Verslag waarsku: Pretoria se water- en sanitasiedienste faal
Vanjaar se waterresultate wys ’n skerp kontras: drinkwater bly veilig, maar behandelde afvalwater uit Rooiwal, Daspoort, Baviaanspoort, Sunderland Ridge en Bronkhorstspruit is ernstig besoedel. Hierdie groeiende risiko bedreig Pretoria se toekomstige watersekerheid.
AfriForum se watergehaltewaarnemingsverslag vanjaar toon duidelik dat die waterstelsel in groot dele van Pretoria onder toenemende druk verkeer.
Terwyl die stabiliteit van munisipale drinkwater oënskynlik gehandhaaf word, wys die resultate vir behandelde afvalwater dat ernstige besoedeling steeds onbeheersd voortduur.
Die verslag wys hierdie spanning tussen drinkwaterbestuur en afvalwaterhantering lê aan die kern van die bedreiging vir watersekerheid in 2025.
Die verslag beklemtoon dat die behandelde afvalwater van verskeie aanlegte in Pretoria en omliggende gebiede in ’n kommerwekkende toestand is.
Die aanlegte in Bronkhorstspruit, Centurion se Sunderland Ridge-aanleg, Pretoria-Noord se Rooiwal-aanleg, Pretoria-oos se Baviaanspoort-aanleg en Pretoria-Wes se Daspoort-aanleg het almal water gelewer wat nie aan vereistes vir veilige afvalwater voldoen nie.
Die bevindinge bevestig dat die water wat hierdie aanlegte in omliggende riviere en damme stort, besoedel is en ’n direkte risiko vir mens en omgewing inhou.
Hierdie resultate weerspieël die landwye tendens. Die verslag verduidelik dit soos volg: “Alhoewel ’n groot persentasie watermonsters wat van munisipale drinkwater geneem is, veilig vir menslike gebruik is, bly ’n ernstige probleem egter staan. ’n Totaal van 94 uit 109 rioolsuiweringsaanlegte (86%) stort steeds afvalwater wat met riool besoedel is, in waterbronne.”
Teenoor die swak prestasie van hierdie afvalwateraanlegte staan die uitslae van die munisipale drinkwater in dieselfde gebiede.
Toetse toon dat drinkwater in Pretoria-Noord, Pretoria-oos, Pretoria-Wes, Bronkhorstspruit, Centurion en ook Cullinan wel binne veilige perke vir menslike gebruik val.
Hierdie bevinding is in lyn met die landwye patroon waar 88% water gelewer is wat veilig is vir menslike gebruik, en dit bevestig dat die drinkwaterkomponent van die stelsel steeds grotendeels funksioneer.
Die feit dat hierdie gebiede skoon drinkwater kan lewer, terwyl hul afvalwateraanlegte faal, illustreer die ongelyke verdeling van kapasiteit en aandag binne die waterwaardeketting, volgens die verslag.
Die verslag, gebaseer op monsters wat in Augustus deur takke landswyd versamel is, benadruk dat slegs 14% van rioolsuiweringsaanlegte egter skoon genoeg afvalwater gelewer het om veilig in die omgewing te stort.
Dit is juis hierdie lae vlak van voldoening, volgens AfriForum, wat ’n dreigende krisis plaaslik en landwyd verteenwoordig.
Die organisasie waarsku verder dat die blykbare stabiliteit van drinkwater nie gebruikers daarvan moet mislei nie.
Soos Marais de Vaal, AfriForum se omgewingswoordvoerder, verduidelik: “Die oënskynlike stabiliteit in drinkwatergehalte is niks om te vier nie. Dit wankel op ’n toenemend brose grondslag wat ’n ernstige ineenstorting in die res van die stelsel verberg.”
Die brose toestand waarop De Vaal dui, word duidelik geïllustreer deur die Pretoria-omgewing waar besoedelde riviere die bron vorm waaruit drinkwater uiteindelik weer onttrek moet word.
Die omvang van hierdie probleem word verder ondersteun deur die bevindings dat 99% van rioolsuiweringsaanlegte tekortskiet by ten minste een kwaliteitstandaard vir afvalwater.
Die verslag verduidelik dat die gevolge van hierdie gebrek aan behandeling nie net ekosisteme benadeel nie, maar uiteindelik die gehalte van drinkwater self ondermyn.
De Vaal waarsku dat die huidige voldoeningsyfer vir drinkwater beteken steeds dat een uit elke agt mense landwyd moontlik vanjaar aan onveilige drinkwater blootgestel is.
“Dit beklemtoon hoekom die huidige vlak van prestasie nie as voldoende beskou kan word nie,” verduidelik De Vaal.
Opsommenderwys wys die verslag daarop dat selfs al lewer Pretoria se munisipale drinkwateraanlegte op hierdie stadium veilige water, die langtermynrisiko’s wat voortspruit uit besoedelde bronne nie geïgnoreer kan word nie.
Die verslag wys ook op die sistemiese bestuursprobleme wat ten grondslag lê aan die verswakking van afvalwaterstelsels.
Daar word aangevoer dat die krisis nie hoofsaaklik spruit uit ’n tekort aan wetgewing nie, maar eerder uit ’n gebrek aan basiese bestuur en instandhouding.
Soos De Vaal stel: “Water- en sanitasiedienste stort in duie waar daar geen onderhoud, geen tegniese vaardighede en geen gevolgbestuur is nie.”
Hierdie situasie word verder weerspieël in die bevinding dat gemiddelde uitgawes aan instandhouding landwyd slegs 3% van munisipale batewaarde beloop, ver onder die internasionale maatstaf van 8%.
Die feit dat 26% van munisipaliteite nie eers ontwikkelingsplanne vir waterdienste het nie, wys hoe diep die probleem strek.
Soos De Vaal dit stel: “Die gehalte van drinkwater hang uiteindelik af van die toestand van die natuurlike bronne waaruit dit verkry word.”
Die verslag sluit af met ’n beroep op gemeenskappe om hul eie watersekerheid te beskerm. AfriForum beklemtoon dat die staat bewys het dat dit nie die omvang van hierdie krisis alleen kan aanspreek nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel