Sport

The Unlimited Titans kry ’n sewes rugbyspan

’n Span van die Titans gaan nou ook aan ’n sewes rugbytoernooi deelneem.

Kort op die hakke van die nuus dat die Proteas en die Springbokke eersdaags op die krieketveld slaags gaan raak, het The Unlimited Titans ook nou betrokke geraak by ’n opwindende toernooi waar die ovaalbal betrokke is.

Dit beteken dat die drie grootste sportsoorte in Suid-Afrika, rugby, sokker en krieket, op 13 en 14 Desember in George in die Suid-Kaap een groot familie gaan word, want op daardie twee dae gaan die sokkerspan, Kaizer Chiefs, ook van balle verander.

Die George Premierliga Sewes Toernooi is verlede jaar vir die eerste keer aangebied en dit was onmiddellik ’n reuse sukses. Dié stad het ’n jarelange verbintenis met sewesrugby en die toernooi word baie goed ondersteun. Die toernooi word weer op Outeniqua Park in George aangebied.

Kaizer Chiefs se span was verlede jaar een van die groot gunstelinge by die toernooi, veral weens bekende name soos Breyton Paulse en Makhaya Ntini wat vir dié span uitgedraf het.

Vanjaar het The Unlimited Titans besluit om deel te word van hierdie sewes rugbyfees deur ook ’n span in te skryf wat onder dié gewilde krieket franchise se vaandel sal deelneem.

Ongelukkig sal geen bekende krieketspelers in aksie wees nie, omdat hulle tans besig is met die nasionale Sunfoil vierdagreeks.

The Unlimited Titans het egter een van die mees gerespekteerde rugbyafrigters in die land nadergehark om hul sewesrugby span af te rig. Jimmy Stonehouse het geen bekendstelling in rugbykringe nodig nie. Hy is die afrigter van die suksesvolle Pumas rugbyspan van Mpumalanga, wat vanjaar onoorwonne was in die Eersteliga-afdeling van die Curriebekerreeks. Sy span is intussen ook bevorder tot die Premierliga van die Curriebeker, nadat hulle Griekwas in die promosie/relegasiestryd geklop het.

Stonehouse sal van die beste spelers by die Pumas gebruik om in die kleure van The Unlimited Titans in die George Premierliga Sewes Toernooi te speel. Manne soos JW Bell, Rosco Speckman en Danwell Demas het al vir die Springbokke se sewes span uitgedraf, terwyl ander soos Coenie van Wyk, Frank Hurn en Jaco Bouwer se vermoëns met die ovaalbal in die hand welbekend is.

Jacques Faul, hoof uitvoerende beampte van The Unlimited Titans het by die bekendstelling van die span gesê hulle beskou hierdie as ’n geleentheid om die Titans as ’n handelsnaam uit te brei. Hy het ondersteuners ook verseker dat die manne wat in The Unlimited Titans se trui op die sewes rugbyveld gaan opdraf nie net daar gaan wees om die getalle vol te maak nie. Faul het gesê hulle het Stonehouse juis genader om die span te brei, omdat hulle sy vermoë tot sukses ken en vertrou. The Unlimited Titans neem dus aan George Premierliga Sewes Toernooi deel om dit te wen. Die wenspan sal wegstap met die prysgeld van R1-miljoen.

Die promotor van die toernooi, Willem Strauss, het sy tevredenheid uitgespreek met die feit dat al drie die groot sportsoorte in Suid-Afrika vanjaar op die toernooi betrokke gaan wees. Strauss het gesê The Unlimited Titans baie vir sewesrugby kan beteken, omdat hulle ’n nuwe gehoor na die sport kan lok met hul deelname aan hierdie toernooi.

Met die oog op die Olimpiese Spele van 2016 en die feit dat sewesrugby deel van dié spele gaan wees, kan hierdie ontwikkeling net positief wees vir die sport, want dit sal nie net die toeskouers se belangstelling uitbrei nie, maar ook beslis nuwe spelers lok om by die sport betrokke te raak, het Strauss gesê.

Volgens Strauss gaan vanjaar se toernooi groter en beter wees as verlede jaar se eerste poging. Nuwe name en baie bekende gesigte gaan betrokke wees, het hy belowe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button