Omgeeprojek in Moot groei uit nood
'n Jong vrou het 'n kosprojek met 'n pot sop begin en daarna het die inisiatief momentum gekry.
’n Uitreik na ander het begin by verlies, swaarkry en ’n jong meisie wat vroeg moes leer hoe dit voel om sonder sekuriteit in skuilings vir vroue en kinders groot te word.
Desiré Sanders se ma, ’n enkelouer, is aan kanker oorlede toe sy net 15 jaar oud was. “Ek weet wat dit is om te sukkel,” sê sy.
“Ek het self grootgeword met min, en ek weet hoe dit voel om niemand te hê wat vir jou verantwoordelikheid neem nie.”
Haar lewe het trauma, verlies en selfvernietigende fases ingesluit, maar sy het dit nie ontken of weggeredeneer nie. Sy het daaruit gegroei.
Na haar mammie se afsterwe, het haar lewenskoers ’n moeilike rigting ingeslaan. Sy het ’n huwelik aangegaan om veiligheid en versorging te vind, maar is van die eggenoot geskei. Sy is daarna weer getroud en sy en haar nuwe man, Graham, was deel van ’n motorfietsryersklub en die leefstyl wat daarmee saamgaan.
“Alles wat verkeerd was, het ons gedoen. Geld was ons god,” vertel sy eerlik.
Hul lewenswyse was vinnig, roekeloos en gevaarlik. “Ons het soms teen 220 kilometer per uur op die motorfietse gery. Vandag weet ek nie hoe my man en ek daardie lewe oorleef het nie.”
Gedurende hierdie tydperk was Sanders, in haar eie woorde, “baie verdwaal”.
Sy was omring deur verkeerde invloede en ondoelgerigte keuses. Tog het verandering in haar lewensuitkyk nie met ’n groot plan of doelgerigtheid begin nie, maar met ’n eenvoudige daad van omgee.
Een aand het sy ’n pot sop gekook, meer as wat haar gesin nodig gehad het, en dit in haar vrieskas in bakkies gesit. Sy het op ’n sosiale media groep aangekondig dat daar kos beskikbaar is vir enigiemand wat dit nodig het en wil kom afhaal.
“Ek het gedink miskien kom 10 of 20 mense,” vertel sy.

Ongeveer 20 mense het wel opgedaag om kos te kom haal, maar kort daarna het die versoeke vir nog bakkies sop begin instroom.
“Toe besef ek die nood is baie groter as wat ek gedink het. Ek sal moet inspring.”
Hierdie oomblik van selferkenning was ’n draaipunt vir haar. “Dis waar God my geroep het,” sê sy.
Wat as ’n enkele pot sop begin het, het gegroei tot Because We Care, ’n gemeenskapsinisiatief wat nou elke Sondag ongeveer 250 mense van kos en kospakkies voorsien.
’n Pot sop het ’n projek afgeskop. ’n WhatsApp-groep het ’n organisasie in die lewe geroep.
Die projek fokus veral op mense wat nie hulself kan help nie. Onder hulle is bejaardes wat hul Sassa-toelaes moet gebruik vir blyplek, met niks geld oor vir kos nie.
“Ouer mense kan hulself dikwels nie help nie,” sê Sanders. “Dit is hoekom dit vir my so belangrik is om met die projek voort te gaan.”
Vanjaar het sy en haar eggenoot ook begin om 18 bejaarde mense gereeld van kospakkies te voorsien.
“Ons vra nie vrae nie,” verduidelik sy. “Ek het self moeilik grootgeword. Ek verstaan.”
Kos word ook afgelewer by mense wat nie self kan kom haal nie omdat hulle vervoer en ander probleme het. Daar is selfs ’n sogenaamde hoopmuur in haar kantoor by haar huis waar skenkings soos blikkieskos, suiker en beskuit bymekaar gemaak word om weer uitgedeel te word.
Sy is ’n tipiese versorger wat werk met wat sy het en die meeste daarvan maak.
Die organisasie voorsien hoofsaaklik eenvoudige, voedende etes soos sop en soms ook hoender en rys. Ten spyte van beperkte hulpbronne is daar nog nooit iemand weggestuur nie.
“In al die tyd wat die projek bestaan, het ons nog niemand teleurgestel nie,” sê Sanders.
Bekende Moot-kookboekskrywer, Frik de Jager, het ook al saam met Because We Care gewerk en die projek ondersteun deur kos te kook en by Sanders af te lewer om uit te deel.
Vir Sanders is dit belangrik dat haar kinders deel is van die reis.
“Dis belangrik om ’n voorbeeld vir jou kinders te stel,” sê sy.
Een oomblik wat haar besonders geraak het, was toe haar seun besluit het om sy eerste salaris te gebruik om vir iemand wat sukkel om sy werkplek te bereik, ’n fiets te koop. “Dit wys my ons is op die regte pad.”
Haar eie lewensverandering het begin toe sy en haar man besef het hulle wil beter ouers wees. Hulle het eers YouTube-video’s oor geloof begin kyk en daarna kerk toe begin gegaan.
“Als is nou reg. My onsekerheid is weg,” sê sy. “God het my veilig in die palm van Sy hand.”
Haar omgee-hart strek egter verder as kos. Sy was al twee keer ’n surrogaatma om ander mense te help om ouers te word en was ook ’n pleegouer vir ’n kleuter totdat hy permanent geplaas is. “Dit was alles deel van my genesing,” sê sy.

’n Groot fokus vir Because We Care is tans ’n sorgsentrum waar 42 mense in Wendy-huise woon, sonder krag en sonder behoorlike ablusies.
“Hulle het nie krag om self kos voor te berei nie, en die kos wat hulle kry, is nie voedsaam nie,” verduidelik Sanders. Haar droom is om ’n ablusieblok te bou, speelplekke veiliger te maak en die mense meer selfstandig te help raak. Tot dusver doen sy dit alles uit haar eie sak.
Die nood bly egter groter as wat een gesin en haar enkele skenkers alleen kan dra. Because We Care aanvaar eerder bestanddele vir kos as enige finansiële donasies.
“My grootste vrees is dat daar eendag nie genoeg kos vir almal gaan wees nie,” erken sy. Tog glo sy dat God steeds die pad wys. Dit was ook so toe sy gelei is na die sorgsentrum waar sy nou ’n verskil probeer maak.
Because We Care het ’n wenslys wat boumateriaal vir die sentrum, bestanddele vir gekookte etes, bestanddele vir kospakkies vir bejaardes en nog ’n yskas vir die berging van sop in bakkies insluit.
“Eendag sal ons ’n gebou hê,” sê Sanders met drome in haar oë. Tot dan bly hierdie diensgerigte ma besig met wat sy nou die beste ken: om te gee, sonder oordeel, met geloof en met ’n hart vir die Moot se mense.
Vir meer inligting of bydraes kan Because We Care gekontak word by Becausewecare26@gmail.com.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
