Grapmaker Leon ontvang eerbewys
Die FAK se eerbewys aan Leon Schuster is nie net ’n erkenning van sy werk nie, maar ’n viering van ’n lewe wat met passie, klank, kleur en ’n goeie skoot selfspot geleef is.
Bykans 30 jaar nadat Hie’ kommie Bokke! soos ’n gees van hoop oor Suid-Afrika gerol het tydens die 1995 Rugbywêreldbeker, ontvang filmmaker, akteur en draaiboekskrywer Leon Schuster ’n eerbewys van ’n ander aard: ’n eretoekenning van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).
Hierdie keer was daar nie ’n stadion vol skreeuende aanhangers nie, maar eerder ’n stil kuier in sy huis, gevul met herinneringe, baie gelag, en wel ook fisiese pyn.
Die FAK het dié toekenning aan Schuster oorhandig vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek, rolprente en radiowerk.
“Ek voel baie bevoorreg om hierdie toekenning van die FAK te ontvang,” het Schuster aan Rekord gesê. “Dis vir my lekker om te weet hulle erken die werk wat ek oor die jare in Afrikaans gedoen het.”
Maar die Leon Schuster wat die toekenning ontvang het, is nie meer die man wat op ’n skouspelagtige wyse onvergeetlike rolprentkarakters na die silwerskerm gebring het nie en hy erken dit self.
Sy fisiese beweeglikheid is ingekort ná vier rugoperasies in ’n enkele jaar.
“Ek loop nou dikwels met ’n kierie,” vertel hy. “My rug is so beskadig, hulle kan nie weer opereer nie. Ek voel soms of ek in ’n klein hokkie leef waaruit ek nie kan ontsnap nie.”
Dis ’n hartseer kontras teenoor die man wat miljoene laat skaterlag het, maar hy klou steeds vas aan hoop en humor.
“Ek hoop hulle kan dalk met Kunsmatige Intelligensie ’n plan maak vir ’n rugoperasie wat vir my kan werk. Miskien met ’n robot. In Italië werk hulle al daaraan. In Suid-Afrika nog nie, maar wie weet? Die hoop beskaam nie.”
Sy stem is innig toe hy praat oor sy loopbaan, sy liefde vir Afrikaans, en sy ma, die fyn Engelse dame wat “met ’n boertjie getrou het”.
Schuster sê hulle het as gesin ook Engels in die huis gepraat.
“My ma was Engels, en ek het altyd met haar Engels gepraat. Sy is ’n paar jaar gelede oorlede op honderdjarige ouderdom. Ek was só lief vir haar. Ek mis haar vreeslik.”
Tog was dit juis daardie tweetaligheid wat Schuster ’n unieke toegang gegee het tot Suid-Afrikaanse gehore.
“Ek is heeltemal tweetalig. Ek moes dikwels in my films Engels praat want dit was nodig om almal te bereik. Maar ek het Afrikaans op die Universiteit van die Vrystaat studeer, onder groot professore en kokkedore soos Gerhard Beukes. Dit het my gevorm.”
Hoewel hy nou dikwels met pyn sukkel, het hy nie sy passie vir stories en humor verloor nie.
“Ek het ’n draaiboek ingestuur na ’n filmstroomdiens en hulle het dit aanvaar! Ons wag net op die kontrak,” vertel hy met ’n vonkel in sy stem.
“Dis net ’n lekker storie, iets wat ek kan doen al is ek in ’n rolstoel en met my kierie. Ek speel bes moontlik my rol so al rol-rol in my rolstoel en met my kierie!” spot hy tong-stewig-in-die-kies.
Sy frustrasie met die mediese beroep is duidelik.
“Onlangs moes hulle weer 16 skroewe van twee en ’n half duim uit my rug haal en dit het nie gehelp nie. Die skroewe lyk soos iets wat jy sommer by Mica Hardware kan koop! Ek voel of my lewe ontneem is.”
Schuster kan nie meer meer gaan gym nie.
“Ek mag glo gaan swem, maar ek sien nie kans om saam met tagtigjarige anties met hul danspassies met poodle noodles te gaan swem nie! Ek is te jonk vir daai geselskap. Ouer vrouens was nog nooit my styl nie,” sê hy met ’n tipiese Schuster-grappie, soos dikwels half-ernstig.
Ten spyte van sy pyn, kies hy steeds om die lewe met humor en warmte aan te pak.
Wanneer hy praat oor die kykNET-reeks van vervaardiger Rian van Heerden, Schuster, wat in die eerste week van Oktober uitgesaai word, lag hy effens ongemaklik.
“Ek hou nie baie daarvan nie. Dis vir my soos selfverheerliking. Ander mense praat oor my en sê net goeie dinge, maar ons het mos maar almal ons tekortkominge en ’n donker kant. Daaroor gesels ons nie.”
Dalk ís dit juis daardie opregtheid wat hom so geliefd maak en sy vermoë om mense te laat lag én nadink en sy bereidheid om juis veral nou, kwesbaar te wees.
Sallas de Jager van die FAK het dit perfek opgesom na sy besoek aan Schuster om die toekenning te oorhandig. “Om ’n baanbreker en ’n uiters veelsydige vermaaklikheidskunstenaar te vereer vir sy bydrae van meer as 50 jaar in verskeie mediums, is vir die FAK ’n reusevoorreg. Hy is ’n onmisbare deel van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse landskap; deur en deur ’n legende.”
En Leon self? Hy sê nederig: “Ek wil net onthou word as iemand wat vir mense vreugde gebring het. Wat mense bymekaargebring het. Daar’s niks beter as om iemand te laat lag nie.”
In ’n wêreld wat soms té ernstig geraak het, is dit dalk die grootste erfenis wat enige kunstenaar kan nalaat.
Of hy nou met ’n kierie loop of dalk iewers in die toekoms op die silwerskerm met ’n rolstoel rol of oor ’n dokumentêr oor homself brom, Leon Schuster bly ’n man wie se hart net so groot soos sy gehoor is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

