Raadslid eis antwoorde ná dogter se dood in openbare hospitaal
’n Pretoria-raadslid soek duidelikheid oor sy dogter se dood by Steve Biko Akademiese Hospitaal. Die familie wag op forensiese en interne verslae om vas te stel of alle prosedures gevolg is tydens haar behandeling.

’n Raadslid van die Moot in Pretoria, Leon Kruyshaar, eis antwoorde ná die dood van sy 27-jarige dogter by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Desember verlede jaar.
Monique Kruyshaar (gebore 5 Januarie 1998) is op 15 Desember 2025 in die hospitaal oorlede nadat sy die vorige aand by ongevalle opgeneem is.
Haar pa sê die familie wag steeds op ’n volledige hospitaalverslag en ’n forensiese verslag om presies te verstaan wat gebeur het.
“Ons wil net weet wat het met ons kind gebeur,” sê Kruyshaar. “As daar prosedures is, wil ons weet of dit gevolg is. As daar foute was, moet dit erken word.”
Volgens Kruyshaar het sy dogter ’n geskiedenis van ernstige elektroliettekorte, veral kalium, ná ’n maagomleidingsoperasie jare gelede.
Hy sê sy het as jong volwassene aansienlike gewig verloor ná die operasie, maar dat sy daarna lewenslank vitamien- en mineraalaanvullings moes gebruik.
“Een van die grootste risiko’s was haar kaliumvlakke,” sê hy. “Sy het aanvullings elke dag geneem. Dit het meer as ’n duisend rand per maand gekos, maar dit was nodig.”
Kruyshaar vertel dat Monique se gesondheid op 15 Oktober 2025 in duie gestort het weens lae minerale soutvlakke en toe per ambulans na Steve Biko Hospitaal geneem is.
Sy is destyds regstreeks van die Ongevalle-afdeling na die intensiewe sorgeenheid geneem en het volgens hom aanvullings ontvang via ’n drup in haar nek waardeur die aanvullings toegedien is.
“Daardie keer het die proses vinnig verloop. Sy is getoets, behandel en het herstel,” sê hy.
In die eerste week van Desember het Monique egter weer begin kla oor ongesteldheid, insluitend hoofpyn.
Op 14 Desember is sy volgens haar pa na die hospitaal geneem nadat haar toestand versleg het.
Kruyshaar beweer dat die familie by die hospitaal se ongevalle-afdeling rondgestuur is en dat daar probleme was om haar vorige hospitaallêer op te spoor.
“Ons is van die een wagkamer na die ander gestuur,” sê hy.
Hy sê sy dogter het eers teen laat die aand ’n bed in die ongevalle-afdeling gekry en is nie na die intensiewe sorgeenheid oorgeplaas nie.
Volgens hom is daar die volgende oggend omstreeks 08:10 met verdere behandeling begin nadat bloeduitslae beskikbaar geword het.
“Ons is later meegedeel haar kaliumvlak was toe reeds baie laag,” sê Kruyshaar.
Op 15 Desember omstreeks 13:00 het ’n verpleegkundige hom gebel om te sê sy dogter is oorlede ná ’n hartstilstand.
“Hulle het gesê hulle het probeer om haar te resussiteer, maar dit was nie suksesvol nie,” vertel hy.
Kruyshaar sê die familie is diep getraumatiseer deur wat gevolg het en het op vergaderings met hospitaalbestuur aangedring.
“Om sulke weersprekende weergawes by hulle te hoor rondom haar afsterwe terwyl jy nog nie eens weet wat gebeur het nie, was verskriklik,” sê hy. “Ons dogter het planne gehad. Sy het uitgesien na ’n vakansie. Sy was besig met haar studies.”
Volgens hom is twee vergaderings met hospitaalbestuur reeds gehou. “Ons het gevra vir ’n volledige verduideliking van die tydlyn, veral wat het tussen middernag en agtuur die oggend gebeur? Wie het haar gemonitor? Watter behandeling is gegee?” sê hy.
Kruyshaar sê hy het ook onafhanklike mediese kundiges genader om die beskikbare inligting in konteks te plaas.
“Ek beskuldig niemand sonder feite nie,” sê hy. “Maar as kundiges vir my sê daar is moontlike proseduriële afwykings, dan moet dit ondersoek word.”
Hy voeg by dat die familie steeds wag op die amptelike hospitaalverslag en dat hulle meegedeel is daar sal koste verbonde wees aan sekere dokumentasie.
“Dit voel onregverdig dat ’n familie moet betaal om te verstaan hoe hul kind in ’n openbare hospitaal dood is,” sê hy.
Gesondheidskenners het Kruyshaar daarop gewys dat Monique se tekorte tydens haar kortstondige verblyf op 14 en 15 Desember ’n lewensgevaarlike toestand is wat hartritmestoornisse en hartstilstand kan veroorsaak.
Hy is deur die onafhanklike kenners meegedeel behandeling in sulke gevalle hang af van die erns van die tekort, die pasiënt se kliniese toestand en beskikbare hulpbronne.
Kliniese besluite word gewoonlik deur die behandelende span geneem op grond van bloeduitslae en monitering.
Kruyshaar sê sy stryd gaan nie net oor sy dogter nie.
“As alles reg gedoen is, sal ons dit aanvaar. Maar as daar leemtes was, moet dit reggestel word sodat ander families nie dieselfde pyn hoef te ervaar nie.”
Hy beskryf Monique as ’n jong vrou wat ná persoonlike uitdagings haar lewe wou herbou.
“Sy het deur baie gegaan, gesondheidskwessies en ’n egskeiding. Maar teen die einde van verlede jaar was sy weer gelukkig. Sy het weer gedroom,” sê hy.
Ironies genoeg het sy toe met studies in die regte met ’n fokus op mediese wanpraktyke begin.
Die familie oorweeg volgens hom verdere regsadvies, en ’n dossier is by die Sentrale polisiestasie geopen maar hy beklemtoon dat hul primêre doel tans duidelikheid is.
“Ons soek die waarheid. Dis al,” sê Kruyshaar. “’n Mens kan rou, maar jy kan nie vrede maak as jy nie weet wat gebeur het nie.”
Die uitslae van die forensiese ondersoek en die hospitaal se interne hersiening sal waarskynlik deurslaggewend wees om vas te stel of alle toepaslike prosedures gevolg is.
Tot dan glo Kruyshaar bly die familie met onbeantwoorde vrae en die hoop dat ’n volledige verslag lig sal werp op die laaste ure van ’n jong vrou wie se lewe skielik tot ’n einde gekom het.
Vrae is aan die Gauteng Departement van Gesondheid gestel, maar antwoorde is nog nie tydens publikasie ontvang nie en sal met ontvangs bygewerk word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel