EntertainmentLocal news

Kersfees kom vroeg vir teatergehoor

Wat maak jy hierdie tyd van die jaar in Pretoria as jy 'n begaafde violis is? Jy en jou 'band' hou Kerskonsert vir jou gunstelingteater se waarderende gehoor.

Dis Donderdagaand by ’n stampvol Atterbury-teater waar die ligte sneeuvlokkies en ’n enorme Kersboom oor die vleuelklavier op die verhoog uitstraal met die fyn klanke van Tchaikovsky se Sugarplum Fairy-dans in die lug.

Bruce Wallace skuif agter die tromme in en Jerry Grove gaan staan oorkant hom met sy baskitaar. Scheppel maak sy verskyning en lig sy strykstok om weg te val met sy weergawe van The Little Drummer Boy en die gehoor maak hulle reg vir die Kerskonsert van die jaar.

Die program sluit in ’n besondere keuse van bekende Kersliedjies en ander stukke wat groot aanklank vind onder die gehoor, van We Three Kings of Orient Are en Oh Holy Night tot Survivor se Eye of the Tiger, Leonard Cohen se Hallelujah, Koos du Plessis se Somerkersfees en Schubert se Ave Maria.

Op die verhoog na die opvoering: Bruce Wallace, Scheppel, Ilze van Staden en Jerry Grove Foto: Deon van Wyk

En daar is nie net instrumentele musiek nie: Scheppel span ook Ilze van Staden se fenomenale opera-stem in met The Phantom of the Opera. Hy vertel later dat hy haar ‘by ’n pizza-plek gehoor het’ en so beïndruk was met haar stem dat hy daar en dan besluit het dat hulle eenvoudig saam móés optree.

Scheppel bekoor by die Kerskonsert. Foto: Deon van Zyl

Stem en viool vloei ook harmonieus saam in hul asemrowende weergawe van Ave Maria.

Daar is ’n opvallende konneksie tussen kunstenaar en gehoor waar hy jou intrek met sy warm en energieke spel, soet klank en aansteeklike genot van die musiek. Dis ’n uitsonderlike gawe om jou gehoor so te bekoor, wat lyk of dit ’n natuurlike ingesteldheid is wat kom oor jare se optredes.

Scheppel meld dat sy geliefkoosde kerslied die triomfantelike The Holy City is, wat Van Staden met hom hartroerend vertolk. Hy speel ook ‘vir al die pa’s’ Mike and the Mechanics se meesloerende The Living Years.

Hy sluit dan af met sy bekende rock-nommer, Thunderstruck van AC/DC, vermoedelik op aandrang van sy aanhangers. Die dramatiese kontras met die voorafgaande musiek herinner daaraan dat hier ’n hoogs bekwame en veelsydige musikant is met ’n breë agtergrond in klassieke musiek wat soomloos beweeg van genre na genre.

Sneeuvlokkies straal uit op die verhoog. Langs Scheppel is Bruce Wallace op tromme en Jerry Grove op baskitaar. Foto: Deon van Zyl

Die gehoor staan op om hom toe te juig en Scheppel en sy span draai om om ’n foto met die skare agter hulle te laat neem. Daarna staan hy glimlaggend reg vir die een foto na die ander met verskeie aanhangers.

Dit was toe nie net die gehoor wat met dié musiek ’n vroeë Kersgeskenk ontvang het nie – Scheppel het Vrydagoggend ook die trotse pa van ’n pragtige babadogtertjie geword.

Verwag hom terug by die Atterbury met Rock me Amadeus vroeg volgende jaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button