Local news

Drie Moot-skole maak hul merk met puik matriekuitslae

Pretoria se akademiese uitnemendheid het in 2025 geskitter toe Hoërskool Oos-Moot, HTS John Vorster en Eersterust Secondary School sterk matriekprestasies en indrukwekkende slaagsyfers behaal het.

Hoërskool Oos-Moot, HTS John Vorster en Eersterust Secondary School se leerders het vanjaar ’n stewige bydrae gemaak tot Pretoria se akademiese uitnemendheid met goeie prestasies in die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens.

Hoërskool Oos-Moot het met ’n slaagsyfer van 99.6% en slegs een druipeling ’n besonder sterk uitslag behaal. Altesaam 273 matrieks van die gewilde skool kan nou hul sertifikate agter hul name skryf. Hierdie klas van 2025 het ook ’n merkwaardige totaal van 196 onderskeidings verwerf, met 89% van leerders wat universiteitsvrystelling gekry het.

Skoolhoof Susan Theron sê sy is uiters trots op haar leerders en personeel. “Ons is baie trots op die groep se prestasies. Daar was ’n paar moeilike vraestelle.”

Die 2025-matrieks is op uitslagdag hartlik verwelkom deur onderwysers, onder andere Sue-ne Pieterse, wat die leerders gelukgewens het met hul prestasies.

“Hierdie groep het ons verbaas en ons is so bly oor hul uitslae. Die kinders het hard gewerk om hul punte te lig en dit het gewerk. Ek wens hulle van harte geluk,” sê Pieterse.

Die toppresteerder by Hoërskool Oos-Moot is Sarah Bouillon, wat ses onderskeidings behaal het en ’n gemiddelde van 85% gehandhaaf het. Bouillon sê sy sien uit daarna om haar studies vanjaar voort te sit en haar merk te maak.

Drie ander leerders, Marlene Prinsloo, Johan van der Westhuizen en Zander van Dyk, het elk ook ses onderskeidings behaal.

Die skool se toptien-leerders is Bouillon, Teagan Watt, Prinsloo, Van der Westhuizen, Luné Coetzee, Miné Foxcroft, Van Dyk, Ninique Coetzee, Nadia Bergh en Mikayla Coetzee.

HTS John Vorster het ’n 100% slaagsyfer behaal. Die skool se toppresteerders is Minieke Swart en Jeandre Kruger, wat elk sewe onderskeidings verwerf het, ’n prestasie wat die tegniese skool se sterk akademiese grondslag onderstreep.

Charmone Momberg, Kiara Botha, Marilee Mans en Misha Rantisi van Hoërskool Oos-Moot. Foto: Elize Parker

By Eersterust Secondary School is daar ook rede tot feesviering, veral aangesien die skooljaar ernstig ontwrig is deur ’n brand in September.

Van die vakgemiddeldes vir die 2025-eksamen sluit in Engels Huistaal (92%), Afrikaans Huistaal (80%), Engels Eerste Addisionele Taal (100%), Afrikaans Eerste Addisionele Taal (100%), Geografie (82%), Geskiedenis (91%) en Fisiese Wetenskappe (87%).

Op provinsiale vlak het Gauteng se matrikulante ’n historiese mylpaal bereik met ’n slaagsyfer van 89.06%, die hoogste nog vir die provinsie. Gauteng-leerders het 19% van alle matrikulante landwyd verteenwoordig, met 125 513 leerders wat geslaag het.

Drie Pretoria-skole is as die topskole in Gauteng aangewys, met Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria in die eerste plek, gevolg deur Die Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof.
Pretoria het ook uitstekend gevaar met individuele toppresteerders: Kabogelo Tshabalala van Acudeo College Pretoria-Wes is as die derde beste leerder aangewys, terwyl Wilhelm Liebenberg van Hoërskool Montana die tweede plek behaal het. Die topleerder in Gauteng is Mahir Modi van Greenside High School in Johannesburg.

Marius Adams van die Hoërskool Oos-Moot se beheerliggaam, Jaydon Pretorius en onderwyseres Lee Bouwer. Foto: Elize Parker

Die Tshwane-Noord-skooldistrik het tweede geëindig onder die topdrie distrikte in die provinsie.

Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het tydens ’n toekenningsgeleentheid op 13 Januarie uitgewys dat Tshwane-skole ’n gemiddelde slaagsyfer van 90.3% behaal het, onveranderd van 2024 wat volgens hom volgehoue uitnemendheid toon.

Chiloane het beklemtoon dat die klas van 2025 gevorm is deur buitengewone omstandighede. “Hulle het meer as die helfte van hul onderrigtyd in grade 8 en 9 verloor weens Covid-19-skoolsluitings. Hulle het graad 12 bereik met moeilike vormingsjare in baie vakke, maar tog het hulle deurgedruk,” het hy gesê.

Onder die noemenswaardige prestasies was die uitslae van leerders met spesiale onderwysbehoeftes, waar Prinshof Skool in Pretoria se middestad eerste geëindig het en Nuwe Hoop Skool in Pretoria-oos derde.

Hoërskool Oos-Moot se toppresteerder, Sarah Bouillon en Kim Potgieter Foto: Elize Parker

Hoërskool Garsfontein het die meeste baccalaureus-vrystellings in Pretoria behaal, met Hoërskool Waterkloof in die tweede plek.

Individuele vakprestasies sluit in Carla Venter van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria as topleerder in Engels Eerste Addisionele Taal, Admire Gwatinyanya van Nellmapius Secondary School as topleerder in Fisiese Wetenskappe, en Siyabonga Mashaba van Soshanguve East Secondary as topleerder in Geografie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button