Aitsa! Toekennings nou op kassie
Die nominasies per kategorie word vanaf 3 Oktober op Pretoria FM se sosiale media platforms bekend gemaak. Drie kategorieë is reeds bekend.
Die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings 2025, aangebied deur Pretoria FM, beloof om vanjaar een van die mees dinamiese en glansryke musiekgeleenthede op die Afrikaanse kalender te wees.
Hierdie jaar se geleentheid is nie in die formaat van ’n formele konsertaand nie, maar steeds ’n huldeblyk aan die rykdom van Afrikaanse musiek, kunstenaarskap en kultuur.
Wat hierdie jaar besonders maak, is dat die Aitsas deel vorm van die groter viering van Afrikaans 100, wat honderd jaar van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika herdenk.
Die gala-aand word op 6 November op die Via-T-kanaal uitgesaai en sal kykers regoor die land saambring vir ’n visuele en emosionele reis deur die beste liedjies wat Afrikaanse musiek vanjaar bied.

Volgens Révan Luus, projekbestuurder van die Aitsas, gaan hierdie nie net ’n toekenningsgeleentheid wees nie.
“Dit is ’n geskiedkundige viering van die kunsvorm, die passie en die ongelooflike talent wat ons in die Afrikaanse musiekbedryf het.”
Die nominasies per kategorie word vanaf 3 Oktober op Pretoria FM se sosiale media platforms bekend gemaak. Drie kategorieë is reeds bekend.
Die Ballade van die Jaar-nominasies wys duidelik op die diepgang en emosie wat Afrikaanse musiek oordra: Demi Lee Moore met Outydse Liefde, Die Piesangskille se Laaste Liefde, Juanita du Plessis met Ek Belowe, Ons Musiek met Terugkom en Elvis Blue saam met Corlea Botha met Diepkant Droom.

In die kategorie vir Album/EP van die Jaar is die nominasies: Demi Lee Moore se Klein Dingetjies, Bernice West se Identi‘TYD, Brendan Peyper se Omdat Jy Mag, Kurt Darren se 100% en Ons Musiek se Begin.
Laurika Rauch se Huis is vir beide Ballade en Album van die jaar benoem.

Pop Liedjie van die Jaar is nog ’n kategorie met groot name: Eloff en Demi Lee Moore se As Ek Dalk, Kurt Darren se Hop Hop Spinnekop, APPEL met Heito Potato, Tamlyn Wessels se Klein Bietjie, Demi Lee Moore se Die Mooi In Jou en Chris Steyn se Plaas Dorp Toe.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
