Local news

Teaterstuk wat deernis kweek binnekort op planke

Met Annie+Helen bevestig bekroonde dramaturg Hennie van Greunen weer sy geloof in teater as helende ruimte. Die produksie ondersoek stilte, gestremdheid en menslike volharding met fyn aanvoeling. Bekende Pretoria-komponis, musiekregisseur en koorleier, Franco Prinsloo, het die musiek behartig.

Vir meer as twee dekades het dramaturg en regisseur, Hennie van Greunen, se werk ’n kenmerkende plek in die Suid-Afrikaanse teaterlandskap ingeneem: stories wat stadig onder ’n mens se vel inkruip en verhale wat genesing kan bring.

Hy het weer eens ’n stuk geskep waar menslikheid, deernis en die helende krag van teater mekaar ontmoet.

Annie+Helen begin binnekort in die Fairtree Atterbury-teater in Pretoria-oos.

Die storie van Helen Keller is die lewensverhaal van die blinde doofstom dogter van ’n gesiene familie, wat paaie kruis met die jong onderwyseres, Annie Sullivan, ’n ontmoeting wat beide lewens onherroeplik verander en wat oorsprong gee aan ’n lewenslange vriendskap.

Annie+Helen, is Van Greunen se teksverwerking van die Oscar-bekroonde film en Broadway toneelproduksie, The Miracle Worker. Dit delf dieper in Sullivan se traumatiese lewe as jong dogter en hoe dit haar gevorm het vir haar stryd om vir Keller te leer dat taal is die verhouding tussen woorde en dinge.

Van Greunen vertel dat die saad vir Annie+Helen lank reeds gesaai is, nog voordat die produksie self vorm aangeneem het.

“Vandat ons maatskappy, Wordsmith’s Theatre Factory, 26 jaar gelede gestig is, was ons fokus nog altyd op die transformerende en helende krag van teater,” sê hy.

Hy verwys na produksies van Blougat tot Rondomskrik waarin karakters dikwels uit ’n innerlike donkerte na die lig moet beweeg.

“Die belangrikste terugvoer vir ons is die gehoor se stories wat die stuk losmaak. Mense kom ná die vertoning en praat oor hulle eie reise uit die donkerte.”

Hennie van Greunen, dramaturg en regisseur Foto: One Agency

Hoewel die stuk geskiedkundige wortels het, was die uitdaging om die werklikheid en teater met mekaar te versoen.

Van Greunen is eerlik oor die artistieke keuses wat hieroor gemaak is.

“Die verhoogstorie strook baie met wat ons weet van Annie en Helen se vroeë verhouding, maar ’n lewe is selde toneelmatig genoeg vir die verhoog,” verduidelik hy.

Hy haal graag ’n bekende gesegde aan: “Theatre is life with the boring bits cut out.”

Vir die verhoog moes dié reis gekonsentreer word. “Feitelik is dinge aangepas, maar emosioneel bly dit heeltemal in lyn met die waarheid.”

Hy erken dat repetisies soms ’n emosionele uitdaging was. “Die spelers was self met tye baie emosioneel, maar dis hoekom ’n lang, stewige repetisieperiode so belangrik was.”

Navorsing het ’n sleutelrol gespeel, nie net oor Annie en Helen nie, maar oor die hele huishouding waarin die verhaal afspeel.

Van Greunen was veral geïnteresseerd in die impak van gestremdheid op ’n gesin. “Hoe pas ’n ma haar drome aan vir ’n kind wat doof, blind en stom is? Wat gebeur met ’n pa wat funksionaliteit en orde nodig het, en skielik met chaos gekonfronteer word? En die broer wat altyd tweede staan?”

Hoewel Van Greunen al dikwels met jong akteurs gewerk het, was die verantwoordelikheid wat op ’n 13-jarige akteur se skouer rus, ongekend.

Keller word gespeel deur Judi Hattingh, ’n 13-jarige van Durbanville. Haar talent word al die afgelope paar jaar ontwikkel deur haar onderwysers wat die geleenthede wat Curro se kreatiewe platform, Curro Create, aanbied, aan te gryp.

“Om Judi toe te laat om die uitmergelende rol regtig te verken, maar terselfdertyd veilig en gekoester te voel, was ’n groot uitdaging,” erken hy.

Kostuums suggereer die laat 19de eeu sonder om in detail te verdrink, terwyl beligting en musiek die emosionele onderstroom dra.

Bekende Pretoria-musiekregisseur, komponis en koorleier, Franco Prinsloo se komposisies verskaf die klankkleur.

“Selfs klankeffekte, soos die tik van ’n staanhorlosie, is met sorg deur Franco geskep,” sê Van Greunen.

Prinsloo sê dit is altyd ’n voorreg om ’n nuwe teks te ontdek en deur oorspronklike musiek die storie en karakters van binne af tot lewe te bring.

“Met Annie + Helen was dit ’n besonder ryk en vervullende proses, nie net om die karakters te leer ken nie, maar ook om hul innerlike wêrelde te ontsluit,” vertel Prinsloo.

Franco Prinsloo, komponis en koorleier Foto: Facebook/Vox Chamber Choir

Hy voel veral Keller se karakter het unieke uitdagings gebied.

“As iemand wat grootliks van die buitewêreld afgesluit is, moes die musiek haar emosionele landskap verwoord: ’n wêreld van stilte, isolasie, intense innerlike belewenis en rou menslikheid,” vertel Prinsloo.

Vir hom was die uitdaging om tot by die mees eerlike kern van hierdie emosies te kom en ’n klankwêreld te skep wat dit dra.

“Die musiek beweeg tussen melankolie en donkerte, maar is terselfdertyd deurdrenk van hoop, ’n klanktaal wat die gehoor help om diep in die karakters se innerlike en uiterlike wêrelde in te leef,” glo Prinsloo.

Hy meen Pretoria-gehore sal veral die stuk geniet want dit “vertel ’n storie wat jou reg in die hart tref. Die akteurs lewer uitsonderlike spel, en saam met die indrukwekkende kostuums en dekor word die gehoor volledig in die wêreld van die produksie ingetrek”.

Vir Prinsloo is teater uniek omdat dit lewendig en onmiddellik is.

“Teater gebeur reg voor jou. Jy is nie ’n passiewe kyker nie; jy is teenwoordig en deel van die ervaring. Dit is wat teater so besonders maak. Dis iets wat eenvoudig nie op ’n selfoon of rekenaarskerm nageboots kan word nie.”

Die bekroonde produksie is vir die eerste keer in Pretoria vir slegs ses vertonings te sien.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Check Also
Close
Back to top button