Skattejag laat geskiedenis by Sammy Marks herleef
Spanne het die gange en kelders van die Ditsong Sammy Marks Museum ingevaar tydens Sammy’s Secrets, ’n interaktiewe geskiedenis- en skattejag wat tegnologie, spanwerk en die raaisels van ’n Victoriaanse herehuis gekombineer het.
Deelnemers het op Saterdag die gange, vertrekke en wynkelder van die Ditsong Sammy Marks Museum in Pretoria-oos op die Bronkhorstspruit-pad met opgewondenheid, fyn spanwerk en ’n tikkie inspanning verken.
Dit vorm deel van die Sammy’s Secrets: A Haunted History Hunt.
Episode 1 van die reeks het stiptelik om 15:00 begin en vir twee uur lank deelnemers uitgedaag om geskiedenis, tegnologie en intuïsie te kombineer in ’n unieke geskiedenis-spook- en skattejag.
Die Van der Merwe-gesin van Pretoria-Noord het as wenners uit die stryd getree. Hul sukses is toegeskryf aan goeie samewerking en kommunikasie tussen die drie dogters en hul ouers, asook hul vermoë om vinnig leidrade te ontsyfer en doelgerig van vertrek tot vertrek te beweeg met ’n kaart en selfoon in die hand.

Die skattejag het in die imposante Victoriaanse herehuis sowel as in die wynkelder naby die tuine afgespeel.
Die Ditsong Sammy Marks Museum is op die historiese plaas Zwartkoppies geleë. Die herehuis, gebou tussen 1886 en 1890, is grootliks onveranderd bewaar en bied besoekers ’n seldsame kykie in die leefstyl van ’n welgestelde laat-19de-eeuse Pretoria-gesin. Oorspronklike meubels, dekor en huishoudelike items skep ’n tasbare tydsgees wat die skattejag se geskiedenis-element versterk het.
Sammy Marks, gebore Samuel Marks in Litaue in 1844, was ’n Joodse immigrant wat homself tot een van Suid-Afrika se invloedrykste nyweraars opgewerk het. Hy het ’n sleutelrol gespeel in nywerhede soos glasvervaardiging, staal, steenkool en voedselproduksie en het ’n beduidende bydrae gelewer tot die industrialisering van die Pretoria-streek.


Die herehuis op Zwartkoppies was nie net ’n familie-woning nie, maar ook ’n sosiale spilpunt vir sakelui en besoekers.
Sonja Rossouw van Pretoria-Noord vertel sy en haar eggenoot JP is lief vir geskiedenis en hulle het ingeskryf omdat dit het na ’n prettige manier geklink het om die museum te verken.
“Ons wou graag sien wat alles hier op die plaas en in die herehuis gebeur het en hoe dit hier lyk. Ons is glad nie teleurgestel nie. Die speletjie was opwindend,” sê sy.
Sy beskryf die ervaring as ’n opwindende uur waarin hulle leidrade in die museum moes vind en dit aan die speletjiesmeester deur te gee wat darem so hier en daar ’n wenk of twee bygevoeg het.

Die speletjie het geskiedenis en tegnologie gekombineer. Vyf groepe, wat gewissel het van twee lede tot ’n gesin van vyf, het deelgeneem. Leidrade is via QR-kodes en ’n kaart ontvang, met ’n WhatsApp-groep as hulplyn vir dié wat sou verdwaal. Verskeie vertrekke, insluitend die hoofslaapkamer en kombuis, is deur die speletjie se ontwerper, Benita Barrett, ingesluit, en deelnemers moes antwoorde vind en invoer om voort te gaan.
Streng reëls het gegeld: geen foto’s, hardloop, aanraking aan uitstallings en geen kos of koeldrank is in die museum toegelaat nie.
Ná afloop is deelnemers egter beloon met heerlike eet- en drinkgoed wat in die ruim tuin onder die koeltebome langs die roostuin geniet is.
Die skattejag is die eerste van ses soortgelyke geleenthede wat vanjaar by die museum beplan word. Elke wenner van ’n episode dring deur na ’n finale wedstryd aan die einde van die jaar by die Ditsong Museum (die ou Transvaal-museum) in die middestad.

Jaco Schoonraad, terreinbestuurder van Ditsong Kruger Museum en Ditsong Sammy Marks Museum, het tong in die kies gesê die ‘Krugermiljoene’ was nie op die spel nie.
Hy beoog om nog talle geleenthede te skep vir Pretoria-inwoners en toeriste om die Sammy Marks-museum beter te leer ken, insluitend ’n voëltoer op 7 Maart.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
