Geen Victor Matfield in Bulls se spanne vir Polokwane
Die groot afwagting oor die toekoms van Victor Matfield het toe op niks uitgeloop toe die Vodacom Bulls se bestuur Woensdag by Loftus Versfeld hul spanne bekendgemaak het vir eerskomende Saterdag se wedstryde in Pietersburg nie. Toe die spanlyste uitgedeel is, was Matfield se naam nêrens te sien nie. Op ’n vraag aan Frans Ludeke …
Die groot afwagting oor die toekoms van Victor Matfield het toe op niks uitgeloop toe die Vodacom Bulls se bestuur Woensdag by Loftus Versfeld hul spanne bekendgemaak het vir eerskomende Saterdag se wedstryde in Pietersburg nie.
Toe die spanlyste uitgedeel is, was Matfield se naam nêrens te sien nie. Op ’n vraag aan Frans Ludeke oor die aangeleentheid het hy net aangedui dat hy geen kommentaar daaroor het nie. Hy het inderdaad bevestig dat sy mond deur die ringkoppe op Loftus Versfeld oor die saak gesnoer is.
Dat Matfield se terugkeer as speler wel op die tafel is, blyk nou ’n feit te wees. In die wandelgange op Loftus Versfeld word daar egter gefluister dat die amptelike aankondiging hieroor teruggehou word weens probleme met Matfield se kontrak met die Bulls.
Hierdie saak kan uiteindelik ernstige gevolge hê vir die hele plan om Matfield weer te laat speel. Dit is ’n ope geheim dat die dryfkrag agter die hele poging om hom weer in aksie te sien, van Heyneke Meyer as Springbok-afrigter kom. Meyer kan egter nie uit die bloute vir Matfield ’n nasionale kontrak aanbied nie, wat dus beteken hy sal homself eers in die Bulls se SuperRugby-veldtog moet bewys om sy moontlike plek in die Springbokspan te regverdig.
Die Bulls het egter reeds vier top slotte in hul SuperRugby-groep aangewys, terwyl daar baie talent is onder die junior slotte op Loftus. Die kans is dus goed dat die Bulls se bestuur nie so naarstigtelik op soek is na Matfield se dienste soos wat Meyer dalk is nie.
Die probleem is egter dat Matfield nie vir kleingeld vir die Bulls sal speel nie, terwyl die Bulls bekend is daarvoor dat hulle streng volgens hul begroting optree. Aan die ander kant wil Matfield homself nie in die voet skiet nie, want hy het reeds ’n senior afrigtingskontrak by die Bulls, waar hy die SuperRugby- en Curriebekerspanne se voorspelers brei.
Administratiewe probleme en geld kan dalk nog die hele poging om Matfield na die speelveld te laat terugkeer, kelder.
