Pretoria-media blink uit by TLU SA-toekennings
Twee Pretoria-mediahuise, GROOTplaas in die Bloudruk Media-stal en Pretoria FM, het vanjaar se TLU SA Sonneblom-toekennings gewen vir uitmuntende landbouverslaggewing.
Twee vooraanstaande Pretoria-mediahuise het hierdie week met van die gesogste erkennings by TLU SA se jaarlikse Sonneblom-toekennings weggestap.
Die TV-program GROOTplaas van die Bloudruk Media-stal en Pretoria FM het onderskeidelik die kategorieë vir elektroniese media en klankmedia gewen, terwyl Yogashen Pillay van die KwaZulu-Natal koerant Mercury met die geskrewe-mediaprys bekroon is.
Die glansgeleentheid is by TLU SA se hoofkantoor in Silverton aangebied, waar die rol van landboujoernalistiek en eerlike verslaggewing in die kollig was.
Die Sonneblom-toekenning is ’n jaarlikse instelling waarmee TLU SA hulde bring aan joernaliste en mediaplatforms wat uitmuntende werk lewer in die dekking van landbou, plattelandse realiteite en die uitdagings waarmee boere daagliks worstel.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, speel joernaliste ’n kritieke rol in die brugbou tussen boere en die breër samelewing.
“Joernaliste is soms die enigste brug tussen die boer se werklikheid en die samelewing se begrip daarvan. Wanneer daardie brug met eerlikheid, balans en die soeke na waarheid gebou word, verdien dit erkenning,” sê Van Zyl.
Hy het verder beklemtoon dat die mediabedryf se rol nie net tot rapportering beperk is nie, maar die sleutel dra tot openbare vertroue en begrip.
“Ons boere staan vandag voor uitdagings wat meer kompleks en meer veeleisend is as ooit tevore. Wanneer die media hierdie realiteite met integriteit uitlig, dien hulle nie net die landbou nie, hulle dien die hele land.”
Sedert 2024 monitor TLU SA aktief die media se insette om nie net te bepaal wie die organisasie se standpunte akkuraat weergee nie, maar watter joernaliste werklik die landboubelang dien.

Joernaliste wat die kern van TLU SA se mandaat verstaan, om die boer as voedselprodusent te beskerm, ekonomiese verantwoordelikheid aan te moedig en uitdagings eerlik aan te spreek, word met dié eer bekroon.
Stasiebestuurder van Pretoria FM, James Kemp, het aan Rekord vertel dat die erkenning vir hulle baie beteken, juis omdat die stasie ’n landwye landdbou-publiek bedien.
“Ons is baie bly oor die toekenning aangesien die stasie se reikwydte beslis ook landbouers bedien en ons gereeld terugvoer van luisteraars kry,” sê hy.
“Vir ons is landbouboodskappe, en veral nuus oor wat in die bedryf gebeur, belangrike inligting om uit te dra, veral wanneer dit omstrede sake soos onteiening sonder vergoeding en ander bedryfsnuus behels. Ons beplan om vorentoe ’n nog sterker spesialis-aanslag te handhaaf, met ’n verslaggewer Dian van Rensburg, wat ook reeds op landbou fokus.”
By die span van GROOTplaas het die toekenning groot vreugde ontlok.
Aanbieder Jacques du Preez sê dit is ’n besondere voorreg om as wenner aangewys te word.
“Ons het vanjaar soveel as moontlik kwessies in die landbou probeer aanspreek. Ons uitgangspunt bly om die stories en mense wat passievol oor landbou is, te belig en om die wysheid van die ouer garde in die bedryf aan die volgende geslag oor te dra,” sê Du Preez.
Hy voeg by dat GROOTplaas beplan om hul reikwydte in 2025 na nog meer landelike gebiede uit te brei.
“Ons wil meer boere in afgeleë gebiede bereik. Ons kan almal help deur inligting, raad en veral hoop te deel.”
Ook Maynie Kasselman, inhoudsredakteur van GROOTplaas, het die erkenning met groot dankbaarheid ontvang.
“Om met die bedryf te werk, het my ’n nuwe respek vir landbouers gegee. Ek is baie dankbaar oor die toekenning want ons wil hê die platform moet tot almal se voordeel werk,” sê sy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.