoetse by Tshwane Distrikshospitaal. “Daar is net altyd verskonings,” sê ’n pasiënt. Volgens Jack Bloom is betalings aan verskaffers agterstallig. Die departement belowe verbeterings teen Oktober, maar bejaardes verloor intussen al hoe meer hul sig.

Inwoners van ’n aftree-oord in die Moot sê hulle wag al maande en sommiges bykans ’n jaar vir voorgeskrewe brille nadat hulle by die Tshwane Distrikshospitaal se oogkliniek ondersoek is.

“Ek het al op 15 Oktober 2024 daarheen gegaan vir ’n oogtoets,” sê een bejaarde inwoner. “Sedertdien het my oë net erger geword. Ek was weer terug op 5 Februarie en toe nog twee keer daarna, maar ek kry geen antwoord nie.”

Nog ’n inwoner sê: “Ons is ’n klomp mense hier by die ouetehuis in Capital Park wat wag vir brille. Wat ons nie verstaan nie, is hoekom Pretoria-Wes se provinsiale kliniek vir hulle pasiënte brille gee, maar ons kry niks. En ons mag glo nie van die Moot na Pretoria-Wes se kliniek gaan nie. Jy moet net in jou eie distrik gaan.”

’n Ander pasiënt sê: “Daar is net altyd verskonings, maar geen bevredigende verduideliking nie. Hulle sê net altyd daar is geen geld nie”.

Volgens die inwoners is die oogtoetse professioneel gedoen, maar die brille kom nooit aan nie.

“Klaarblyklik word die firma wat die brille moet maak nie betaal nie,” sê ’n inwoner. “Hulle weier glo om brille te maak as die provinsiale regering nie betaal het nie.”

Een bejaarde vrou sê: “Ek wag al vir ’n jaar op my bril. My een oog is al amper blind, en ek sien nou dat die ander een ook begin verswak. Alles raak net vaag.”

Jack Bloom, DA-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, sê in kommentaar op die toestand van sake by die provinsiale hospitaal, dat dit vir hom ontstellend is dat pasiënte so lank moet wag vir brille.

“Volgens amptelike syfers wag meer as 1 000 pasiënte vir brille by die Tshwane Distrikshospitaal. Die vertragings is grootliks omdat die Gautengse Departement van Gesondheid nie die verskaffers betaal het nie. Beter finansiële bestuur is dringend nodig sodat verskaffers binne die wetlik vereiste 30 dae betaal kan word,” glo Bloom.

Volgens die jongste amptelike syfers wag 5 666 pasiënte in die Tshwane-distrik gemiddeld nege maande vir brille.

By Tshwane Distrikshospitaal wag 1 072 pasiënte, terwyl Mamelodi Hospitaal 1 120 op die waglys het. Ander fasiliteite sluit in Odi Hospitaal (714), Kalafong (607), Jubilee (525), Pretoria-Wes (392), Laudium (271), Olievenhoutbosch (218) en Jack Hindon-kliniek (144).

Die Gautengse Departement van Gesondheid sê die departement het sy pogings verskerp om die vertragings in die uitreiking van brille by openbare gesondheidsfasiliteite aan te spreek, met ’n doelwit om die huidige agterstand teen die einde van Oktober uit te wis.

Die departement voeg by: “Die kern van die vertragings is die gebrek aan gestandaardiseerde kontrakte vir die verkryging van brille en lense. Dit het gelei tot oneweredige voorsiening tussen distrikte, met volwassenes wat enige plek van een maand tot ’n jaar moet wag vir brille. Maar dit staan op die punt om te verander”.

Volgens die department sal nuwe kontrakte wat in Julie in werking getree het, help om voorsiening te stabiliseer en die agterstand vinniger uit te wis.

“Sodra dit in plek is, sal hierdie kontrakte voorsieningskonsekwentheid verbeter en help om die agterstand doeltreffend uit te wis,” sê die departement.

Die department beplan ook om Oktober, wat as Oogsorgmaand gevier word, te gebruik om ‘ondersoeke en die verspreiding van brille regoor die provinsie’ te verskerp.

Oogsorgmaand duur vanaf 21 September tot 18 Oktober.

Hoewel kinders meesal betyds brille ontvang danksy skenkers en privaatvennote, is daar ook probleme met duplisering van voorskrifte onder volwassenes.

“Een van die minder bekende uitdagings is duplisering, waar pasiënte meer as een paar brille van verskillende fasiliteite ontvang,” sê die departement, en voeg by dat hulle besig is om ’n provinsie-wye moniteringstelsel te ontwikkel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button