Local newsSchools

Bewusmaking word al dansende gedoen

Kinders van twee skole het saam gedans, plantjies geplant en kreatiewe aktiwiteite geniet tydens ’n bewusmakingsdag vir Down-sindroom op 21 Maart. Die geleentheid het die waarde van gemeenskapsamewerking en geleenthede vir jongmense met spesiale behoeftes beklemtoon.

Leerders van Club21-leersentrum en Laerskool Swartkop het op 13 Maart ’n oggend van pret en bewusmaking saam in Lyttelton beleef toe die twee skole se leerders deelgeneem het aan verskeie aktiwiteite om begrip vir mense met Down-sindroom te bevorder.

Tshedi Legae en Seth Cusack Foto: Elize Parker

Die geleentheid vorm deel van bewusmaking rondom Internasionale Down-sindroomdag wat op 21 Maart gevier word, maar waarvan die vieringe regdeur Maart plaasvind.

Club21-leersentrum spesialiseer daarin om leerders met Down-sindroom voor te berei om selfstandig en met selfvertroue te kan optree.

Tydens die dag het ’n span van Solidariteit Helpende Hand, onder leiding van Liani Louw, saam met die laerskoolleerders uitgereik om ’n positiewe en opbouende ervaring te skep.

Leerders van die twee skole het saam gedans op bekende liedjies soos die Macarena en Jerusalema.

Daar was ook verskeie aktiwiteitstasies waar die leerders kon saamwerk en nuwe vaardighede ontwikkel. Dit het onder meer ingesluit om torings met malvalekkers en stokkies te bou, plante in houers uit te plant en kunsprojekte te voltooi.

Maretha Stoltz, ‘n onderwyseres by Club21-leersentrum. Foto: Elize Parker

Amanda Fourie, skoolhoof van Club21-leersentrum, sê die sentrum bestaan reeds 14 jaar. Sy is al vyf jaar by die skool betrokke.

“Ons wil as inklusief behandel word. Ons leerders wil waardeer word en geliefd voel,” sê Fourie.

Sy verduidelik dat die sentrum daarop fokus om leerders toe te rus sodat hulle aktief aan die samelewing kan deelneem.

“Ons wil benadruk dat ons leerders ook aan alle samelewingsaktiwiteite wil deelneem. Ons wil hulle toerus dat hulle met selfvertroue vorentoe kan gaan.”

Volgens Fourie inspireer die leerders haar van dag tot dag.

“Die leerders bring vir my soveel vreugde. Ek het by hulle geleer om vas te byt, want niks gebeur maklik vir hulle nie, maar hulle het die moed om moeilike take aan te pak.”

Club21-leersentrum bied ook praktiese vaardigheidsopleiding aan om leerders voor te berei vir moontlike werksgeleenthede. Sommige leerders werk byvoorbeeld Vrydae in die sentrum se teetuin waar hulle opgelei word as baristas en kelners.

Daar bestaan ook memorandums van ooreenkoms met verskaffers van koffie en eienaars van koffiewinkels wat bereid is om leerders, saam met ’n arbeidsafrigter, ’n kans te gee om hulself in ’n werksomgewing te bewys.

Benewens die koffiewinkelopleiding is daar ook geleenthede vir opleiding in haarversorging en geleenthede om te leer om in ’n skoonheidsalon te werk.

Leerders kry verder praktiese blootstelling deur aktiwiteite soos pannekoekverkope by besighede, self te hanteer.

Die sentrum werk tans vanaf die terrein van die NG Kerk Doringkloof, wat volgens Fourie vir baie jare al ’n tuiste vir die projek bied.

Sy sê hul droom is om eendag hul eie gebou met werkswinkels op te rig waar leerders nog meer praktiese opleiding kan ontvang.

“Ons het wonderlike personeel wat almal bereid is om te help, en ons droom is om eendag ons eie doelgerigte geboue te hê waar ons nog meer kan doen,” sê sy.

Elria Geerlings, skoolhoof van Laerskool Swartkop, sê hul skool se Liefdadigheidskomitee neem graag deel aan sulke uitreikaksies omdat dit leerders help om deernis en begrip te ontwikkel.

“Dit is vir ons leerders se ontwikkeling as omgeemense belangrik dat hulle leer om almal in die samelewing raak te sien en ook om te leer jy gee nooit op nie,” sê Geerlings.

Sy voeg by dat die skool dankbaar is vir die geleentheid om saam met die leersentrum bewusmaking te doen.

Louw sê die organisasie is dankbaar vir die geleentheid om saam met die leerders en skole betrokke te wees.

“Ons is dankbaar dat ons ’n pad kan stap met die spesiale groep mense,” sê Louw. “Hulle is naby aan ons harte.”

Fourie nooi enigiemand uit wat meer inligting wil hê of wat hulp wil aanbied, om die sentrum te kontak by principal@club21school.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button