Moot-kok vier nuwe erfenis-resepteboek
Frik de Jager het sy tweede resepteboek, Koesterkos - resepte uit ons ma's se kombuise, by die Tina Skukan-galery in Pretoria-oos bekend gestel. Die boek vier die handgeskrewe resepte van sy ma en ouma, met bydraes van vriende soos Elsabé Zietsman, Veronique van Heyningen en Kobus Burger. Gaste het koesterkos, stories en warm herinneringe gedeel.
Die bekende Moot-skrywer en kok, Frik de Jager, het op 16 November sy tweede en reeds gewilde resepteboek, Koesterkos – resepte uit ons ma’s se kombuise (Naledi), by die Tina Skukan-galery in Pretoria-oos bekend gestel.
Die sonderlinge kookboek is geloods tydens ’n openhartige gesprek met sanger en aktrise, Elsabé Zietsman, wat self al ’n lang pad saam met De Jager stap.

Verskeie van die bydraers tot die boek was in die gehoor, onder meer Veronique van Heyningen, Amoré Bekker en Kobus Burger.
De Jager het vertel dat sy nuwe boek voortvloei uit sy eerste boek, Storiekos – op reis na resepte, maar dat hy hierdie keer dieper wou delf in sy familie-erfenis.
Hy het besluit om sy ouma Lenie en sy ma Hermana se handgeskrewe resepteboeke weer onder oë te neem en hul werk met sy diepliggende respek daarvoor aan lesers aan te bied.
“’n Ma se kos is mos anders,” sê De Jager. “Ek onthou hoe my ma, met min tot haar beskikking, altyd soveel op ’n tafel kon sit.”
Hy het ook voorbeelde gewys van sy ma en ouma se fyn handskrif, resepte wat sedert 1914 bewaar is.
“Ware erfstukke,” het hy glimlaggend bygevoeg.
Met groot deernis het hy vertel hoe sy liefde vir mooi linnehemde eintlik by sy ouma begin het, wat sy voorliefde vir mooi lap altyd aangemoedig het.
In die boek deel hy veral haar vrugtelekker-resepte, van vrugtemoeslekkers tot vrugtestawe, kos wat steeds die smake van sy kinderdae by De Jager tuisbring. Sy grootouers het net buite Frankfort in die Vrystaat geboer.
Zietsman het De Jager uitgevra oor sy ma, Hermana Carolina Fourie, bekend as Mana, terwyl gaste aan koeksisters volgens haar resep kon smul. Hy het met trots vertel hoe gewild haar gebak was, veral haar sjokoladekoek en ligte sjiffonkoek. Hierdie koeke is gebak in ’n spesiale ingevoerde pan uit Duitsland.
Tot sy groot vreugde het hy onlangs in ’n ougoedwinkel in Rietfontein nóg só ’n pan raakgeloop.
Zietsman het self herinneringe gedeel oor haar ma, ‘Kinna’ Klopper, wat as bejaarde by haar gewoon het en elke oggend op haar bakkie pap aangedring het.
Sy dra in De Jager se kookboek ’n paar van haar eie familieresepte by, onder meer ’n aangepaste resep van haar ma, haar tante en vriende waarvolgens Zietsman steeds beskuit bak. Sy sit ook hierdie beskuit van die hand vanuit haar gastehuis, Zietsies Gastehuis in Johannesburg.
Van Heyningen, die bekende radionuusleser, deel op haar beurt haar ma Lucille se geliefde appeltertresep en ook haar gemmerskaapboud-resep, waarvoor haar ma só kwistig was met die gemmer dat dit ‘omtrent ’n hele potjie’ geverg het.

Kobus Burger, programbestuurder van RSG, bring hulde aan sy ma, Kitta Burger (gebore Van Eeden).
Sy het aan die Weskus begin met ’n klein teekamer wat later tot die bekende restaurant Plaaskombuis ontwikkel het. Varsgebakte brood was haar trots, maar op Kersdag was daar altyd iets besonders: haar beroemde koekstruif wat tot Nuwejaarsdag moes hou.
Teen die einde van die verrigtinge het De Jager sy eggenoot, Rory du Plessis, bedank vir sy geduld tydens die skryfproses en vir sy ondersteuning by die landwye langtafelgeleenthede wat die verskyning van sy boeke vergesel het.
Hy het talle dorpe soos Darling en Saldanha, leeskringe en kookgroepe besoek en boekgesprekke en langtafels aangebied. “Dit het gelei tot wonderlike gesprekke oor elkeen se koesterstories oor hul ma’s se kombuiskuiers.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel


