Taalraad vier uitnemendheid in Eersterust-skole
Die Afrikaanse Taalraad en LAPA Uitgewers het in Eersterust ’n boekprysinisiatief geloods om uitnemendheid in Afrikaans te vier. Topleerders van P.S. Fourie- en Nantes-laerskole is vereer, met die klem op moedertaalonderrig, trots, gemeenskapsamewerking en die krag van Afrikaans.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het onlangs sy betrokkenheid by gemeenskappe verder versterk deur betekenisvolle projekte wat daarop gemik is om onderwysers sowel as leerders in Eersterust te ondersteun en te inspireer.
Die Taalraad is ’n nie-regeringsorganisasie wat Afrikaans en die regte van sy sprekers binne ’n meertalige konteks bevorder.
Hierdie inisiatiewe vorm deel van die Taalraad se breër doelwit om Afrikaans as opvoedkundige en gemeenskapsinstrument te bevorder, en om vennootskappe te bou wat volhoubare impak het.
As deel van sy voortgesette strewe om taalprestasie te bevorder, het die Taalraad in vennootskap met LAPA Uitgewers ’n spesiale boekprysinisiatief in Eersterust van stapel gestuur om uitnemendheid in Afrikaans te vier.
Tydens ’n gesellige oorhandigingsgeleentheid is die toppresterende leerders van Eersterust se P.S. Fourie- en Nantes-laerskole vereer vir hul uitsonderlike prestasies in Afrikaans Huistaal en Afrikaans Addisionele Taal.
Merlyn van der Rheede, die Noorde-projekbestuurder van die Taalraad het die boeke oorhandig en die leerders toegespreek oor die waarde van moedertaalonderrig en die krag van Afrikaans as draer van kennis en identiteit.
Die onderwysers het hul waardering uitgespreek vir die erkenning wat aan hul leerders geskenk is, en beklemtoon hoe sulke gebare motivering en trots binne die skoolgemeenskap versterk.
Sy het die belangrikheid van hierdie tipe gemeenskapsbetrokkenheid onderstreep: “Wanneer ons saamwerk, skole, organisasies en die breër gemeenskap, bou ons nie net bande nie, ons bou mense”.
Deur die boekprysprojek glo Van der Rheede bewys die Taalraad dat die organisasie meer is as net ’n instansie, en dat hulle ’n vennoot in gemeenskapsontwikkeling en opvoeding wil wees.
Sy glo die projekte in Eersterust dien as voorbeeld van hoe doelgerigte samewerking konkrete verskil kan maak, en hoe Afrikaans steeds ’n dinamiese rol speel in die vorming van jong lewens en volhoubare gemeenskappe.
“Die doel van die oorhandiging was om erkenning te gee aan leerders wat uitblink in Afrikaans Huistaal en Afrikaans Addisionele Taal, en om hulle aan te moedig om hul liefde vir die taal verder uit te bou. Deur simboliese geskenke, boeke van LAPA Uitgewers, ontvang hierdie leerders nie net erkenning vir hul akademiese prestasie nie, maar ook inspirasie om aan te hou lees, droom en groei in Afrikaans,” sê sy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
