Rolballegende vier eeu-mylpaal op die baan
Johan Havenga het sy mylpaalverjaarsdag by die Lynnwood-rolbalklub met ’n feeswedstryd, sjokoladekoek en vriende gevier. Die voormalige George-klubpresident en bekroonde afrigter is steeds aktief en waarskynlik Suid-Afrika se oudste rolbalspeler.
’n Rolballegende van Pretoria-oos het onlangs sy 100ste verjaarsdag met ’n feeswedstryd gevier.
Toe oom Johan ‘Klasie’ Havenga die geilgroen bane van die Lynnwood-rolbalklub op 7 November betree het, en die bal sorgsaam op sy regterhand geweeg het met ’n tegniek wat hy oor die jare verfyn het, was dit ’n groot oomblik vir dié sportlegende.
Op 6 November was dit sy 100ste verjaarsdag en hy was omring met geliefdes, maar die dag daarna was hy reg om ter viering ’n rolbalwedstryd teen stewige mededinging te speel.

Vir Havenga was dit ook belangrik dat talle rolbalvriende in die bestuurskringe van rolbal in Gauteng en Suid-Afrika ook die groot dag bygewoon het.
Verder kon hy ook die mylpaalverjaarsdag met ’n ryk, donker sjokoladekoek met geurige versiering, sy gunsteling, in die klubhuis tydens ’n spoggerige geleentheid vier.
“Hoe heerlik is dit om almal te sien!” het hy dikwels uitgeroep en almal vir sy hartswens, ’n groepfoto op die baan, bymekaar gekry. “Mens moet die goue oomblikke vasvang,” het hy bygevoeg.

Havenga is steeds ’n aktiewe lid van die Lynnwood-rolbalklub, en is ook goed bekend in George se rolbalkringe.
Hy het in Mei 2001 by die George-rolbalklub aangesluit en het in 2006 en 2007 as president van die klub gedien. In 2009 is hy as ontwikkelingsbeampte van die Eden-distrik aangestel en in 2011 is hy deur die Sportraad as afrigter van die jaar aangewys.
Daardie jaar het hy ook die Sportlegende van die Jaar-toekenning van die Sportraad ontvang.
By die Tuinroeteklub het hy in 2016 die Presidents-toekenning vir leierskap en toewyding ontvang, en is hy ook met lewenslange erelidmaatskap vereer.
Daar word vermoed dat hy moontlik die oudste aktiewe rolbalspeler in Suid-Afrika is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
