Melktertmeesters vier erfenis op Melktertdag
Moot-aftreeoord, Ons Tuis, het op 27 Februarie Nasionale Melktertdag gevier met ’n geurige melktertkompetisie met inskrywings van regoor Pretoria waar tradisie en bakvernuf ontmoet het. Wenners is aangewys, resepte is uitgeruil en stories van die ‘ou tye’ is gedeel, terwyl fondsinsameling ook die hart van die vieringe gevorm het.
Op 27 Februarie het melktertmeesters jonk en oud bymekaar gekom om Nasionale Melktertdag te vier,’n dag waarop nostalgie, familie-erfenisse en ook nuwe resepte hande gevat het.
By die aftreeoord Ons Tuis in die Moot het dié viering vanjaar ’n besondere stemming gehad toe inwoners en die gemeenskap hul beste melkterte ingeskryf het vir ’n feestelike kompetisie wat stories oor gebak, ’n lag en selfs ’n traan ontlok het.
Die oggend was gevul met die reuk van kaneel en warm melktert. Inskrywing na inskrywing het gespog met goudbruin korse, gladde vulsels en kreatiewe variasies.
Inskrywings het gewissel van streng tradisionele resepte tot verbeeldingryke weergawes met ’n moderne aanslag.
Die melkterte is ná beoordeling verkoop ten bate van ’n fondsinsameling vir Ons Tuis, terwyl deelnemers die kans gestaan het om ’n resepteboek, Ons Tuis-produkte en geskenkbewyse te wen.
Die wenner in die kategorie Tradisionele Melktert was Susan Pretorius, wie se resep volgens die beoordelaars presies daardie ‘delikate balans’ tussen soet, romerig en subtiel bedien met kaneel bereik het.

Pretorius glo “’n volle kaneelstokkie moet ook saam met die vulsel gekook word. Dit gee die ware smaak van romerigheid en geurigheid”.
In die afdeling vir Beste kors het Hannelie Pretorius van Oos-Moot Hervormde Gemeente die louere ingepalm met ’n skilferkors wat bros gebreek het sonder om droog te wees. En in die kategorie Melktert met ’n twist het Alta Reinecke uitgestaan met ’n nuwe suurdeegresep in ’n skilferkors – ’n bewys dat liefde en verbeelding die verskil maak.
Drie nie-tradisionele melkterte het besondere aandag getrek. Anelieze Treurnicht se glutenvrye melktert, spesiaal vir haar familie ontwikkel, het gewys dat dieetbeperkings geen struikelblok vir smaak hoef te wees nie. Reinecke se suurdeegskilferkors het gesorg vir ’n unieke tekstuur, terwyl Elsabé Gonin, ’n ervare basaarbakker, haar ma se nostalgiese resep gebak het, ’n tert wat volgens haar ‘oor en oor gedeel’ word en steeds herinneringe oproep.

Die beoordelaars, Verena du Preez, Lilian Erasmus en Mari-Lize Beukes, het fyn gekyk na detail. Volgens hulle begin ’n wenmelktert by ’n goudbruin kors wat egalig gebak is. Die vulsel moet ’n gladde oppervlak hê, sonder krake of borrels, en die smaak moet ’n fyn balans tussen melk, suiker, en kaneel handhaaf.
Tussen die proe en beoordeel deur is resepte-raad en wenke mildelik uitgeruil. Sommige bakkers glo om by verhitte melk te hou wat stadig by die eiermengsel ingewerk word om klonte te voorkom. Ander glo weer dat die geheim in die kors lê: om die botter yskoud te hou en die deeg so min moontlik te hanteer.

Daar is selfs ’n melktertgedig voorgelees, wat die oggend se atmosfeer van tradisie versterk het. Daar is ook oor die geskiedenis van melktert uitgewy.
Die oorsprong van melktert strek eeue terug. Reeds 2 000 jaar gelede was die Romeine lief vir eiervla, soet én sout. Mettertyd het streng vasdagreëls in die Katolieke Kerk veroorsaak dat monnike en nonne kreatiewe plaasvervangers vir vleis en suiwel ontwikkel het.
Amandelpap, gemaak van amandelmelk en gegeur met gemmer en kaneel, is agter kloostermure tot perfeksie verfyn. Hierdie tradisie van romerige, ligte vla-geregte het uiteindelik deel geword van Europese kookkuns.
Die Suid-Afrikaanse melktert se storie begin in 1652 met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap. Binne maande is ’n melkboerdery gevestig, wat die basis gelê het vir ryk melkgeregte. Speserye soos kaneel en neutmuskaat was reeds algemeen in Hollandse kookkuns, en terte is lank voor die Kaapse vestiging in Nederland gebak.
Aanvanklik was daar ’n tekort aan eiers. Meel is eers uit Holland ingevoer totdat plaaslike koringverbouing die Kaap selfvoorsienend gemaak het.
Mettertyd het die melktert ’n unieke Suid-Afrikaanse identiteit ontwikkel, ligter as baie Europese vla-terte, met ’n sagte, amper skuimerige tekstuur en ’n kenmerkende kaneellaag bo-op. Dit het ’n staatmaker geword by basaars, kerkfeeste en familiebyeenkomste.
LEES MEER: Oorlogsroman skets ’n vervloë Pretoria se rol in Boereoorlog
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
