Dinokeng-jagluiperds help om Zambië se bevolking te herstel
’n Geskiedkundige internasionale bewaringsprojek poog om die spesie ná meer as 30 jaar na Zambië se Greater Luangwa-ekostelsel terug te bring. Die projek beklemtoon Dinokeng se groeiende rol in Afrika se jagluiperdbewaring en toekomstige internasionale hervestigingsprogramme.
Twee jagluiperds uit Dinokeng Wildreservaat naby Pretoria het ’n belangrike rol gespeel in ’n internasionale bewaringsprojek wat die bedreigde spesie ná meer as 30 jaar na Zambië se Greater Luangwa-ekostelsel terugbring.
Die twee is deel van ’n groep van ses jagluiperds, bestaande uit drie mannetjies en drie wyfies, en is vanuit Suid-Afrika na Zambië verskuif as deel van ’n langtermynprojek om ’n selfonderhoudende bevolking te vestig.
Die hervestiging is die hoogtepunt van meer as ’n dekade se beplanning en internasionale samewerking onder leiding van Zambië se Departement van Nasionale Parke en Natuurlewe.
Dinokeng Wildreservaat het twee van die ses diere vir die eerste fase van die hervestigingsprojek verskaf en sodoende die reservaat se rol in streekbewaring van jagluiperds verder bevestig.
Hoofbestuurder van Dinokeng Wildreservaat, David Boshoff, sê die reservaat is trots om weer deel te wees van ’n projek wat daarop gemik is om die toekoms van die jagluiperd te help verseker.
Hartogh Streicher, voorsitter van die Dinokeng Wildreservaatbestuursvereniging, sê die reservaat het reeds met trots aan verskeie jagluiperd-hervestigingsprojekte deelgeneem deur Suid-Afrika se metapopulasieprogram.

Hy sê hy sien daarna uit dat Dinokeng in die toekoms as ’n kwarantynstasie vir soortgelyke projekte gebruik sal word.
Die reservaat se hoofkantoor is nou binne die reservaat gevestig om ’n kwarantynfasiliteit toe te rus sodat diere wat hervestig word, veral na bestemmings buite Suid-Afrika, nie meer na Noordwes of Mpumalanga vervoer hoef te word voordat hulle verskuif word nie.
Die projek word ondersteun deur ’n koalisie van bewaringsorganisasies, Bedreigde Natuurlewe Trust, Afrika Streekwye Jagluiperd Bewaringsinisiatief, die Dierkundige Vereniging van Londen, die North Luangwa Bewaringsowerheid, die Frankfurt Dierkundige Vereniging, die Zambiese Roofdierprogram en Bewaring Suid-Luangwa.
Befondsing word deur die Howard G. Buffett-stigting verskaf, terwyl die Bedreigde Natuurlewe Trust (BNT) ook ondersteuning van die Ford Wildlife Foundation ontvang.
BNT-woordvoerder Eleanor Momberg sê die hervestiging bring jagluiperds terug na ’n gebied waar die laaste bevestigde waarnemings in 1998 aangeteken is.
Sy verduidelik die projek beoog om minstens 18 jagluiperds oor twee jaar in die Luangwa-landskap te hervestig. Die eerste ses diere het in Julie aangekom, terwyl ’n tweede groep later vanjaar en ’n derde groep in 2027 verwag word.

Die ses jagluiperds is deur die BNT uit Suid-Afrikaanse private wildreservate gekies, met spesifieke aandag aan genetiese diversiteit, ouderdom, geslag en vorige blootstelling aan mededingende roofdiere.
Benewens Dinokeng het Thanda Private Game Reserve, Manyoni Game Reserve en Nkomazi Game Reserve ook diere vir die projek beskikbaar gestel.
Die jagluiperds is eers na WildlifeVets.com se fasiliteit naby Mbombela geneem waar hulle ’n kwarantyntydperk voltooi het voordat hulle per vliegtuig na ’n afgeleë deel van Noord-Luangwa Nasionale Park in Zambië vervoer is.
Momberg verduidelik met hul aankoms is die diere vir tussen twee en vier weke in aanpassingskampe geplaas om seker te maak hulle is gesond en stabiel ná die lang vervoerproses.
“Daarna sal hulle in twee fases vrygelaat word. Sommige sal eers in ’n roofdierbestande reservaat van 2 000 hektaar geplaas word waar hulle hul nuwe gebied kan merk en gewoond raak aan die omgewing voordat hulle in die groter ekostelsel losgelaat word. Ander sal regstreeks in die natuur vrygelaat word voordat die volgende groep by hulle aansluit,” sê Momberg.
Al ses jagluiperds is met satelliethalsbande toegerus. Spanlede van die Zambiese Roofdierprogram, saam met veeartse en internasionale spesialiste, sal die diere deurlopend monitor om hul bewegings, gedrag en wisselwerking met die omgewing te volg.
Sy beklemtoon dat die hervestiging volg op jare se wetenskaplike navorsing, habitatstudies en uitgebreide konsultasie met bewaringskundiges en belanghebbendes.
“Omvattende habitatontledings is gedoen om die geskikste vrystellingsgebied te bepaal, waarna verskeie moontlike terreine geëvalueer is voordat die finale ligging gekies is.”
Die projek is in ooreenstemming met Zambië se Nasionale Bewaringsaksieplan vir jagluiperds en wildehonde en geniet die steun van die Ministerie van Toerisme, die Departement van Nasionale Parke en Natuurlewe en Sy Koninklike Hoogheid Hoofman Nabwalya van die Munyamadzi Wildbestuursgebied.
“Die bewaringsinisiatief sluit ook werksgeleenthede en ondersteuning vir afgeleë gemeenskappe in die Munyamadzi-gebied in. Die vennote beklemtoon dat die langtermynsukses van jagluiperdbewaring nou verweef is met die welstand van mense wat saam met wild leef,” sê Momberg.
Jagluiperds het vroeër oor groot dele van Afrika en Suidwes-Asië voorgekom, maar hul verspreidingsgebied het oor die afgelope eeu drasties gekrimp.

Die wêreldbevolking word tans op ongeveer 6 500 volwasse diere geraam, met getalle wat steeds afneem.
Oor die afgelope 15 jaar het die bevolking na raming met sowat 37% afgeneem weens habitatverlies, konflik tussen mense en wild, onwettige handel in wild en afnemende prooidiergetalle.
Hoewel Suider-Afrika steeds een van die belangrikste vestings vir die spesie is, word bevolkings toenemend deur habitatversplintering en groeiende menslike ontwikkeling bedreig.
Suid-Afrika se netwerk van omheinde wildreservate speel ’n belangrike rol in die bewaring van die spesie deur ’n gekoördineerde metapopulasiebestuursprogram wat genetiese diversiteit en bevolking-stabiliteit bevorder.
Die BNT het dié metapopulasieprogram in 2012 saam met grondeienaars, en provinsiale en nasionale owerhede begin.
Momberg wys daarop dat die bestuurde bevolking teen ’n gemiddelde jaarlikse groeikoers van 8.8% toegeneem het, wat dit moontlik gemaak het om diere vir strategiese hervestigingsprojekte soos dié in Zambië beskikbaar te stel.
“Die terugkeer van jagluiperds na Zambië vorm deel van ’n groter visie om die spesie oor meer as sewe miljoen hektaar geskikte beskermde habitat te hervestig waar dit histories voorgekom het,” volgens Momberg.
Bewaringsvennote hoop die projek sal uiteindelik ’n selfonderhoudende jagluiperdbevolking in die Greater Luangwa-ekostelsel vestig en terselfdertyd die langtermynoorlewing van een van Afrika se mees bedreigde groot roofdiere versterk.
Vir Dinokeng Wildreservaat is die bydrae van twee jagluiperds nóg ’n belangrike mylpaal wat die reservaat se rol in internasionale bewaringsinisiatiewe bevestig en die weg baan vir groter betrokkenheid by toekomstige hervestigingsprojekte deur sy beplande kwarantynfasiliteit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
