EntertainmentLocal news

83-jarige Corlia dryf plaaslike Songs of Praise vorentoe

’n Toegewyde vrou neem weer die leisels om ’n grootskaalse Songs of Praise-vertoning in Queenswood aan te bied. Met ’n massakoor, orkes en bekende dirigente wys Corlia Hoeksma dat ouderdom geen keer aan deursettingsvermoë stel nie.

Op 83 pak Corlia Hoeksma weer ’n reuseprojek aan. Waar ander vrywilligers dalk sou terugstaan en sê hul tyd van organiseer is verby, het sy besluit om weer die leisels op te neem en nog ’n Songs of Praise-vertoning na Queenswood te bring.

Sy glimlag wanneer sy vertel hoe alles begin het.

“Dit het eintlik in 2024 begin. Die beligting in ons kerk by die NG Kerk Queenswood was nie heeltemal voldoende vir my om gemaklik te sien nie. Ek het toe gevra vir beter ligte, maar die kerk het nie fondse gehad nie. Ek het toe voorgestel dat ons ’n plan moet maak om fondse in te samel deur ’n konsert te hou.”

Daardie voorstel sou die begin wees van ’n merkwaardige reis.

Sy is gevra om met voorstelle vorendag te kom en het die idee met haar omgeegroep gedeel.

“Ek het vir hulle gesê ek het met die Songs of Praise-vertoning kennis gemaak toe ek nog in Mbombela in Mpumalanga gebly het. Ek het daar die uitvoering bygewoon van die vermaarde dirigent Richard Cock wat sulke vertonings jaarliks aangebied het. Dit was ’n wonderlike, sprankelende glansgeleentheid wat soveel goeie gevoelens tot gevolg gehad het.”

Die organiseerder van die Song of Praise vertoning vir 2025 en 2026, Corlia Hoeksma. Foto: Elize Parker

Sy het opnames van vorige uitvoerings aan die omgeegroep gespeel en die reaksie was onmiddellik positief.

“Hulle was begeesterd en het gesê dit is wat ons moet doen. Ons moet aangaan met die storie en ek moet uitvind hoe moontlik dit is.”

In Mei 2024 het sy die eerste keer kontak gemaak met Richard Cock.

“Hy het gesê dit is heeltemal moontlik. Maar hy het ook gesê ons moet self alles reël. Die gemeente moet die koor en begeleiding reël, die kaartjies, bemarking, alles. En baie belangrik, hy wil net met een persoon onderhandel en organiseer, nie met ’n klomp mense nie. Ek het my hand opgesteek en gesê ek sal daardie kontakpersoon wees.”

Saam het hulle na datums gekyk en 16 Maart 2025 het gekristalliseer as die beste opsie. Sy het terugvoer gegee aan die omgeegroep, dit by die leraars en kerkraad voorgelê, en toestemming is gegee om voort te gaan.

“Daardie wonderlike, lewensverrykende ervaring het begin momentum kry. Dit was ’n groot taak, maar soveel mense was as vrywilligers wonderlik betrokke.”

Sy het tientalle mense gekontak om deel te word van die gemeenskapskoor. Sy het musikante gewerf vir ’n ensemblegroep, name van oral gekry, en selfs die seunskoor van die Afrikaanse Hoër Seunskool betrek. Borge is genader. Oral het sy samewerking gevind.

“Die vertoning van 16 Maart 2025 was twee weke voor die tyd uitverkoop,” vertel sy. “Dit was ’n heerlike geleentheid. Die gevoel was dat ons dit weer moet aanpak.”

Die massakoor van sowat 80 sangers, saamgestel uit plaaslike gemeenskapskore en kerke in en om die Moot, vorm die hart van die Songs of Praise-vertoning van 2026. Onder leiding van dirigent Richard Cock bring hulle op 14 en 15 Maart kragtige koorwerke en lofliedere na Pretoria se koorliefhebbers. Die koor het onder die leiding van bekende koorleier Hannelie von Sittert in Februarie repeteer. Foto: Elize Parker

So is die Songs of Praise-vertoning vir 2026 vir 14 en 15 Maart vanjaar gebore.

Die vertonings het hul oorsprong in 1992 gehad, toe Richard Cock die Suid-Afrikaanse weergawe begin aanbied het ná ’n voorstel van eerwaarde Keith du Plessis.

Die konsep is geskoei op die bekende BBC TV-program Songs of Praise en fokus op gemeentelike lofsang en gemeenskapsdeelname.

Oor die jare het dit gegroei tot ongeveer tien uitvoerings per jaar regoor Suid-Afrika, met plaaslike orkeste en kore wat betrokke raak.

Vir koorliefhebbers in Pretoria beteken dit dat ’n massakoor van sowat 80 sangers, onder leiding van Richard Cock, weer die verhoog sal vul.

Bekende dirigent Hannelie von Sittert het met die voorbereiding van die koor gehelp. Foto: Elize Parker

Die program sluit bekende werke in soos die Slawekoor uit Nabucco van Verdi, die Nonnekoor uit Casanova van Strauss, ’n toonsetting Psalm 16 van Awie van Wyk, Pie Jesu van Andrew Lloyd Webber, en die Sanctus uit die St Cecilia Mis van Gounod. Die konsert sal ook verskeie soliste, ’n 15-stuk orkes en die orrelis prof. Theo van Wyk insluit.

Wat is die belangrikste boodskap wat sy met die uitvoerings wil oordra?

Sy antwoord sonder huiwering: “Ek het eintlik twee antwoorde. Hoe groot en wonderlik die Here ons dien en dat Hy waardig is om geprys te word met stem en snaar en elke instrument. Ons wil aan Hom ons lof en eer bring.”

Sy voeg by: “My gebed is dat almal wat hierdie uitvoering gaan bywoon, dit só sal ervaar en met ’n goedvoelgevoel sal uitstap.”

Sy glo om mense te motiveer om in ’n massakoor te sing, vra toewyding en persoonlike betrokkenheid.

“Die meeste is persoonlike kontakte. Ek vra mense om te kom aansluit. Daar is afkondigings in kerke gehou, in al die kerke in die omtrek en anderkant die berg in die ooste en oraloor. Koorlede vertel en bring hulle vriende saam, en in hul eie vriendekring kring die uitnodiging om aan te sluit gewoonlik vinnig uit.”

Wat haar egter die meeste tref, is die gees waarin alles plaasvind.

“Hierdie koor en orkes en die soliste word eintlik saamgebind en saamgedra deur welwillendheid van alle kante af. Elke koorlid en elke instrumentalis het so ’n positiewe uitwerking op die hele aanbieding. Ek kan net met groot dankbaarheid sê dankie vir die geleentheid om dit te kan doen. Ek is oorweldig deur die welwillendheid en die liefde van almal,” sluit sy af.

LEES MEER: Hoërskool Oos-Moot bullying video update: Expulsion decision still pending

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button