Oostelikes kry permanente Carltonbeker status
Die Oostelikes/Eagles Rugbyklub het verlede week tydens hul jaareindfunksie genoeg rede gehad om fees te vier.

Behalwe vir hul puik prestasie in vanjaar se Carltonbekertoernooi, waar hulle van die laaste plek in 2012 tot in vanjaar se finaal gevorder het, het hulle verlede week ook die goeie nuus ontvang dat die Bloubul Rugby-unie hul permanente Carltonbeker status goedgekeur het.
Dié klub het die afgelope twee seisoene met spesiale vergunning aan die Carltonliga deelgeneem, maar hul drastiese verbetering in vanjaar se reeks was deurslaggewend in die unie se besluit om hulle ’n permanente deel van dié top liga te maak.
Lede en die bestuur van die klub wag nou ook in spanning om te hoor of hulle een van die gelukkige oopklubs sal wees wat ingevolge die sogenaamde “wildcard”-stelsel toegelaat gaan word om volgende jaar ook aan die Gemeenskapsbekerreeks deel te neem. Hulle is een van die kandidate vir hierdie vergunning, aangesien hulle as die Blou Bulle se tweedebeste oopklub op die Carltonbeker punteleer geëindig het in vanjaar se liga.
Centurion rugbyklub het as die Blou Bulle se top oopklub outomaties vir deelname aan die Gemeenskapsbekerreeks gekwalifiseer.
Oostelikes/Eagles groei steeds en hul sukses is onderstreep by hul jaarfunksie, toe verskeie van die klub se spelers ook erkenning gekry het vir prestasies buite klubverband. Sommige van die klub se junior spelers het vanjaar vir die Pumas se o.21 span uitgedraf, terwyl daar ook van die spelers was wat ná die klubseisoen vir die Valke Curriebekerrugby gespeel het.
Die voorsitter van die klub, Willem Strauss, het in sy toespraak gesê dat die klub volgende jaar nog hoër moet mik. Waar verskeie van hul spanne vanjaar finale gehaal het, moet hulle volgende jaar daarna streef om in daardie finale te wen en bekers vir die klub in te palm.
Verskeie spelers en administrateurs is vir hul bydrae deur die seisoen vereer en die puik senter, Jurgen Lochner, is as die klub se Speler van die Jaar aangewys.