Local news

Eersterust-jeug slaan eersdaags munt uit bewaringsman se drome

Op ’n stil hoek in Eersterust het ’n eens vergete gebou ’n simbool van hoop geword. Met deursettingsvermoë, kleingeld en ’n onwrikbare geloof in kinders se drome, is Casper ‘Bics’ Jeftha besig om ’n erfenisruimte te skep waar geskiedenis, verbeelding en toekomsdrome saamkom.

Op die hoek van P.S. Fourie- en Dovestrate in Eersterust staan ’n opgeknapte gebou wat deesdae veel meer is as ’n eens verwaarloosde gemeenskapsaal. Aangrensend daaraan is ’n terrein wat eersdaags ’n BMX-baan sal huisves.

Vir erfenisbewaarder Casper ‘Bics’ Jeftha is die gebou, baan en terrein tasbare bewyse dat ’n droom kan oorleef as mense saam daaraan glo.

Wanneer die Tshwane Mini Heritage Sites-uitstalling in Maart vanjaar in die saal open, sal dit die einde van ’n lang en moeilike pad vir Jeftha wees.

“My droom is om kinders meer van Suid-Afrika se erfenis te leer op ’n toeganklike en bekostigbare manier.”

Die terrein se BMX-baan word nou ontwikkel met geld uit gemeenskapslede se eie beursies, wat tydens hul inkopies by die Pick n Pay in Eersterust hul munte in kollekteerkissies by die kasregisters plaas.

Vir die ontwikkeling van die saal tot uitstalruimte, moes Jeftha egter aan talle deure gaan klop.

Jeftha sê hy het al baie keer tydens die daarstelling van die uitstalruimte gewonder of dit die moeite werd is om weer van vooraf te begin. Teenspoed was aan die orde van die dag sedert sy droom van ’n uitstalruimte en BMX-baan in 2016 begin gestalte aanneem het.

Elke keer het hy onthou hoekom hy begin het: “Dis vir my so hartseer dat soveel van ons kinders nog nooit hul eie land gesien het nie.”

Sy liefde vir geskiedenis en visuele storievertelling het lank gelede begin. In die 1980’s het hy by Sterland-teater in Arcadia gewerk waar hy filmprojektors hanteer het en die films tydens vertonings gewys het. Hy het af en toe vir bemarkingsredes by die bioskoop modelle gebou van die temas in die films wat in die foyer uitgestal was.

Hier het hy besef mense leer en droom ook deur waarneming.

Later sou hierdie besef ’n nuwe vorm aanneem. Met minimale materiaal het hy begin om modelle van Suid-Afrika se bekendste erfenisterreine soos die Voortrekkermonument te bou.

Hy het nooit geld gehad vir duur toerusting of materiaal vir die bou van die modelle nie en moes die meeste maak van die min, meesal herwinbare, materiale tot sy beskikking.

Tog het die aantal modelle gegroei terwyl hy die droom van ’n eie utstalruimte gekoester het. Bestemmings soos die Voortrekkermonument, Robbeneiland, en Freedom Park sou elk ’n eie model kry.

Voor 2016 het hy gereeld hierdie modelle en andere by die Eersterust-Burgersentrum uitgestal. Vir ’n lang tydperk het busse vol kinders opgedaag, soms tot 300 op ’n slag, om na die versameling van die uitgestalde modelle te kom kyk en meer daarvan te leer.

Jeftha sê “vir R5 kon ’n kind vir ’n paar uur deur Suid-Afrika in sy verbeelding reis”.

Toe die metro die uitstallings van die modelle by die Burgersentrum stopsit, het dit hom diep getref.

“Ek het gevoel asof ’n deur op opvoeding vir die kinders van Eersterust sowel as op bewaring toegeslaan het.”

Liandro Borges, vloerbestuurder by Pick n Pay in Eersterust (agter links) en Casper Jeftha, bewaringskenner by Margaret van Rooyen, assistent-vloerbestuurder van Pick n Pay Eersterust. Foto: Elize Parker

In 2016 ontvang hy die Golden Shield Heritage Award vir die bydrae wat hy tot 2016 deur sy bewaringsbewustheidprojekte gemaak het.

Hy het, met die prysgeld in die hand, besluit om verder as net sekere bekende erfenisterreine te dink en uit te beeld.

Hy reis daarom na Durban en Kaapstad, neem foto’s, maak sketse en versamel idees van nog ikoniese toerismebestemmings om modelle van te bou.

“My doel was om vir kinders te wys dat Suid-Afrika nie net ’n ryk geskiedenis het nie, maar ook mooi plekke wat hierdie tye herdenk.”

Na die verlies van die gemeenskapsaal, het hy besluit om grond in Eersterust te bekom vir ’n nuwe uitstalsaal.

Die metro het hom meegedeel dat hy eers borgskappe en donasies vir die uitstalsentrum moes kry en bewyse daarvan kan lewer, alvorens hulle munisipale grond aan hom toeken. Hy het die voorwaarde dadelik as ’n uitdaging aangepak.

Jeftha sê hy met sy dokumente, foto’s en voorstellings na die publiek sowel as die publieke sektor tydens fondsinsamelingsprojekte gegaan.

Die projek het ’n fondsinsamelingsdeurbraak in Desember 2020 ervaar toe die Nasionale Lotto ’n donasie van R490 000 goedgekeur het vir die ontwikkeling van ’n uitstalruimte en terrein.

Op sterkte hiervan en ander donasies word die ou rolbalbaanterrein in Eersterust deur die metro aan hom toegeken. Hier was daar strukture wat hy kon benut, maar dit moes ernstig opgeknap word.

Net toe bouwerk sou begin, slaan Covid-19 toe en kon hy nie meer so dikwels die terrein besoek nie oor die pandemie-grendeltydperk. Die meterlange-omheining word gesteel. Boumateriaal, gereedskap en selfs die draagbare toilet word ook gesteel en skade is aan die terrein en geboue aangebring.

Jeftha sê hy het op ’n stadium gevoel “ek bou net vir diewe”.

Teen daardie tyd het hy reeds sowat R51 000 se verliese gely. Tog begin hy weer. Sonder water op die perseel, dra hy water van die huis af. Hy huur ’n kragopwekker wanneer hy kan. Reën beskadig later die dak, maar hy sê elke keer wat daar sulke skade aan die geboue en terrein was, het hy net meer vasberade geraak om die gemeenskap met so ’n bewaringsentrum vol van sy modelle toe te rus.

Hy hoop om vroeg vanjaar die sentrum vir die groot openingsdag te voltooi. Skade as gevolg van onlangse swaar reën moet nou herstel word. Die meer as 300 vierkante meter uitstalsaal sal ook mettertyd met ’n verhoog en koffiekroeg kan spog. Aan die westekant lê hope sand wat deur ’n skenker gegee is vir die uitleg van ’n BMX-baan. Die metro sal eersdaags inspring en help om die gras op die terrein te sny.

“BMX is nou ’n Olimpiese sport. Eersterust se kinders moet ook groot kan droom.”

Sy persoonlike hoogtepunt wanneer dit by toerismebestemmings kom, bly ’n besoek aan die Wieg van die Mensdom. As deeltydse toergids ná 2016 het hy ook Pretoria se ryk geskiedenis met trots gedeel.

“Mense onderskat hoe belangrik dit is om te weet waar jy vandaan kom. Bewaring moet ’n lewenswyse wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button