Local news

Welkom terug, Bakkies!

Bakkies, die suidelike olifantrob, het weer op die Wes-Kaapse kus sy verskyning gemaak. Hierdie merkwaardige dier kom aan wal om te rus en te vervel. Die publiek word versoek om minstens 20m weg te bly en hom nie te versteur nie. Elke besoek help navorsers om meer te leer oor hierdie seldsame see-reus.

Die Wes-Kaap se strande het weer ’n besonderse besoeker ontvang: Bakkies, die suidelike olifantrob.

Bakkies is oorspronklik in Desember 2024 by Bakoven in Kaapstad met ’n blou etiket gemerk. Dit was deel van ’n samewerkende navorsingsprojek tussen die South African Polar Research Infrastructure (SAPRI), die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake (DFFE) en die Two Oceans Aquarium se Marine Wildlife-span.

Vanjaar het hy weer sy verskyning aan die Kaapse kus gemaak en kon hy as gevolg van die etiket uitgeken word.

Bakkies het nou weer eens die aandag van Wes-Kaapse strandbesoekers getrek net soos die geliefde bekende olifantrob, Buffel.

Buffel, ’n gunsteling-mariene reus, het al jare lank gereeld langs Kaapstad se kus verskyn, ’n opwindende ervaring vir die stad se publiek.

Volgens Martine Viljoen, die mariene wildlewe-bestuurder by die Two Oceans Aquarium Foundation in Kaapstad, is hierdie besoeke van die olifantrobbe nie rede tot kommer nie.

“Terwyl dit ongewoon is om hulle op ons strande te sien, is dit natuurlike gedrag. Hulle kom aan land om te rus of te vervel, en dit bied vir ons ’n belangrike kans om meer te leer oor hierdie indrukwekkende diere, terwyl ons ook die publiek opvoed oor respekvolle samelewing met seelewe.”

Sy verduidelik dat Bakkies vanjaar laas in April naby Mouille Point gesien is, voordat hy onlangs weer by Onrusstrand uitgeklim het om te rus en te vervel.

Die Overstrand Munisipaliteit het onmiddellik ’n beskermingsgebied om hom opgestel, terwyl plaaslike vrywilligers van die Onrus Vermont Special Rating Area NPC toesig gehou het om te verseker dat die dier nie versteur word nie.

Sy glo hierdie samewerking illustreer die waarde van gemeenskapsdeelname in wildlewebeskerming.

Gregg Oelofse, kus- en omgewingsbestuurder van Kaapstad metro, het lof uitgespreek vir die werksaamhede van die akwariumspan wat daartoe gelei het dat Bakkies uitgeken kon word.


Toe die suidelike olifantrob Bakkies onlangs op Onrus in die Wes-Kaap verskyn het, het die Omgewingsafdeling van die Overstrand Munisipaliteit vinnig opgetree om ’n beskermingsgebied om hom op te rig. Plaaslike vrywilligers van die Onrus Vermont Special Rating Area NPC het selfs skofte opgeneem om toesig te hou en seker te maak dat hy ongestoord kan rus. Foto: Verskaf

Viljoen sê wanneer groot diere soos olifantrobbe aan land kom, is dit belangrik dat mense hul ruimte respekteer.

“Hulle kom nie uit die water omdat hulle siek is nie, maar omdat hulle hul dik vel en pelslaag moet vervel, ’n proses wat drie tot vyf weke kan duur. Gedurende hierdie tyd verloor hulle hul buitenste vel en hare, en dit is uiters noodsaaklik dat hulle ongestoord kan rus,” verduidelik sy.

Om almal se veiligheid te verseker, word die publiek versoek om minstens 20m weg te bly van die dier, nie water oor hom te gooi nie, en enige lawaai of beweging te beperk.

Die akwarium beveel ook aan dat honde op die strand moet te alle tye aan ’n leiband wees om enige konflik tussen diere te voorkom.

“Hierdie eenvoudige riglyne help om beide mense en diere te beskerm en maak dit moontlik vir almal om hierdie seldsame besoekers op ’n verantwoordelike manier te bewonder,” sê Heather Wares, kommunikasiebestuurder by die Two Oceans Aquarium.

Sy wys daarop die suidelike olifantrob is die grootste robspesie in die wêreld. Mannetjies kan tot 7m lank word en tot vyf ton weeg.

Hulle het hul naam te danke aan die lang, slurpvormige neus van die mannetjies, wat soos ’n olifant se slurp lyk.

Bakkies, die suidelike olifantrob met die herkenbare blou merk #17612 op sy agterste vin, is oorspronklik in Desember 2024 by Bakoven gemerk. Foto: Verskaf

Hierdie robbe leef hoofsaaklik in die Suidelike Oseaan, met groot kolonies op eilande soos Marion-eiland, sowat 2 100km vanaf Kaapstad.

Dit is dus ’n seldsame en opwindende gebeurtenis wanneer een van hulle op Suid-Afrikaanse strande opduik.

Tog is hul teenwoordigheid heeltemal natuurlik, en navorsers sien dit as ’n waardevolle geleentheid om meer oor hul gedrag te leer.

“Die verskyning van Bakkies herinner ons daaraan dat die Kaapse kus ’n lewende ekosisteem is wat met die groter wêreld se oseane verbind is. Elke keer wanneer ’n suidelike olifantrob aan wal kom, is dit ’n kans vir wetenskaplikes, studente en die publiek om meer te leer oor die interaksie tussen mens en natuur. Dit is ook ’n herinnering aan hoe belangrik dit is om ons kuslyn te beskerm en die diere wat dit besoek, met respek te behandel,” glo Wares.

Indien lede van die publiek iemand (of hul hond) sien wat ’n olifantrob teister, skade berokken of inmeng, skakel Kaapstad metro by 021 480 77 00 of 083 940 8143.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button