Duisende Kersklappers bring hoop vir talle organisasies
Vriendelike Catrien van Rooyen van East Lynne het ’n eenvoudige idee in ’n grootse hoopprojek omskep. Met meer as 5 500 Kersklappers wat sy met liefde voorberei het, steun sy jaarliks talle instansies. Haar klapperprojek bring nie net vreugde nie, maar ook genesing ná ’n moeilike jaar.
’n Vriendelike en behulpsame verkoopsdame van East Lynne is iemand wat haar gemeenskap al dekades lank stil dien, maar vanjaar het sy hande geneem om ’n groter projek aan te pak.
Catrien van Rooyen het nog altyd gehelp waar sy kan. Soos sy self sê, “as iemand iets nodig het, probeer ek altyd ’n plan maak”.
Sy het in 2022 die eerste keer van Ina Barnard en haar span weldoeners se projekte gehoor.
Barnard is die dinamiese gemeenskapsleier wat voorloop by die organisasie sonder winsbejag, Angels for the Community, wat ’n meer formele beslag in 2025 met die registrasie as ’n organisasie sonder winsbejag gekry het.

Die organisasie se lede help mekaar met hul onderskeie individuele projekte asook aan gesamentelike projekte.
Vantevore het Van Rooyen jaar vir jaar skoolskoene en toiletgoedere-pakkies aan kinders en volwassenes uitgedeel. Sy het die pakkies dikwels by Barnard vir verspreiding afgelaai, want “sy weet waar al die behoeftes in ons gemeenskap is”.
Toe sy besef hoe wyd Angels for the Community werk, het sy geweet sy wil meer doen, iets wat verder strek en om ook hul hande te sterk.
In Januarie vanjaar het sy uiteindelik besluit: sy gaan Kersklappers vol lekkers maak en uitdeel aan verskeie liefdadigheidsorganisasies vir verspreiding teen Kersfees.
Wat begin het as ’n klein idee sou ook mettertyd help om vir Van Rooyen troos, genesing en ’n persoonlike baken van hoop te word.
Die oorspronklike teiken om 200 Kersklappers te maak het gegroei tot ’n projek waarby 5 512 klappers hul weg sou vind na talle organisasies wat andere help.
Vir Van Rooyen was dit ’n riem onder die hart toe sy op 30 November die duisende goudkleurige Kersklappers aan die organisasies kon oorhandig vir verspreiding onder hulle groepe van noodbehoewendes.

Voor: Ina Barnard. (Afwesig: Petro van der Walt). Foto: Elize Parker
Van Rooyen se droom het nie met die maak van die Kersklappers geëindig nie.
Sy het daarrondom verdere projekte, insluitend die uitloof van lootjies rondom ’n reuse-Kersklapper van meer as ’n meter lank, geloods om geld in te samel vir welsynsprojekte.
Vanjaar was allesbehalwe maklik vir Van Rooyen. Haar pa, Hannes Matthee, is oorlede nadat hy ’n hartaanval gehad het. Matthee het nog tot onlangs saam met haar aan die Kersklapperprojek gewerk.
“Daar het soveel dinge vanjaar gebeur,” vertel sy sag. “Die projek moes dikwels eers gestaak word omdat daar veral lede van ons gesin ook dikwels in die hospitaal was.”
Van Rooyen vertel swaarkry is nie vreemd vir haar nie. Sy het ook self geen goue kinderjare geken nie. Hierdie stryd om oorlewing as ’n kind, is juis hoekom sy die projek wou aanpak om veral kinders te help.
“Die projek het vir my baie genesing gebring. Toe my pa gesterf het, het ek besluit om die oorhandigingsdag en die projek ter herinnering aan hom op te dra. So die aangee van hoop op hierdie manier bring vir my ook sluiting en hoop,” het sy by die oorhandigingsplegtigheid van die Kersklappers en die gelukkige trekkings gesê.
Die Kersklappers is onder meer voorsien aan verskeie instansies waarmee Angels for the Community nou bande heet soos Superstar Daycare, Tears of Joy, Doulos, House of Peace, Built Africa, Community Response Group, Proshield, Victory over Darkness en Solidariteit Helpende Hand.
Vir Van Rooyen is die kring ook voltooi omdat die oorhandigingsgeleentheid by die Immanuel Volle Evangelie Kerk se kerksaal gehou is waar sy verskeie mylpaalgeleenthede, soos haar troudag, saam met haar pa kon beleef.
“Ek glo aan die krag van hoop en wil vir ander mense hierdie hoop aangee.”
Om in aanraking met Angels for the Community PBO te kom of om donasies te maak (geregistreer vir SARS-sertifikate), skakel 064 829 4613.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
