CrimeLocal news

Buurtwaghommeltuie nou ook reg vir swaar weer

Tydens Magalies OPS 1 het misdaadbekampingspanne van die Wes-Moot en Pretoria-Noord saam met die SAPD en sekuriteitsvennote sukses behaal teen misdaad. ’n Verdagte is in hegtenis geneem, en gevorderde hommeltuig-tegnologie het koördinering en sigbaarheid verbeter.

Tydens die onlangse Magalies OPS 1-veiligheidsoperasie in die eerste week van November het AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag, in samewerking met verskeie veiligheidsvennote en die SAPD, bewys dat tegnologie en spanwerk ’n dodelike kombinasie vir misdaad kan wees.

Die Noord van die Berg-buurtwag het bestaan uit vrywilligers uit Sinoville, Montana en De Wildt, terwyl die Wes-Moot-span ondersteuning van die suide af gebied het.

Die operasie het gelei tot die inhegtenisneming van ’n verdagte wat vermoedelik by verskeie inbrake, kabeldiefstal en gewapende aanvalle in die Akasia-gebied betrokke is.

Meer as net die inhegtenisname, het Magalies OPS 1 die waarde van georganiseerde gemeenskapsamewerking en gevorderde hommeltuigtegnologie bevestig.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, lê die geheim van hierdie doeltreffende misdaadbekamping in samewerking: “’n Steunkring beteken dat niemand alleen hoef te staan nie. Wanneer ons takke, buurtwagte, die SAPD en privaat sekuriteit saamstaan en ’n steunkring vorm, word gemeenskappe sterker as die misdadigers wat hulle teiken”.

Volgens hom is hierdie steunkring nie net ’n figuurlike beskrywing van samehorigheid nie, maar ’n dinamiese netwerk van mense en tegnologie wat mekaar versterk in die stryd teen misdaad.

Hemmens verduidelik dat veiligheid in die noorde en die Wes-Moot nie meer verseker kan word sonder hommeltuie nie.

“Met die hommeltuie het ons beheer oor wat al die rolspelers in die voorkoming van misdaad doen. Ons kan aksies koördineer, beplan en vinnig aanpas,” sê hy.

Die inligting wat die hommeltuie insamel word gebruik om radiokommunikasie tussen patrollies te optimaliseer.

Wanneer verdagtes in die omgewing beweeg, kan die grondspanne presies rigting en afstand bepaal, en die verdagtes kan hul letterlik in ’n knyptang vasloop.

Hierdie nuwe vlak van situasiebewustheid verander hoe buurtwagte funksioneer.

“Hommeltuigtegnologie stel ons in staat om op plekke te kom waar ons nog nooit tevore kon wees nie,” sê Hemmens verder. “Die nagsigtoerusting wat nou in ons hommeltuie geïnstalleer is, maak dit moontlik om bewegings duidelik te sien, selfs in stikdonkerte. Normaalweg kan jy skaars twee meter voor jou sien, maar nou kan ons die misdadigers tot op die laaste meter volg.”

Swaar reën en onweer het nuwe uitdagings vir patrollies geskep. Die span moes hul hommeltuie aanpas sodat hulle steeds in moeilike weerstoestande kan werk.

Hierdie tegnologiese bywerking beteken dat die buurtwag nou selfs tydens storms kan patrolleer.

Volgens hom is dit ’n kritieke voordeel, aangesien baie misdadigers ongunstige weer gebruik om hul aktiwiteite weg te steek.

Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak, sê die operasie is die resultaat van vasberadenheid en strategiese beplanning.

“Wanneer jou omgewing gebuk gaan onder misdaad, kan jy óf daaroor kla óf opstaan en iets daaraan doen,” verduidelik hy. “Ons het besluit om daadwerklik op te tree en hierdie gebied te help beveilig. Die hommeltuie gee vir ons nie net oë in die lug nie, maar ook ’n gevoel van beheer oor die veiligheid van ons gemeenskap.”

Met die hulp van die SAPD, privaat sekuriteitsmaatskappye en AfriForum se mobiele beheereenheid is Magalies OPS 1 gekoördineer vanaf Belgium Campus iTversity, waar ’n gesamentlike operasionele sentrum ingerig is.

Vanaf hierdie punt is elke beweging in die veld en veral in die Magaliesberg dopgehou: lugbeelde, radioverkeer en grondverslae het saamgewerk om ’n geïntegreerde prentjie van die situasie te vorm.

Die hommeltuie het deurlopend lugwaarneming gedoen. Hierdie beelde is ook gebruik om verdagte bewegings oor die Theo Martins-poort en R80-roete op te spoor, gebiede wat as hoërisiko-sones geïdentifiseer is.

“Ons kon duidelik sien hoe misdadigers die berg as ontsnappingsroete gebruik,” vertel Hemmens. “Met die hommeltuie kon ons hul roetes volg en selfs plekke identifiseer waar hulle gesteelde goedere soos skootrekenaars en handsakke versteek.”

“Die hommeltuie gee ons beheer, maar die mense agter die tegnologie is wat dit werklik laat werk,” sê Janse van Vuuren. “Elke buurtwaglid, elke sekuriteitsbeampte en elke SAPD-lid het ’n rol gespeel. Sonder daardie samewerking is tegnologie nutteloos.”

Met die komende vakansie in sig beplan die misdaadbekampingspanne reeds nuwe operasies om veral ook opportunistiese misdade te voorkom.

Hemmens verduidelik dat daar spesiale fokus op toegangsroetes na die noorde sal wees. “Ons beplan operasies voor en gedurende die vakansie om seker te maak dat toegangsroetes vir misdadigers gesluit bly. Dinge soos selfoon- en handsakdiefstal by verkeersligte, of ruite wat ingeslaan word om voorwerpe uit voertuie te steel, is ’n groot probleem. Ons gaan dit aanspreek met lugondersteuning en verhoogde patrollies.”

Deur hierdie beplande operasies te kombineer met lugwaarneming, glo hy kan die buurtwag vinnig reageer op enige verdagte bewegings en verdagtes vaskeer voordat hulle kans kry om te ontkom.

Hemmens het al die rolspelers en vrywilligers wat by Magalies OPS 1 betrokke was bedank. Belgium Campus iTversity het sy terrein beskikbaar gestel vir die operasionele sentrum, terwyl Sacramento Spur vir die lede etes voorsien het.

Hierdie gebare van ondersteuning beklemtoon dat veiligheid nie net die verantwoordelikheid van veiligheidsinstellings is nie, maar van die hele gemeenskap.

Hemmens glo dat die Noord van die Berg-buurtwag se sukses ’n nuwe standaard stel vir gemeenskapsveiligheid.

“Ons is nie hier om die SAPD te vervang nie maar … om hulle te versterk. Met tegnologie, samewerking en vasberadenheid kan gewone mense buitengewone dinge doen.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button