Hersoneringsaansoek ná hofbevel laat inwoners briesend
’n Hofbevel het op 29 Augustus die afbreek van onwettige strukture op Gedeelte 42 van Tiegerpoort beveel. In plaas daarvan gaan bouwerk egter voort, terwyl ’n hersoneringsaansoek vir ’n toeristefasiliteit hangende is.
Inwoners wat sowat 500 meter van die eiendom woon waar ’n interdik verkry is teen die bou van ’n waterpark op Gedeelte 42 van die plaas Tiegerpoort 371 JR naby Garsfonteinweg, bly erg bekommerd.
’n Kennisgewing is onlangs op die eiendom se heining aangebring vir hersonering, meer spesifiek vir ’n gedeeltelike hersonering van die eiendom, wat nuwe onsekerheid onder die gemeenskap laat ontstaan het.
Hulle het reeds voorheen beswaar by owerhede aangeteken teen die bestaande onwettige konstruksie van geboue op die perseel en die feit dat ’n hofbevel wat in die Hooggeregshof Pretoria op 29 Augustus 2024 uitgereik is, nie afgedwing is nie.
Hierdie hofbevel het die respondente in die interdiksaak, waaronder Ricky Gold Group Holdings soos in die hofstukke aangedui, beveel om alle onwettige strukture binne 60 dae af te breek. Dit was omdat die konstruksie in stryd was met die titelakte van die eiendom en as onwettig beskou is.
Tog, sê die inwoners, ‘het hierdie bevel nie tot uitvoering gekom nie’, en die strukture staan steeds daar.
Voorbereiding van die perseel vir moontlike voortgesette konstruksie het ook vanjaar volgens inwoners plaasgevind tot 17 Oktober.
Hul kommer het verder toegeneem nadat ’n kennisgewing op die terrein verskyn het wat aandui dat ’n aansoek nou ingedien is om die grond te hersoneer vir die bou van ’n toeristefasiliteit. Dit stem duidelik nie ooreen met die huidige toegelate grondgebruik nie.
Die kommer oor die perseel en die gebruike daarvan het oorspronklik by inwoners en bure teenaan die eiendom ontstaan in Februarie 2024 toe die strukture van meer as twee verdiepings hoog op ’n eiendom van 8.45ha teen die Garsfonteinpad opgerig is.
Een van die inwoners wat onlangs beswaar teen die hersonering en grondgebruik aansoek gedoen het na die verskyning van die kennisgewing, sê die grond is bestem vir lae-digtheid residensiële en kleinskaalse landboudoeleindes, en die titelakte verbied duidelik kommersiële gebruik of onderverdeling.
“Strukture wat sonder goedkeurings opgerig is, moet verwyder word voordat nuwe aansoeke oorweeg word. Die proses is gekenmerk deur ’n gebrek aan volledige inligting soos verkeersimpakstudies, water- en afvalwaterbestuur, en omgewingsimpak-assesserings. Daar is ook kommer oor die invloed op grondwater en verkeersveiligheid, sowel as die moontlike toename in misdaad en skade aan die landelike karakter van die area,” verduidelik die inwoner wat anoniem wil bly.
’n Ander inwoner voel die beoogde toeristefasiliteit op ’n landbougrondstuk is nie net in stryd met die grondgebruik nie, maar ook nie deeglik deurdink in terme van bronne soos waterbronne in die area nie.
“Ons is bekommerd oor veiligheid, veral met kinders wat die terrein gebruik, asook die impak op waterbronne wat slegs op grondwater staatmaak. Die aansoek is vaag en verskaf nie noodsaaklike inligting oor infrastruktuur, bedryfstye, of impakte nie. Ons versoek bevestiging of alle nodige goedkeurings van relevante departemente soos Landbou, Bosbou en Visserye, Gautengse Landbou- en Landelike Ontwikkeling, en Water en Sanitasie verkry is,” sê die inwoner.

Hierdie besware weerspieël ’n diep ongerustheid oor ’n ontwikkeling wat nie net die huidige wetgewing oortree nie, maar ook die gemeenskap se regte en veiligheid bedreig.
Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê die hofbevel is nie deur die metro uitgevaardig nie en daarom kan die munisipaliteit nie die bevel afdwing nie aangesien die eiendom privaat besit word.
“Die Tshwane Landgebruikbestuursregulasie 2016, wat in 2024 hersien is, bepaal die proses vir die indiening van aansoeke vir spesifieke grondgebruike en die openbare deelnameproses wat gevolg moet word. Betreffende Gedeelte 42 van Tiegerpoort, is ’n aansoek vir ’n toeristefasiliteit en ’n aansoek vir die verwydering van titelaktebeperkings op 30 September ingedien. Hierdie aansoeke is nog in proses, en besware is ontvang. Sodra alle interne kommentaar van stadsdepartemente ontvang is, sal die saak na die Munisipale Beplanningstribunaal verwys word vir ’n besluit.”
Mashigo het verder verduidelik dat omgewingsimpakstudies en verwante goedkeurings word deur die Gauteng provinsiale regering hanteer, en die metro kan nie kommentaar lewer op hierdie prosesse nie.
“Die Boubeheerafdeling sal wel ’n oortredingskennisgewing uitreik vir enige onwettige huidige bouwerk. In terme van infrastruktuur, vereis die wet dat enige nuwe ontwikkeling behoorlik bedien moet word met infrastruktuur voordat ondersteuning verleen kan word.”
Rekord het van die inwoners verneem dat die voorbereidings wat vir konstruksie gemaak is vanaf vroeër vanjaar, op 17 Oktober gestaak is nadat ’n bou-inspekteur die perseel besoek het.
Oor die moontlike veiligheid van strukture van die toeristefasiliteit, verduidelik Mashigo, dat professionele diensverskaffers deur die eienaars aangestel sal moet word om die terrein en fasiliteit se veiligheid vir gebruikers te waarborg.
Mano Ntsibande van Lindtiz Town Planners, die beplanningsfirma wat die ontwikkelaar se aansoek hanteer, het die volgende na aanleiding van vrae van Rekord gesê: “Ons vra vriendelik dat die openbare deelnameproses eers afgehandel word, wat op 29 Oktober sal verstryk voor ons kommentaar lewer. Die aansoek bly oop vir besware en ons verwag moontlik meer insette. Ons doel is om nie die proses te belemmer nie, maar om alle navrae en besware deeglik te hanteer, insluitend dié van Rekord en ander belangegroepe.”
Bekommerde inwoners het nou ’n beroep op die metro gedoen om die hersoneringsaansoek op grond van nie-nakoming en risiko’s vir die publiek te weier, om toe te sien dat alle onwettige strukture verwyder word, en streng regulasies ingestel moet word indien goedkeuring verleen word.
Die regulasies sluit in beperking van bou-intensiteit, bedryfstye, en sekuriteitsmaatreëls.
Inwoners voel ook dat in so ’n geval ontwikkelaars infrastruktuurbydraes moet maak en seker maak dat die munisipaliteit nie die las dra nie.
’n Belangegroep wat inwoners verteenwoordig het reeds in Oktober vergader om die kennisgewing te bespreek en die implikasies van die proses vorentoe. Die openbare deelnameproses-vergadering tussen die inwoners en verteenwoordigers van die applikante sal in November geskied.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
