Twee swembaddens sluit ná ernstige chloortekort
Twee Pretoria-swembaddens moes vandeesweek sluit weens ’n skielike tekort aan chloorgas, ’n middel om water veilig en skoon te hou. Inwoners is woedend oor swak kommunikasie, terwyl raadslede vra waarom die metro nie beter voorberei was nie. Die sluitings kom net dae voordat skole sluit en gesinne swemgeriewe benodig.
Die metro waarsku inwoners dat ’n tekort aan chloorgas veroorsaak dat twee munisipale swembaddens tydelik sluit.
Die Saulsville-swembad in Atteridgeville en Tjaart van Vuuren-swembad in die Moot se geriewe word geraak.
Die tekorte het ontstaan nadat albei die metro se gekontrakteerde verskaffers in Gauteng die metro laat weet het dat daar ’n gebrek aan operasionele silinders in die mark is.
Die operasionele silinders bevat die chloorgas wat benodig word om die water te suiwer.
Munisipale swembaddens gebruik groot chloorgas-silinders om die water skoon en veilig te hou. As daar ’n tekort aan hierdie silinders is, kan die metro nie nuwe chloorgas installeer, waterkwaliteit handhaaf, en die chemiese balans veilig beheer nie.
Sonder voldoende chloor word die water vinnig onveilig vir swemmers as gevolg van bakterieë, alge, en verkeerde pH. Dit kan ook ’n veiligheidsrisiko wees as ou of halfleë silinders gebruik word.
Volgens die metro is veilige waterkwaliteit eenvoudig onmoontlik sonder genoegsame chloor.
“Ons prioritiseer die gesondheid en veiligheid van alle swemmers,” sê metrowoordvoerder Lindela Mashigo. “Ons kan nie ’n swembad oophou sonder die regte suiweringsvlakke nie.”
Mashigo verduidelik dat metropersoneel reeds sedert September daagliks water toets en monitor.
“Ons spanne het alles gedoen wat hulle kan, maar sonder voldoende chloorgas kan ons nie verantwoordelik voortgaan nie.”
Mashigo benadruk dat die sluiting tydelik is.
“Sodra die toevoer stabiliseer en waterkwaliteit weer aan standaarde voldoen, sal ons heropen.”
Raadslede en inwoners is nie tevrede met die metro se verduidelikings nie.
DA-raadslid in die Moot, Adriana Randall, het uitgevaar teen die hantering van die saak.
“Kom ons toets hierdie feit van te min silinders ook met plaaslike kontrakteurs. Is dit waar? Dit is ’n skaars item, maar hoekom het ons nooit voorheen gesukkel om dit te bekom nie?”
Sy meen die metro probeer die skuld verskuif. “Dis weer eens betreurenswaardig dat dit gebeur. En interessant dat net twee swembaddens geraak word.”
Randall vra hoekom die metro ook nie vroeër met inwoners hieroor gekommunikeer het nie.
“Van wanneer af is die metro bewus hiervan? Waar is die administrasie se kommunikasie? Vrydag sluit die skole. Kinders en ouers wil uitspan.”
Sy sê die situasie wys op swak beplanning. “Daar is geen behoorlike gebeurlikheidsplan nie. So ’n skielike kennisgewing dui ook op ’n gebrek aan deursigtige kommunikasie. Inwoners is nie betyds gewaarsku nie.”
Randall vra ook of daar dan wel genoeg chloorgas vir die res van die metro se swembaddens is.
“Hoekom is daar dan genoeg vir die ander swembaddens? Dis vreemd dat net hierdie twee pertinent genoem word. Die kruks van die saak is dat die metro die skaarsheid al dan nie van voorrade voortdurend behoort te toets en inwoners betyds in te lig. Dis net billik. Laat weet inwoners hier kom ’n probleem aan en waarsku hulle om voorbereid te wees en sê watter stappe geneem word. Dit het nie gebeur nie,” meen sy.
Mashigo sê die metro verstaan inwoners se frustrasie. “Ons is bewus van die ongerief. Ons werk nou saam met verskaffers om die toevoer so gou as moontlik te herstel.”
Hy dring daarop aan dat veiligheid die enigste rede vir sluitings is. “Ons kan nie toelaat dat swemmers aan enige risiko blootgestel word nie.”
Die metro sê verdere kommunikasie hierrondom sal via amptelike platforms gedeel word.
Intussen wag inwoners op duidelikheid oor wanneer swembaddens weer sal heropen en hoe die metro beplan om soortgelyke voorvalle in die toekoms te vermy.
Randall is egter onwrikbaar in haar kritiek. “Ek is nie tevrede met die metro se verduidelikings nie. Dit maak net nie sin dat net twee swembaddens geraak word nie.”
Volgens raadslid Peter Meijer van die Vryheidsfront Plus is dit die tweede agtereenvolgende jaar wat die Tjaart van Vuuren-swembad nie beskikbaar is nie, en vir hom is dit ’n teken van swak bestuur deur die koalisieregering van ANC, EFF en ActionSA.
“Dit getuig van die huidige koalisieregering se onvermoë om die administrasie sodanig te bestuur dat daar aan basiese diensleweringsvlakke en behoeftes van die gemeenskap omgesien word,” sê Meijer.
Hy wys daarop dat verlede jaar se sluiting toegeskryf was aan waterbeperkinge.
Vroeër vanjaar, volgens hom, net voor die begin van die swemseisoen, was die rede ’n tekort aan chloorgas, wat weens gesondheidsredes die metro genoodsaak het om die Tjaart van Vuuren-swembad te sluit.
“Die redes wat verskaf word, word ernstig bevraagteken gegewe die metro se huidige finansiële omstandighede.”
Hy beklemtoon dat die verskonings en verduidelikings van swak beplanning en die ondoeltreffende toepassing van verkrygingsbeleid getuig.
“Hoe lank kan die getroue belastingbetalers in die Moot nog geduld hê met swak bestuur en dienslewering?”
Hy wys op voortslepende probleme soos krag- en wateronderbrekings, nie-werkende straatligte en ’n tekort aan basiese infrastruktuuronderhoud.
Hy beklemtoon dat hy sal aanhou veg om die gemeenskap se belange te beskerm.
“Die gemeenskap en gemeenskapsleiers is nou besig om te onderhandel met skole en belanghebbendes om volgens die metro se voorwaardes ’n buurtopheffingsmodel (CUP) by die Tjaart van Vuuren-swembad te registreer om self verantwoordelikheid te begin neem vir die onderhoud daarvan,” verduidelik hy.
“Die beginsel daaragter is ’n projek vir die gemeenskap gedryf deur die gemeenskap. Soortgelyke projekte sal geloods word ten einde Moot se karakter te behou.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel