Koorleier lei jeugkoor tot wêreldroem
Onder leiding van Lhente-Mari Pitout verower die UP Jeugkoor internasionale verhoë met unieke klankkleur en Suid-Afrikaanse diversiteit. Toekennings, staande ovasies en lewensveranderende toere bevestig hoe musiek jongmense vorm en brûe tussen kulture bou.
Die UP Jeugkoor bewys dat jong stemme nasies kan verbind. Met internasionale pryse, uitverkoopte konserte en ’n unieke Suid-Afrikaanse klank wys hulle hoe diversiteit, dissipline en passie ’n nuwe generasie hoopvolle ambassadeurs vorm.
Die prestasies van die Jeugkoor het die afgelope Desember weer bewys dat Suid-Afrikaanse jongmense met talent, toewyding en eenheid die wêreld kan bekoor.
Onder leiding van koorleier, Lhente-Mari Pitout, het die koor in Europa gehore ontroer en met twee internasionale pryse teruggekeer, ’n mylpaal wat volgens haar veel meer as net musikale sukses verteenwoordig.
Die koor het hul kategorie van beste gemengde koor gewen en die algehele, oorhoofse toekenning as die beste koor by die kompetisie by die 33de Prague Advent and Christmas Choral Festival in Praag verwerf.
“Ons jeugkoor het ’n unieke energie,” sê Pitout. “Europeërs is dikwels verbaas wanneer hulle ’n koor van Suid-Afrika hoor as ’n gemengde, diverse demografiese groep wat soos een liggaam asemhaal. Hulle verwag eksotiese ritmes, maar hulle kry ook fyn koorkuns, dissipline en ’n ongelooflike warmte.”
Sy beskryf een van die koor se grootste prestasies is dat die koor saam wil bou aan die eenheid van Suid-Afrika as ’n nasie.
“Hier kom sangers uit alle agtergronde bymekaar. Hulle leer mekaar ken, ontdek ooreenkomste en belangstellings, en besef dat musiek ’n taal is wat sterker praat as verskille. Teen die einde van ’n jaar kan elke sanger iets van die ander een se wêreld verstaan.”
Pitout, bekroonde musikant en musiekopvoeder, wy haar lewe aan die bevordering van Suid-Afrika se ryk koortradisie.
As dirigent, musikant en beoordelaar in klassieke én kontemporêre genres word sy gereken as een van die mees gerespekteerde vroulike koorleiers in die land.

Haar passie vir musiekopvoeding dryf haar om die uitvoerende kunste doelgerig te ontwikkel, en verskeie toekennings bewys reeds haar bydrae as sanger en dirigent erken.
As koorkenner het sy in Europa en Noord-Amerika opgetree en by internasionale feeste gewerk, waar sy wyd as kenner gerespekteer word. Sy is mede-stigter van die South African Youth Music and Arts Development Foundation wat jongmense deur musiek bemagtig.
Haar talent is vroeg deur wêreldbekende dirigente raakgesien. Tydens ses jaar by die World Youth Choir en World Chamber Choir het sy in meer as 15 lande getoer en met leiers soos Frieder Bernius, María Guinand en Bobby McFerrin gewerk.
Die koor is onlangs bekroon vir beste vokale kultuur, ’n prys wat die besondere klankkleur en manier van sing erken. Volgens Pitout lê dié uniekheid juis in die verskeidenheid van stemme.
“Ons sangers kom uit alle lewensoorde. Daardie mengsel skep ’n kleurpalet wat jy nie kunsmatig kan vervaardig nie.”
Die koor se Desember-sukses het egter nie oornag gekom nie. Pitout verduidelik dat die koor meer as ’n jaar lank voorberei het vir onlangse optredes wat die toekennings verwerf het.
“Ons werk nie net aan ’n kompetisieprogram nie. Ons slyp klank, verhoogvaardighede, dissipline en karakter. By feeste wat ons by die universiteit deurlopend in die jaar aanbied, tree ons saam met meer as 500 koorlede per konsert op. Daardie interaksie het ons ongelooflik voorberei vir die oorsese Desembertoer.”
Die toer was vir baie van die tieners ’n emosionele reis. “Jy kan jou indink: ’n klomp jongmense wat so hard gewerk het en net hul beste wou gee. Ek het vir hulle gesê ons kan net doen wat in ons vermoë is. Toe die pryse aangekondig word, was dit lewensveranderend. Om dit saam te ervaar en ons land te verteenwoordig, het hulle selfvertroue vir altyd gevorm.”
Vir Pitout dra die koor ’n belangrike boodskap in ’n wêreld vol negatiwiteit.
“Ons jongmense word gebombardeer met slegte nuus oor oorloë, verdeeldheid, onsekerheid. Maar wanneer ek met hierdie sangers werk en sien hoe lief hulle vir mekaar is, hoe hulle mekaar ondersteun, dan weet ek die werk is die moeite werd. Die internasionale erkenning bevestig dit.”
Diversiteit staan sentraal in die koor se identiteit. Die groep sing gereeld tradisionele Suid-Afrikaanse musiek wat toneel, dans en drama inkorporeer.
“Internasionale gehore geniet dit onmenslik baie. Ons Afrikaanse sangers kry byvoorbeeld die geleentheid om in Tswana of Zoeloe te sing, iets wat hulle dalk nooit andersins sou beleef nie. Dis ’n kruis-kulturele ervaring wat ons klank vorm.”
Die koor sluit ook moderne werke van jong Suid-Afrikaanse komponiste in, soos Franco Prinsloo.
“Ons probeer elke item gehoorvriendelik maak en musiek oopbreek vir nuwe gehore. Dit is ongelooflik om te sien hoe kinders mekaar se musiek geniet en saam dans en sing. Diversiteit beïnvloed nie net ons repertorium nie, maar ons hele manier van optree teenoor mekaar.”
Die ontvangs in Europa het Pitout diep geraak. “Alle konserte was uitverkoop. Na elke item was daar dikwels staande ovasies. By die ambassade in Berlyn het ons ongelooflike liefde ervaar. Hoe meer die gehore gegee het, hoe meer het die kinders teruggegee.”
Deelname aan die koor verander jong lewens, glo sy. Vir baie was dit in Desember die eerste keer op ’n vliegtuig of oorsee.
“As ’n jongmens op hierdie ouderdom blootstelling kry aan ander tale en kulture, verander dit hul hele raamwerk. En as dit boonop as kunstenaar gebeur, beïnvloed dit die verloop van hul lewens.”
Die logistiek is ’n uitdaging: 34 verskillende skole word verteenwoordig, met oefeninge elke Vrydag van 15:00 tot 19:00.
“Hulle leer tydsbestuur en verantwoordelikheid. Skool en akademie bly belangrik, maar die jeugkoor is vir hulle ’n afrondingskool waar kreatiwiteit kan blom.”
Pitout, wat al meer as 20 jaar by die koor betrokke is, sê die grootste beloning bly persoonlike groei.
“Ek sien hoe ’n skaam kind inkom en stadig blom. Elke jongmens verdien ’n plek waar hy onvoorwaardelik aanvaar word en homself kan ontdek. Baie tieners word grootgemaak om te konformeer; hier leer hulle dat hulle hulself mag wees.”
Sy vertel met trots van oudlede wat vandag sangers, akteurs, operasterre en professionele mense is.
“Een oudsanger het selfs gesê die jeugkoor het op die regte tyd die grootste verskil in sy lewe gemaak. Dít is ware sukses.”
Die toekoms wink met nuwe uitnodigings na internasionale feeste en planne om eie musiek te publiseer. Pitout droom egter groter.
“Na 20 jaar wil ek graag meer befondsing kry. Ons het jong komponiste wat blyspele skryf en die stukke het soveel potensiaal. Elke Suid-Afrikaanse kind behoort die kans te kry om in ’n diverse koor te leer wat dit beteken om ’n landsburger te wees.”
Vir haar bly die missie eenvoudig: “Ons wil aanhou doen wat ons doen: lewens verander deur middel van musiek.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
