Departement skors skoolhoof vir twee maande oor onvanpaste verhouding
Jacques Joubert, hoof van Laerskool Mayville, is vir twee maande sonder salaris geskors deur die Gauteng Department van Onderwys weens ’n selferkende verhouding met ’n onderwyseres. Die adjunkhoof dien tydelik in sy plek.
Die Gautengse Onderwysdepartement het bevestig dat Jacques Joubert, die skoolhoof van Laerskool Mayville, amptelik vir twee maande sonder ’n salaris geskors is.
Dit skorsing geld van 1 Oktober tot en met 30 November.
Dié besluit volg na die afloop van ’n dissiplinêre proses waartydens die departement bevind het dat sy gedrag rondom ’n verhouding met ’n onderwyseres in 2024, onaanvaarbaar en onbehoorlik was.
Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die departement, is die skool se beheerliggaam sowel as personeel in kennis gestel van die skorsing.
Joubert was reeds op 1 Oktober nie by die skool nie.
“Die departement het reeds die nodige stappe geneem om seker te maak dat daar kontinuïteit en stabiliteit in die skool se bestuur is gedurende hierdie tydperk. Die adjunkhoof, Albert Kluyts, tree tydelik as skoolhoof op,” sê Mabona.
Die beheerliggaam het op 1 Oktober ’n vergadering met ouers belê om die skorsing te bespreek.
Die klagtes teen Joubert spruit uit sy eie erkenning dat hy gedurende die eerste helfte van 2024 ’n fisiese en intieme verhouding met ’n 24-jarige onderwyseres op die skoolterrein gehad het.
Terwyl die departement se dissiplinêre prosesse vanjaar hul gang gegaan het, het die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) vroeër vanjaar reeds ’n straf teen Joubert ingestel: ’n boete van een maand se salaris en ’n opgeskorte skorsing.
Joubert mag volgens dié Saro-uitspraak in sy pos as hoof aanbly, mits hy nie binne die volgende tien jaar weer so ’n oortreding begaan nie.
Die oorspronklike klagte is deur die skool se beheerliggaam aan Saro en die departement aangemeld.
’n Appèl teen die Saro-uitspraak oor Joubert is deur die ander party in die saak, die onderwyseres, aanhangig gemaak en is steeds hangende.
Johan Erickson van Erickson Professionele Dienste, die onderwyseres se regsverteenwoordiger, het skerp kritiek gelewer op die departement se onlangse bevinding en straf teen Joubert.
“Die departement se besluit om Joubert vir twee maande sonder salaris te skors, is ernstig, maar nie proporsioneel tot die erns van sy wangedrag nie. Hy het sy gesag as skoolhoof misbruik en erken dat hy met die skool se CCTV-stelsel gepeuter het om sy optrede te verdoesel,” sê Erickson.
Erickson wys daarop dat wanneer ’n skoolhoof, die persoon wat die hoogste voorbeeld moet stel, hom aan sulke dade skuldig maak, behoort die sanksies ferm en konsekwent te wees.
“Die publiek het die reg om te verwag dat skoolleiers tot die hoogste standaard gehou word. Ons vertrou dat die Saro-appèlproses die nodige stappe sal neem om die beroep se waardigheid en die gemeenskap se vertroue in die onderwys te herstel.”
Joubert behoort volgens die onderwysdepartment op 1 Desember terug te keer na sy pos, maar die finale uitkoms van die Saro-appèl deur die onderwyseres sal ’n invloed hê op sy toekoms in die onderwys.
Pogings om kommentaar van Joubert se regsverteenwoordiger sowel as die voorsitter van die beheerliggaam en Saro te kry, was teen druktyd onsuksesvol.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
