Local news

Mosie van wantroue teen Modise ‘voortydig’

Die waarnemende Speaker van die Raad, raadsheer Seabelo Marishane, het die DA se mosie geblokkeer. Dit is as voortydig verklaar aangesien ’n amptelike ondersoek na Modise se beweerde botsing van belange nog aan die gang is en nie aan die raad ter tafel gelê is nie.

Adjunkburgemeester van Tshwane en raadslid vir Finansies, Eugene Modise, het ’n mosie van wantroue teen hom oorleef tydens ’n raadsvergadering wat op 30 Oktober gehou is.

Opposisiepartye wat die mosie teen hom gebring het, het beweer dat Modise aanhou om voordeel uit tenderkontrakte te trek en besigheid te doen met die metro ten spyte daarvan dat hy ’n openbare amp beklee.

Die mosie is egter geblokkeer deur die waarnemende Speaker van die raad, raadsheer Seabelo Marishane, wat beslis het dat dit voortydig is, aangesien ’n amptelike ondersoek na Modise se beweerde botsing van belange steeds aan die gang is en nog nie voor die stadsraad ter tafel gelê is nie.

Marishane verduidelik dat die Speaker se kantoor ’n brief vanaf die kantoor van die stadsbestuurder op 26 Februarie ontvang het wat die metro in kennis stel oor ’n klagte wat deur DA raadslid Jacqui Uys aanhangig gemaak is.

Die klagte beweer dat daar ’n botsing van belange is wat Modise betrek en vereis dat dit ten volle ondersoek word. “Die kantoor van die stadsbestuurder het daaropvolgend gevra dat die Speaker van die raad die ouditbestuurder bemagtig om ’n ondersoek in te stel,” sê Marishane.

Hy verduidelik ook dat volgens die Wysigingswet op Strukture 3 van 2021, bemagtig die Gedragskode vir Raadslede die Speaker om vermoede-oortredings te ondersoek.

“Volgens Afdeling 15B van die Gedragskode is hierdie ondersoek teen Modise nog aan die gang en behoort teen einde November afgehandel te word. Na my mening, is dit voortydig om met hierdie mosie te hanteer, aangesien die verslag oor die ondersoekuitslag nog nie aan die raad beskikbaar gemaak is nie,” sê hy.

Met verwysing na Afdeling 19 (1)(B) van die Reëls en Bevele, voeg Marishane by dat die mosie bloot ’n mening en gevorderde argument uitlig en dus van die hand gewys is.

As gevolg hiervan het die raad nie die mosie gedebatteer of daaroor gestem nie.

Modise se probleme het begin toe vrae ontstaan het oor sy beweerde verbintenis met Triotic Protection Services, ’n maatskappy wat sekuriteitswagdienste aan die metro verskaf.

Na wat verneem word, het die maatskappy kontrakte wat miljoene rand werd is, wat kommer gewek het oor ’n moontlike botsing van belange.

Volgens die DA, het Modise ’n raadslid in Februarie 2023 geword maar na bewering versuim om sy finansiële belange in Triotic te verklaar. Dit is ’n direkte oortreding van die reëls bedoel om deursigtigheid en integriteit onder openbare beamptes te handhaaf.

Die Wet op Munisipale Stelsels verhoed raadslede om by kontrakte te baat vir munisipaliteite wat hul dien.

Die DA beweer dat Modise persoonlik by die transaksies gebaat het, en verwys na bewys van sy eienaarskap of aandele in Triotic.

Burgemeester dr. Nasiphi Moya het daaropvolgens ’n interne ondersoek na die bewerings ingestel.

Volgens die DA, bevestig bevindings van die ondersoek wat uitgelek het dat Modise versuim het om sy belange in Triotic te verklaar.

Die party beweer verder dat Modise ‘oneerlik’ was deur te sê dat hy sy aandele deur ’n afbetalingsooreenkoms verkoop het, ’n transaksie waar betalings mettertyd gedoen word en waar eienaarskap nie onmiddellik oorgedra mag word nie.

DA koukusleier Cilliers Brink kritiseer die stadsleiers en sê dat die ANC/EFF/ActionSA-koalisie Modise beskerm.

“Vandag het die waarnemende Speaker van Tshwane ’n mosie van wantroue in adjunkburgemeester Eugene Modise geblokkeer op die basis daarvan dat die mosie voortydig is,” sê Brink.

Hy voer aan dat die Speaker weier om die voltooide ondersoekverslag aan die stadsraad voor te lê.

“Die ondersoek na Modise se ongeopenbaarde en aanhoudende finansiële belange in Triotic Protection Services, ’n maatskappy wat ’n multimiljoenkontrak met Tswhane het, is weke gelede afgehandel,” sê Brink.

Hy voeg by dat uitgelekte afskrifte van die verslag bevestig dat Modise wesenlik die Gedragskode vir Raadslede oortree.

“Die kode verbied raadslede daarteen om by munisipale kontrakte te baat,” sê Brink.

Hy beskuldig Moya daarvan dat sy Modise beskerm deur hom, ten spyte van die bewerings, as raadslid vir Finansies te behou.

“Op sy beurt, weerhou die Speaker die tertafellegging van die ondersoekverslag aan die stadsraad,” sê hy.

Die DA het sedertdien sy prokureurs aangesê om regstappe te neem om die stad te dwing om die Modise-verslag uit te reik.

Brink het dit openbaar gemaak dat Triotic se kontrak met Tshwane in Februarie verval het, tog is dit verleng sonder ’n mededingende bodproses, en het gelei na onreëlmatige besteding van R170-miljoen.

“Triotic verskaf steeds sekuriteitswagdienste aan Tshwane sonder ’n geldige kontrak, en gaan dus daagliks onreëlmatige bestedings aan,” beweer hy.

“Ons kan nie hierdie ou [Modise] vertrou om bewaarder van stadsfinansies te wees nie.”

Hy voeg by dat indien Modise sy belange verklaar het, sou die metro nie die kontrak verleng het nie en die onreëlmatige besteding vermy.

“Modise se wanvoorstelling in sy versuim om sy belang in Triotic te verklaar en die vooroordeel aan die metro regverdig saam ’n kriminele aanklag van bedrog teen hom,” sê Brink.

“Die metro probeer om Modise te beskerm deur om die verslag weg te steek. Die DA gaan nou die stad dwing om dit wat hul liewers wil wegsteek, te openbaar.”

Modise sê die leuens waarmee die DA smous ‘word nou vermoeiend’.

Hy sê die DA is op die veldtogspoor sedert dit sy kandidate aangekondig het, en omdat sy stoom en relevansie opgeraak het, neem dit toevlug daarin deur om te lieg.

“Hul het die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, vir maaande aangeval, toe gaan hul vir die Speaker en het ’n skandelike mosie ter tafel gelê, wat verslaan is. Nou is dit my beurt, en hierdie keer het hul die lompste mosie van wantroue gebruik wat ek ooit teëgekom het,” sê Modise.

“Die DA het aan die stadsbestuurder geskryf, en toe hy veronderstel is om te reageer, gaan hul na die burgemeester en vra haar om hul bewerings te ondersoek, wat op sigself daarop wys dat hul nie vertroue in hul storie gehad het nie.

“Die burgemeester het onmiddellik ’n forensiese ondersoek ingestel, en terwyl hulle vir die firma wag om sy werk te doen, hardloop hulle na die Openbare Beskermer met hul bewerings.”

Modise voeg by die Speaker het toe die inligting oor hul bewerings ontvang en is aangeraai om regsadvies te kry. “Hy is besig om sy interne normale prosesse te finaliseer en die verslag sal in November ter tafel gelê word.

“Nou hardloop hul amok want hul besef dat al die ondersoeke hulle nie gee wat hul soek nie, so hulle het ’n skrale mosie van wantroue ingebring. Daar’s niks skelm of vreemd nie, hul wil voorsieningsprosesse beïnvloed, ons verwelkom dit dat hulle dit doen en hulself blootlê.

“Geen politieke hoof kan enige kontrak verleng nie, en die bewering van onreëlmatige besteding is ongegrond. Hul het die reg om alle weë wat hul nodig ag te ondersoek en kan selfs na die Madlanga-kommissie gaan want ons het niks om weg te steek nie,” sê Modise.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Itumeleng Mokoena

Itumeleng Mokoena is a skilled journalist with experience in investigative reporting, interviewing, photography, and writing accurate news. Based at Pretoria Rekord East, he covers various beats and is dedicated to informing and educating the community. With a diploma from Tshwane University of Technology and previous experience at Lowveld Media, he is a passionate and hardworking journalist.
Back to top button