Local news

Oudleerder van Pretoria skool verower lugvaartwêreld deur volharding

Van ’n slimkopleerder by Hoërskool Garsfontein tot ’n meestersstudent aan Embry-Riddle Aeronautical University in Amerika: Daniella Bezuidenhout se akademiese reis word gekenmerk deur harde werk, internasionale erkenning en ’n passie om lugvaart stiller, veiliger en meer volhoubaar te maak.

Vir ’n jong vrou is haar huidige studies in Lugvaart- en Ruimtevaart Ingenieurswese aan ’n Amerikaanse universiteit nie net ’n akademiese prestasie nie, maar die resultaat van ’n lang pad wat reeds in haar skooljare begin vorm aanneem het.

Terwyl Daniella Bezuidenhout deesdae besig is om haar meestersgraad aan Embry-Riddle Aeronautical University in Daytona Beach in die deelstaat Florida binne ’n merkwaardige kort tydperk te voltooi, kyk sy met dankbaarheid terug na die rol wat haar skoolloopbaan in Pretoria in hierdie reis gespeel het.

“My pad van Hoërskool Garsfontein tot by Embry-Riddle Aeronautical University is gevorm deur nuuskierigheid, harde werk en ’n sterk ondersteuningsnetwerk,” sê sy.

Volgens haar het haar alma mater haar nie net akademies voorberei nie, maar haar ook aangemoedig “om groot te dink en verantwoordelikheid te neem vir my eie ontwikkeling”.

Sy beklemtoon dat die skool haar ’n stewige akademiese grondslag gegee het, “veral in wiskunde en fisiese wetenskappe, wat later noodsaaklik sou wees vir my studies in ingenieurswese”.

Vir Daniella was haar ontwikkeling egter nooit beperk tot die klaskamer nie.

“Buite die klaskamer het ons skool my ook belangrike lewensvaardighede geleer,” vertel sy.

Deur haar betrokkenheid by atletiek en netbal het sy geleer van leierskap, deursettingsvermoë en dissipline.

“Hierdie balans tussen akademie en sport het my geleer hoe om onder druk te presteer en as deel van ’n span te werk,” sê sy.

Sy praat met groot waardering oor die onderwysers wat haar pad help vorm het.

“Ek was baie bevoorreg om sterk ondersteuning van my onderwysers te ontvang,” sê sy. “Hulle het in my akademiese vermoëns geglo en my ook aangemoedig om verder te kyk as plaaslike grense.”

’n Motto wat sy van kleins af by haar pa geleer het, het diep posgevat.

“Your only limitation is your imagination,” is sy herhalende wysheid wat sy glo haar ingesteldheid beïnvloed het.

“Daardie ingesteldheid het my gehelp om nie my drome te beperk tot wat maklik of algemeen aanvaarbaar is nie, maar om te mik vir wat onmoontlik blyk te wees.”

Sy erken dat ’n loopbaan in lug- en ruimtevaart vir baie Suid-Afrikaanse leerders onrealisties klink, maar voeg by: “My skooljare het my die selfvertroue gegee om te glo dat ek internasionaal kan meeding.”


Op haar gradeplegtigheidsdag het Daniella Bezuidenhout die voltooiing van ’n intense akademiese fase aan Embry-Riddle Aeronautical University in Florida gevier. Die oomblik het vir haar jare se harde werk, deursettingsvermoë gesimboliseer sowel as die verwesenliking van ’n droom wat by Hoërskool Garsfontein begin het en internasionaal vlerke gekry het. Foto: Verskaf

Haar belangstelling in lugvaart het egter nie sonder huiwering begin nie.

“Ek was nog altyd gefassineer deur ruimte en alles daarbuite,” sê sy, “maar as ’n Suid-Afrikaner het ’n loopbaan in die ruimtebedryf lank onrealisties gevoel.”

Dinge het verander toe haar pa sy privaat vlieënierslisensie gekry het en haar op ’n vlug geneem het.

“Ironies genoeg was ek aanvanklik verskriklik bang om te vlieg,” vertel sy eerlik. “Daardie ervaring het my laat besef dat ek nooit weer so magteloos wil voel nie.”

Die ervaring het ’n beslissende skuif in haar houding teenoor die lewe tot gevolg gehad.

“Ek het besluit om self my privaat vlieënierslisensie te doen,” sê sy. “Dit was die oomblik waar my passie vir die lugvaartbedryf regtig begin het.”

Van daar af het haar drome verder gestrek. “Ek het besef dat ek nie net ’n passasier wil wees nie, maar iemand wat verstaan hoe alles werk en beheer kan neem.”

Vir haar gaan dit nie net oor tegnologie nie, maar ook oor haar bydrae. “Vir my gaan dit daaroor om by te dra tot die toekoms van lugvaart én ruimteverkenning.”

Haar huidige akademiese werkslading getuig van intense fokus.

“Ek het my baccalaureusgraad en nou ook my meestersgraad binne ’n baie kort tydperk aangepak,” sê sy. “My meestersgraad sal ek binne net 10 maande voltooi.”

Sy erken dat dit nie maklik was nie. “Dit het beslis intense akademiese druk meegebring,” sê sy, maar voeg by dat haar werksetiek en tydsbestuur haar deurgedra het.

“Ek glo sterk in ’n ‘work hard, play hard’ benadering,” verduidelik sy. “Ek het ongelooflik baie ure spandeer aan studie, navorsing en onderrig.”

Tog glo sy balans is noodsaaklik. “Om jouself soms te beloon, te rus en jou menswees te onthou, help jou om volhoubaar te presteer.”

Internasionale erkenning het gevolg toe sy as ’n wenner van Aviation Week Network se 20 Twenties-program aangewys is.

“Om as ’n wenner aangewys te word, is vir my ’n groot eer,” sê sy. “As ’n internasionale student in die Verenigde State is dit nodig om ekstra hard te werk om raakgesien te word.”

Sy beskryf die toekenning as bevestiging dat haar werk waarde toevoeg. Haar navorsing fokus op rotorgeraas en die ontwerp van stiller vliegtuie.

“In eenvoudige terme gaan my navorsing daaroor om te verstaan waar vliegtuiggeraas vandaan kom en hoe ons dit kan verminder,” verduidelik sy.

Vir Bezuidenhout is ingenieurswese ook ’n gemeenskapsverantwoordelikheid.

“Kennis is die een ding wat niemand van jou kan wegvat nie,” sê sy. “Dit is jou wapen.”

Deur mentorskap wil sy ander help om dit raak te sien. “Belegging in jou eie kennis gee jou vryheid en selfvertroue, ongeag waar jy jouself bevind.”

Wanneer sy oor die toekoms praat, is haar visie duidelik.

“Ek wil help om Suid-Afrika sterker op die wêreldkaart van lug- en ruimtevaart te plaas, en ons land meer sigbaar te maak binne die globale ruimtewedloop. Dit gaan vir my nie net oor persoonlike prestasie nie, maar oor die bou van ’n volhoubare bedryf waar Suid-Afrikaners aktief en betekenisvol bydra tot internasionale vooruitgang, terwyl hulle terselfdertyd hul eie gemeenskappe en land help ontwikkel.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button