Gemeenskap moeg vir verskonings oor kragonderbrekings
Terwyl die metro se tegniese spanne steeds besig is om foute op te spoor en te herstel na kragonderbrekings wat nie net te wyte is aan die pasafgelope storms nie, wag inwoners van Pretoria-Noord sonder krag. Hulle is moeg van verwysingsnommers deurgee, en die voortdurende onsekerheid van ’n elektrisiteitsnetwerk wat eenvoudig nie meer volhou nie.
Inwoners van Pretoria-Noord is die afgelope weke op hul knieë ná ’n reeks kragonderbrekings wat volgens hulle hul daaglikse lewe totaal ontwrig.
Boonop voel hulle toenemend dat daar weinig antwoorde vanaf die metro kom, en dat hul frustrasies byna daagliks opstapel.
Die herhalende krisisse het sorgwekkende vrae by die inwoners met wie Rekord gesels het, laat ontstaan oor die toestand van die stad se infrastruktuur, die hantering van noodsituasies, en die vermoë van die huidige administrasie om stabiliteit te herstel.
Volgens inwoners is dit nie ’n enkele straat of ’n klein area wat geraak word nie. Inwoners het verkies om anoniem te bly.
“Hierdie is die hele Wyk 2 wat ’n groot wyk is,” het een inwoner verduidelik. “Op 1 Desember was ons krag die hele dag af, en vandag gaan dit weer af. Ons wyksraadslid doen sy bes, maar al wat hy kan doen is om verwysingsnommers te eskaleer en terugvoering te probeer kry en bestuurders te bel.”
Die groot vraag onder inwoners is of die onlangse onweer die skuld dra, maar vir die meeste maak dit nie meer sin nie.
“Dalk met die hael van 1 en 2 Desember, maar ek twyfel of verlede maand se onderbrekings aan die weer toegeskryf kan word. Kragonderbrekings in Pretoria-Noord gebeur drie tot vier keer ’n week, en dan is ons vir ure sonder krag,” sê ’n inwoner waarvan die straat ook in November telkens sonder krag was.
Die frustrasie word versterk deur ’n verwarrende aanmeldingsproses.
“Die metro gee net nie nuwe verwysingsnommers nie,” het ’n inwoner verduidelik. “Ons kry nog steeds hier in Desember dieselfde verwysingstaaknommer by die metro as op 26 November. Die krag gaan wel soms ná ure aan, maar daar is geen aanduiding dat iemand die saak werklik finaal en al opgelos het nie.”
’n Inwoner het sy besonderhede gedeel: ’n klag oor ’n kragonderbreking op 2 Desember het dieselfde verwysingsnommer (641) wat hy reeds vir dae aaneen ontvang.
“Dit is onverklaarbaar,” was sy reaksie toe hy met sy volgende klagte weer dieselfde nommer ontvang.
Volgens hom word die probleem nie regtig aangespreek nie, en die gebrek aan nuwe verwysingsnommers laat inwoners wonder of hul klagtes enigsins geregistreer word.
Selfs die DA-wyksraadslid, Quentin Meyer, het in ’n boodskap aan inwoners erken: “Op hierdie stadium het ek nie meer antwoorde nie.”
Hy het ook die groter politieke prentjie aangespreek. Volgens hom het die situasie vererger sedert die nuwe koalisieregering van ActionSA, ANC en EFF oorgeneem het.
“Selfs in die tyd van beurtkrag onder die vorige administrasie was diens meer betroubaar. Hierdie vlak van diens is onaanvaarbaar.”
Meyer het gesê dat die burgemeester se gerusstellings nie strook met die werklikheid in die strate nie.
“Dienslewering is in ’n krisis. Ons kry nie betyds antwoorde nie. Ons het nie tydlyne nie. Die terugvoer van die metro is beperk, en ons kan nie spesifieke verwagtinge vir herstel gee nie.”
Inwoners kla ook dat wanneer daar wel amptelike terugvoer kom, is dit meestal tegnies van aard en sonder tydlyne.
In een van die onlangse Desember-bywerkings van die metro aan inwoners is gesê dat die span nog besig is om die oorsaak van die fout te ondersoek, en dat die 132kV Bellom-Capital-lyne weer uitgeskakel (getrip) het.
Die tegniese fout het ’n lang lys substasies geraak: Capital Park, Mayville, Pretoria-Noord, Wonderboom, Wolmer en ander.
Verskeie substasies soos K3, Pyramid, Pumulani en Waltloo het steeds sonder toevoer gebly.
Geen tydsraamwerk vir herstel was beskikbaar nie.
’n Inwoner het opgemerk dat hierdie spesifieke Bellom-kraguitskakeling gereeld voorkom.
“Elke keer as Bellom 132kV trip, is dit dieselfde areas wat sonder krag sit. Dit is nie ’n nuwe probleem nie. Dit is ’n patroon.”

Intussen het die metro wel ’n verklaring gedeel oor die jongste voorvalle.
Die Pretoria-Noord-substasie het volgens die verklaring op 1 Desember ’n groot kragonderbreking ervaar nadat Transformer C by die 132kV-substasie uitgeskakel het.
Daarbenewens het ’n middelspanningkabel tussen Rachel de Beer- en Emily Hobhousestrate ook skade opgedoen.
Die volgende dag het die 132kV-lyne na Pretoria-Noord, K3, Pumulani, Wolmer en Waltloo weer uitgeskakel, glo weens rommel wat deur sterk winde op die kaal oorhoofse lyne gewaai is.
Vir inwoners voel dit of hulle gesus word met herhaalde verskonings sonder blywende oplossings.
Die algemene sentiment is dat die infrastruktuur oud en swak onderhou is, dat die stelsel wanbestuur word, en dat daar min politieke wil is om werklike stabiliteit te herstel.
Teen 14:00 op 2 Desember het inwoners goeie nuus gekry dat die krag in fase aangesluit sal word en blok vir blok sal aankom, maar selfs hierdie blye nuus is met sinisme ontvang. “Ons krag is aan. Ons hou maar duimvas dit bly aan vir dae,” het ’n inwoner gesê.
Klagtes kan deurgegee word aan Tshwane Customer Care: 012 358 9999 of stuur ’n SMS aan 44676.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
